Maretha Maartens is ’n uitgewer se droom: Sy is een van die gewildste en produktiefste skrywers in Afrikaans.
En die veelsydigste: Sy het romans vir volwassenes, jeugromans, kinderboeke, toneelstukke, geestelike dagboeke en algemene boeke met ’n Christelike tema op haar kerfstok. En sy het al meer toekennings en bekronings gekry as wat die meeste ander skrywers boeke geskryf het.
Haar jeugroman, ’n Pot vol winter, is in 1989 gepubliseer en is waarskynlik haar bekendste werk – die boek het tienerseks as tema en het groot opslae gemaak. Dit is later verfilm.
Sy het altesaam sowat 140 boeke geskryf, waarvan ’n hele paar in Engels vertaal is. Maretha was redakteur van die geestelike tydskrif Finesse. Maretha was, of is, ’n rubriekskrywer vir verskeie publikasies en is ’n gewilde spreker by funksies. Haar dogter, Wendy, is self ’n suksesvolle kinderboekskrywer.
Maretha, ’n predikantsvrou, is in 1945 in Bloemfontein as die oudste kind van ’n polisieman-pa en verpleegster-ma gebore, albei praktiese, hardwerkende mense. Sy het haar kinderjare op Jacobsdal en Petrusburg deurgebring en aan die Universiteite van die Vrystaat en Stellenbosch studeer met Frans en Engels as haar hoofvakke. Sy is ook ’n gekwalifiseerde verpleegster.
Ná vyftig jaar en 140 boeke is dit dalk tyd om te besluit genoeg is genoeg en om as skrywer uit te tree?
“Nie op die oomblik nie,” sê Maretha. “Hoe ouer ’n mens word, hoe wyer en stiller kyk jy. En hoe meer dink jy oor dinge na. Skrywers skryf oor die dinge waaroor hulle nadink.”