In 2015 durf Erns Grundling die Camino Francés, ’n eeu-oue pelgrimstog, aan, vanaf die dorpie Saint-Jean-Pied-de-Port in Frankryk tot by die katedraal van Santiago de Compostela in die Noordweste van Spanje.
Met sy terugkoms skryf hy ’n boek oor dié ervaring. Elders was ook die inspirasie vir ’n TV-reeks op kykNET.
1. Wat het jy te sê vir stoelpatats wat glo hulle loop niks in die lewe mis deur nié berge uit te klim of vreemde landskappe per voet te deurkruis nie?
“Ek dink die meeste mense, ook dié wat nie geroepe voel om ’n berg of landskap te deurkruis nie, kan by iets soos die Camino baat vind. As die boek en TV-reeks mense aan die stap kry, al is dit ’n meer gereelde stappie om die blok, sal ek bly wees.”
2. Wat is die een ding aan jou staptog wat jy graag anders sou wou hê?
“Ek het myself op die Camino herinner aan die frase uit die fliek Life as a House: ‘Hindsight. It’s like foresight without a future.’ Ek probeer om nie te veel oor hoe dinge ánders sou kon wees nie of oor ander uitkomste te tob nie. Maar as ek iets moet kies, sou ek graag ’n paar dae langer by die eindpunt, Finisterre, of World’s End, wou vertoef. Dit is ’n pragtige, outentieke Spaanse vissersdorpie.”
3. Watter raad het jy vir mense wat beplan om die Camino (of iets dergeliks) aan te pak?
“Koop dadelik jou retoerkaartjie, dan is daar nie sommer uitkomkans nie. En reis lig.”