Agt vrae aan Kim McCusker wat deur ’n taxi omgery en vir 780 meter gesleep is. Haar boek, Scarred – But Not For Life, het by Tracey McDonald Publishers verskyn:
Wat het jy van jouself en van Lourens geleer deur hierdie ervaring, wat jy dalk nooit onder normale omstandighede sou leer nie?
Ek het geleer dat jy onvoorwaardelik moet vertrou in die mag van jou gedagtes en dat jy moet glo jy is sterker as wat jy ooit kon droom. Ek het ook geleer om my instinkte te vertrou en om na die tekens te luister wat oor jou pad kom. Oor Lourens het ek geleer dat die vermoë om op te staan, jou baie ver bring in die lewe en dat jou lewenspad jou dikwels voor groot keuses te staan bring, maar dat daardie keuses by jou berus.
Watter boodskap het vir mense wat ook ly?
Ek dink dis ongelooflik belangrik dat jy moet onthou dat dit sal verbygaan en dat dinge altyd onmoontlik lyk, tot dit afgehandel is. Jy moet een tree op ’n slag gee om die berg voor jou te klim, maar jy kan dit doen. Jy moenie moed opgee nie.
As jy kinders gehad het, wat sou jy wou hê moet hulle uit hierdie ervaring leer?
Ek sou wou hê hulle moet leer dat alles haalbaar is en dat jy baie meer innerlike krag het as wat jy besef. Ek sou wou hê dat hulle dit ontgin om verder en hoër te vlieg.
Was daar enige inspirerende mense wat by jou opgekom het, wie se lewens in die donkerste tye as inspirasie vir jou gedien het?
Om eerlik te wees – en sonder om arrogant te klink – daar was niemand in besonder nie. Ek sien gedurig inspirerende boodskappe of aanhalings wat tot my spreek en ek kry baie inspirasie uit mooi musiek. Ek dink ek het baie inspirasie en leiding uit tekens van God gekry. Andersins het ek my sterk oorlewingsdrang by my ouers gekry, wat van kleintyd af die wil om te oorleef by my ingeprent het.
Het jy ’n dieper waardering vir dinge wat ons daagliks vanselfsprekend aanvaar?
Ek het beslis ’n dieper waardering vir mense wat jou deur dik en dun bystaan; vir my familie en hoe standvastig hulle nog altyd was; hoe belangrik eerlikheid is en hoe belangrik dit is om vir daardie stemmetjie in jou binneste te luister.
Is daar enige kans dat die hofsaak teen Patlet ooit sal materialiseer en hy gestraf sal word?
Daar is seker altyd ’n geringe kans, maar ek twyfel sterk. Sonder om in detail te gaan oor hoe ek glo ons regstelsel werk, was daar lanklaas iets in die hof nadat daar vir soveel jare niks gebeur het nie. Ek glo die saak sal net weer uitgegooi word. Hoe dit ook al sy, die saak is vir my afgehandel.
Het die ervaring jou uitkyk op rasseverhoudings in Suid-Afrika verander?
Nee. Die argumente om die klagtes teen Lourens weer in te stel gegrond op ’n rassebasis, het ek my nie daaraan gesteur nie. Die wet is oor taktieke en ek het dit so afgemaak. Die taxibestuurder het dalk ’n probleem gehad omdat ek ’n wit vrou was, maar twee maande voor hy my onder sy taxi gesleep het, het hy ’n klein swart seuntjie daarmee omgery. Daar was dus nooit vir my ’n rede om te glo hierdie hele drama is deur raskwessies aangevuur nie. Dit beteken egter nie dat daar nie baie kwessies en struikelblokke rondom ras in ons land isnie.
Jy het die onregverdige vervolging en woede van die polisie; die slimstreke van die Padongelukkefonds en die swak regstelsel ervaar. Het jy op enige tydstip oorweeg om te emigreer?
Nee, ek is lief vir my land en dit het geweldig baie om te bied, ten spyte van al die uitdagings. Ek voel dat ek vir altyd hier wil bly en wens meer mense wil dit doen, in plaas van om na “groener weivelde” te vlug.