Agt vrae aan die skrywer, Lerina Erasmus, wie se misdaadroman, Die leliemoordenaar, pas by Human & Rousseau verskyn het:
Wat is die belangrikste les wat jy met hierdie boek geleer het?
Om in jouself te glo.
Wat het jy van jouself geleer tydens die skryf van hierdie boek?
Uithouvermoë… ten spyte van…
Watter skrywers inspireer jou?
Te veel om op te noem, maar ek dink my ghoeroe is John Le Carè. In sy boeke begin hy ’n digte spinnerak te weef en op die einde, vind al die draadjies die kol.
Wie is jou felste kritici – jyself, jou man, vriendin, ens?
Seker maar ekself, maar my man hanteer my oor die jare met baie takt en liefdevolle berading, as ek van spoor af raak met die storie.
Het jy ’n lewensleuse?
Elke dag is God se dag. Leef dit ten volle.
Wat lê op jou bedkassie?
My Kindle. My oë het baie verswak en ek kan net die groter druk lees. Op die oomblik lees ek weer Tolstoy se War & Peace. Ek het dit soveel jare teruggelees, dat ek dinge vergeet het en weer moet notas maak. Die TV-reeks het my daartoe aangespoor.
Waarvan droom jy?
Ek droom nie. As ek droom is dit nagmerries, so ek droom liewer nie.
Sal jy weer misdaad skryf?
Ja, my tweede riller is halfpad.