Was die titel van jou boek die uiteinde van die twitter-kompetisie #NameZillesMemoirs wat die uitgewer gehou het?
Nee, dit kom van my man, Johann af. Ons het die Deense reeks, Borgen, gekyk waarin een van die kollegas van die nuwe vrouepresident gesê het dis nie haar manier om iets te laat gaan sonder ’n geveg nie. Johann het na my gedraai en gesê dit klink soos iets wat hy vir my kan sê. Die titel was dus sy idee. Van die ander idees wat uit die twitterati gekom het, was onder meer: To Helen Back, Twar and Peace, From Godzille to Vuvuzille en Zille: No Vanilla.
Hoe voel jy as jy nou jou boek lees?
Jinne, het ek dit regtig oorleef? En ek was so salig onbewus dat hierdie ou agter my rug gekonkel het; hierdie ou vermoor sou word. Vir my het dit ook soos ’n riller gelees, behalwe dat ek in die middel daarvan was. Die boek is belangrik vir my kinders. Ek het so laat van my voorsate uitgevind. My kinders weet nou daar is ’n boek met ons geskiedenis in.
Wat is die eienskappe waaroor ’n goeie leier moet beskik?
Integriteit, moed, oordeel, emosionele intelligensie, empatie, passie en ’n doel.
Groot maatskappye kom weg met korrupsie. Hoe is dit moontlik dat hulle nie daarvoor gestraf word nie?
Ons huidige wetlike stelsel maak korrupsie wettig, solank dit bedek word met ’n Swart Ekonomiese Bemagtiging-vyeblaar. Dit is hierdie perversie van SEB wat die DA al vir meer as twee dekades ontbloot. Die DA is ten volle vir opregte breë-basis bemagtiging, maar glo steeds dat bemagtiging werk moet skep, nie net allokeer nie. Gelukkig is die gevoel rondom SEB besig om onder baie mense te verander – ’n teken dat ons demokrasie volwasse word.
Jy skryf in jou boek ons is in ’n greep van SEB waar wie jy ken, meer tel as jou bekwaamheid. Hoe bring ons SA terug uit dié gemors?
Die kort antwoord is dat die kiesers mense verantwoordbaar moet hou vir dienslewering en as hulle dit nie doen nie, sal hulle met ’n onbekwame staat sit en die gevolge daarvan dra. En as daar ’n party is wat baantjies vir boeties-beleid bevorder, moet die kiesers nie verwag dat daar ’n bekwame staat en goeie dienslewering moet wees nie. Word mense volgens beginsels en vermoëns geoordeel, of oor hul bande met mense in mag? Dis die besluite wat kiesers moet neem en op die ou einde besluit hulle wie aan bewind is en watter beleid aan bewind is.
Jy noem die dood van Colin Eglin en Nelson Mandela en hoe ons land moes voortgaan sonder hulle. Voel jy ons het ander mense van hul kaliber in ons land?
O ja, ons sien een in Thuli Madonsela, een in Pravin Gordhan. Ons sien mense met ruggraat. Elke generasie lewer hulle op.
Wat sal dinge positief omswaai vir ons land?
Goeie leierskap, en as kiesers vir goeie lierskap stem. En vir beleide en nie vir kleur nie.
Jy noem dat jy positief is oor ons land se toekoms. Waarop skoei jy daardie hoop?
Daar is talle dinge, elke dag sien jy op die nuus mense wat met mekaar baklei, maar veral in die werk wat ek doen, is mense wat met mekaar saamwerk, goed oor die weg kom, meer gee as wat hulle neem die land wil help werk, dis wat jy elke dag in SA ondervind onder mense.
Wat is die grootste euwel wat in die pad staan van SA se vooruitgang?
Nepotisme en korrupsie.
Te oordeel aan jou ervaringe in die boek, is daar meer binnegevegte in die DA as met ander partye. Is dit ego?
Politiek gaan oor mag. As jy mag het, kan jy besluit wat gaan gebeur. Die politiek lok die baie beginselvaste mense, maar ook die teenoorgesteldes en dis baie moeilik om daardie balans te behou. Dis die wese van politieke partye – onderlinge struwelinge.
Na wie kyk jy op?
Angela Merkel, die kanselier van Duitsland. Ek dink sy is ’n ongelooflike politikus, ’n vrou van integriteit en baie bekwaam.
Op jou posvlak is dit seker nie maklik om iemand te bel vir raad nie?
Inteendeel, ek het baie mense wie se raad ek vertrou. Jy kan nooit ’n besluit neem in my posisie sonder ander mense se opinies te vra nie. Ek werk baie instinktief, ek kan aanvoel of ’n ding reg is al dan nie. Dan vra ek baie vrae.
As jy die dag aftree, wat sal jy doen?
Ek wil ’n School of Governance stig vir die DA, want dis só belangrik om hierdie lesse wat ek geleer het, oor te dra.
Hoe kon ons die huidige stand van sake in Suid-Afrika vermy het?
Ek is baie bly dat die instelling van die grondwet robuus genoeg is om die aanslag van die ANC te weerstaan. En veral bly dat ons nie die tendens volg soos in baie ander lande wat hierdie oorgang deurgemaak het dat een party net met elke verkiesing sterker en sterker word nie. In ons geval word die opposisie sterker met elke verkiesing. Dis ’n goeie tendens. Ons het nie gesê dit sal ’n roostuin wees nie; as jy dit geglo het, sou jy naïef was. Die beste waarvoor ons kon gehoop het, dat die grondwet sterk genoeg sou gewees om ’n teenvoeter te wees teen magsmisbruik. Dis presies wat nou gebeur. Ons moenie verbaas wees dat mense probeer om mag te misbruik nie. Die ANC het hopeloos te veel mag in te min hande gesit. Waaroor ons verbaas behoort te wees, is dat ons instellings en instansies sterk genoeg is om ’n teenvoeter te bied en dat kiesers tot insigte kom dat daarteen gewaak moet word.