Stian het die gesogte trofee as beste akteur by die 9de kykNET Silwerskermfees ingepalm vir sy rol in Die verhaal van Racheltjie de Beer
Watter uitdagings het die verfilming aan julle as akteurs gestel – die uiterste weer met loeiende winde en stof, hoe styg jy bo dit uit en druk deur?
Met alle flieks is daar dag- en aandtonele. So mens is voorbereid vir die uitdagings omdat jy die teks gelees het. Die praktiese uitvoering is natuurlik ’n perd van ’n ander kleur. Akteurs is gelukkig. Ons het ’n afdak en stoele. En in die aand het ons verwarmers, wat ons warm hou. Kostuums gee vir ons warm klere terwyl jy wag. So die natuurlike elemente is minder moeilik vir ons. Dis die ander departemente wat in die gure weer moet aangaan. Ek dink dit is duisend keer erger vir hulle. Wat wel moeilik is, is om vieruur die oggend ’n emosionele toneel te skiet. Maar dit is deel van jou werk, hulle betaal jou om dit te doen, so jy berei voor en jy fokus en jy doen dit. Soos Michael Caine sê: Almal is daar in die koue en die wind om alles reg te kry sodat jy jou beste performance kan gee. So, grow a pair en doen jou werk. Dit was die eerste keer wat ek met windmasjiene en die sneeu geskiet het. Dit het uiteraard sy eie uitdagings. Dit dra natuurlik baie by tot die outentieke gevoel wat jy moet probeer simuleer. Want daai masjiene is sterk. Dit was groot pret om dit te doen. Ek het wel ’n ooginfeksie gekry van die stof en goed wat heeltyd in mens se oë waai. Gelukkig het ek ’n fantastiese oogkundige, wat my vinnig gehelp het met druppels, en die grimeringspan het my gereeld gedokter.
Die plaashuis wat julle gekry het op die plaas Tierhoek, se opstal en buitegeboue dateer uit die 1870’s en was onaangeraak deur moderne geriewe soos telefoondrade of kragpale. Hoe dra hierdie omgewing by tot jou voorbereiding van ’n geloofwaardige karakter?
Ons was baie gelukkig om die plaas te kon kry. Dit het dit moontlik gemaak dat baie van die fliek op een plek te kon skiet. Chantel Carter is ’n fenomeen, ’n kunstenaar met die wonderlikste visie. Sy en haar span het ’n omgewing geskep, wat dit moontlik gemaak het vir ons om niks anders te doen as om die storie te vertel nie. En dit is tog maar wat van jou verwag word. Om die storie te vertel. En as daar minder aan die verbeelding oorgelaat word, is die storie se vertelling soveel meer konkreet en eg. Ek dink dis waarna enige akteur streef. Om so eerlik en eg as moontlik te wees aan die storie en die karakter. Maar vir dit moet alle elemente saamkom. Die kunsdepartement, die rekwisiete, die kostuums, alles wat saam werk om die kamera te oortuig dat alles wat jy sien, iets werklik is. Al die ander departemente doen die werk vir jou, jy moet net sorg dat jy jou woorde ken, op die regte plek staan en sorg dat jy eerlik is.
Hoe maklik of moeilik is dit om met kinderakteurs te werk, veral as hulle so jonk soos Johannes Jordaan is? Wat bring ’n kinderakteur na die skerm waarvoor niemand kon voorsien nie?
Die wonderlike ding van kinders, is dat hulle hulself maklik aan fantasie kan oorgee. Hulle is spontaan en reageer eerlik in die oomblik. Dit is waar hulle sjarme lê. Daar is geen ego nie, hulle bevraagteken hulself nie die heeltyd nie. Hulle reageer op ’n instink, wat nog nie selfbewus is nie. Kinders reageer op die onmiddellike behoefte. Hulle wil speel en eet en slaap. Verken en leer. Daarin is daar dalk struikelblokke waarom ’n filmspan moet werk, maar jy weet jy werk met ’n kind, so dit is iets waarvan almal bewus was. Johan Kruger is ’n uitsonderlike vervaardiger, wat alle probleme lank voor die tyd kan identifiseer en dan alreeds vele oplossings het.
Johannes se ma, Ilse, was soos ‘n engel. Sy is ’n ongelooflike mens en ek haal my hoed af vir haar met wat sy reggekry het met Johannes. Sonder haar sou dit baie anders uitgedraai het. Johannes is ’n bondel liefde en hy het so maklik en vinnig almal aanvaar en ingekoop in die idee van sy rol en funksie in die film. Zonika is natuurlik ouer, maar ek sien haar nie onder die idee van ’n kind as dit kom by hierdie vraag nie. Ek sien haar eerder as ’n kollega. Sy is ’n baie slim en talentvolle kind. Sy was die een wat Johannes onder beheer gehad het op stel. Sy het baie hard gewerk en het nooit gekla nie. Ek dink sy het nog ’n groot toekoms.
Jy werk die afgelope paar jaar by die US Stellenbosch se dramadepartement. Voel jy dat jou werk daar jou verhinder om lank aan projekte te werk en dit jou inperk of maak jy tussendeur tyd?
Ek werk nooit regtig lank daar nie. Dit is nie ’n permanente posisie nie, so ek hanteer dit maar soos enige kontrak. In 2019 het ek ’n lang kontrak geteken, maar dit was net vir die jaar. Die kontrak is nou uitgedien en dan soek mens ander werk weer. Ja, dit keer jou om sekere ander werk te doen, maar soos met alle kontrakte wat ek aangaan weet jy waarin jy jou begewe, so ek is baie rasioneel daaroor. Tog gee die universiteit jou wel die geleentheid om ander goed te doen in die ure buite jou kontrakure met die studente.
Hoe voel dit om met die talent van môre te werk? Skerp dit jou vaardighede terselfdertyd op?
Hulle leer mens baie. Ek dink dit is omdat jy na jouself meer krities moet kyk as voorbeeld. En ook jy moet altyd deur die basiese stappe gaan en dis altyd goed om dit op te skerp. ’n Mens raak soms laks, deur net aan te neem jy het sekere dele van ’n proses nie meer nodig nie, en dis gevaarlik. En jy bou ’n taal op, wat almal kan verstaan.
Voel jy nie soms moedeloos met al die nuwe talent wat in die bedryf inkom, maar daar is klaar nie genoeg werk vir die bestaande akteurs nie?
Ek dink dis ’n realiteit in elke moontlike veld. Die werksplek is kompeterend. Ek weet ek is gelukkig, want ek kry werk, maar dit is nie vir my ’n gegewe nie. Ek aanvaar dit nie net nie. Daar is tye wanneer ek maande lank nie ’n inkomste het nie, maar dit is die aard van ons beroep. Almal het die reg om te werk en dit is in die hande van vervaardigers. En as dit gebeur dat ek nie werk kry vir lank nie, gaan ek alternatiewe soek. Ek het baie vroeg al besef dat ons nie in dié land in ’n posisie is om die vakmanskap van akteurwees te kan beoefen tot sy hoogste vorm nie. Daarvoor moet jy konstant werk en in verskillende genres en tegnieke en in ’n magdom van verskillende rolle, hetsy klein of groot. Maar daar is net nie genoeg geld nie. Die kunsvorm maak nie wins nie. Dit is meestal ’n verlies en as dit nie was vir trusts en ander beskermhere vir die kunste nie, sou ons seker lankal al nie meer werk gehad het nie. So ek is elke dag dankbaar.
Jy is ’n Namibiër gebore. Mis jy ooit vir Walvisbaai, die see, die woestyn?
Ja, ontsaglik baie. Eendag as die kinders oud genoeg is, sal ek hulle daarheen vat. Ek het baie familie daar so ek sal as die kinders ouer is, meer gereeld gaan kuier.
Druk die berge en groen jou soms vas op Stellenbosch en hoe ontsnap jy?
Nee, wat. Stellenbosch druk my nie. Ek het lief geraak vir die dorp en sien dit nou as my huis. En mens kan baie vinnig uitry en jouself in ’n ander milieu bevind – as jy sou verkies.
Jy het in ’n stadium baie gehekel. Doen jy dit nog?
Hekel is om my besig te hou as ek niks anders het nie, maar dit is besig om minder te raak. Ek fokus deesdae meer op teken en verf.
Watter raad het jou al die beste in jou lewe gedien?
Ek is bevoorreg om ’n baie goeie groep vriende en familie te hê, wat baie ondersteunend is. Al hul raad dien my elke dag. Maar my pa was ’n reus van ’n mens, en al sy woorde spoel soos getye deur my.
Maryke is ’n ervare joernalis, wat haar liefde vir reis, mense, boeke, teater en lekker kos en wyn, op hierdie manier kan uitleef. Sy was al op elke uithoek van die aardbol – bo die wolke; in ’n lugballon; onder die water in ’n duikboot en onder die grond in tonnels – en gaan nêrens sonder haar reisgenoot, eggenoot en mede-joernalis, Clifford nie. Sy glo die lewe is te kort vir slegte koffie.