Tien vrae aan Izel Bezuidenhout, wat die rol van Poppie in die nuwe fliek, Flatland, speel
Wanneer het jy geweet jy gaan aktrise word?
Die dramagogga het my gebyt toe ek nog baie jonk was en ek was altyd mal oor stories vertel, maar op die ouderdom van 11 het ek op ’n rolprentstel gaan kuier (Roepman). Dit was vir my ’n ongelooflike ervaring. Om te sien hoe die akteurs gewerk het voor die kamera en ook wat alles agter die skerms gebeur, het my sommer stom geslaan. Dit was die oomblik wat ek geweet het, ek wil ’n aktrise wees!
Het jy tussen ‘n dramagraad en studies in Amerika gewik en weeg?
Ek het baie daaroor gedink om ’n dramagraad te gaan studeer, maar van kleins af was dit my grootste droom om New York toe te gaan en daar te studeer. Toe dit tyd word om te kies, het ek die groot besluit geneem om my droom te volg en ek is nie een dag spyt nie!
Hoe besluit jy om ’n rol aan te neem – trek die teks jou, of is dit die ander spelers, of die regisseur?
Dis eintlik elke keer iets anders wat my na ’n rol toe aantrek. Die storie en karakter is vir my baie belangrik. Ek probeer altyd karakters speel, wat ek nog nooit van tevore gespeel het nie, karakters wat my uitdaag … en as die storie vir iemand iets kan beteken of hulle inspireer is ek dadelik geboei. Die regisseur speel ook altyd ‘n groot rol in my besluit.
Is jy soms spyt jy het so vroeg begin toneelspeel en dat jy dalk kosbare kinderjare hierdeur verloor het?
Ek het baie kinderjare verloor en moes al vir baie goed ‘nee’ sê, wat op ’n jong ouderdom vir ‘n mens belangrik was soos partytjies of vakansies weggaan, maar ek verruil dit vir niks! Ek is so gelukkig dat ek van kleins af geweet het wat my passie is en dat ek die geleenthede gekry het om dit te kon uitleef. En as ’n mens eintlik mooi dink, toneelspel. Ons speel toneel! Die woorde sê dit! Ek het net altyd gespeel op die verhoog of voor die kamera en nou is ek bevoorreg om dit my loopbaan te kan maak.
Watter rol speel jou ouers in jou lewe en besluite?
My ouers speel ’n baie groot rol in my lewe. Hulle het my nog altyd ondersteun in al die besluite wat ek neem en hulle is altyd daar vir my. Ek is so bevoorreg om my ma ook my beste vriendin te kan noem! Sy is my grootste ondersteuner en ek kan haar altyd vertrou behalwe as dit kom by Rummicub.
Wat is die een ding wat jou ma jou geleer het, wat jy gereeld toepas?
Sjoe, ek sal ‘n hele boek kan skryf ook alles wat my ma my geleer het. Maar iets wat ek definitief nou baie in my lewe toepas, is om nooit op te gee nie. Om altyd op te staan na ek geval het en weer te probeer tot ek iets regkry. Sy se altyd “as dit nie okay is nie, is dit nog nie die einde nie”
Watter regisseur het jou al die beste raad gegee en wat was dit?
Die regisseur van Dis Ek, Anna (Sara Blecher). Sy het vir my geleer dat ek enige karakter kan speel, maak nie saak of ek nog nie in my eie lewe deur die dinge gegaan het, as wat my karakter deurgaan en ervaar nie. Dat ek met harde werk myself in enige karakter se skoene kan plaas en dit geloofwaardig kan vertolk – al is sy dalk die teenoorgestelde van wie ek is.
Som jouself in vyf woorde op?
Lojaal, optimisties, dromer, betroubaar, vriendelik.
Watter boek het die grootste indruk op jou lewe gemaak?
Ek gaan eerlik wees … Ek hou nie baie van lees nie. Maar die boek, Dis ek, Anna, het die grootste indruk op my gemaak. Ek het baie beskermend grootgeword en toe ek die boek lees, het ek bewus geword van die lewe en die grusame dinge waardeur ander mense gaan. Ná die boek is ek baie meer bewus van die mense om my en glo ek altyd dat jy nie iemand moet oordeel voor jy nog nie in hul skoene geloop het nie.
Het jy iemand spesiaal in jou lewe en indien wel, wat het jou aangetrek en is julle in dieselfde bedryf?
Nie op die oomblik nie. Ek was in ’n verhouding waar baie druk op my geplaas is om my drome en liefde vir drama op te gee omdat hy nie geglo het dat dit ’n ‘regte’ beroep is nie. So vir nou wil ek eerder myself beter leer ken, bietjie die wêreld toer en al my drome najaag sonder om vasgevang te word deur iemand anders se opinie.
Maryke is ’n ervare joernalis, wat haar liefde vir reis, mense, boeke, teater en lekker kos en wyn, op hierdie manier kan uitleef. Sy was al op elke uithoek van die aardbol – bo die wolke; in ’n lugballon; onder die water in ’n duikboot en onder die grond in tonnels – en gaan nêrens sonder haar reisgenoot, eggenoot en mede-joernalis, Clifford nie. Sy glo die lewe is te kort vir slegte koffie.