Sean Nieuwoudt is die wynmaker en bemarkingshoof van Swartland Wynkelder buite Malmesbury. Sean was agt jaar by die kelder en het toe vir drie jaar by Distell gaan werk.
Deur: Maryke Roberts
Foto: verskaf
Hy vertel dat hy nie kon wegbly van die wonderlike en unieke Swartland-area nie en het verlede jaar weer teruggekeer na die Swartland Wynkelder as bemarkingshoof en wynmaker.
Hy het by die Kaapse Universiteit van Tegnologie ’n BTech-landbougraad verwerf en ook ‘n Nasionale Diploma in Keldertegnologie by Elsenburg Landboukollege. Hierna het hy ’n MBA aan die Universiteit van Stellenbosch se Besigheidskool verwerf.
Sean is getroud met “die mooiste vrou in die wêreld”. Haar naam is Helane en sy was ’n skoonheidsterapeut, maar nou is die egpaar bevoorreg genoeg dat sy die kinders by die huis kan grootmaak. Hulle het twee dogtertjies, Jenna (4) en Nica (2).
Hy is baie trots op die kelder se nuwe Limited Release-reeks, wat die unieke Swartland-terroir weerspieël en erkenning gee aan Rhône-variëteite. Dit bestaan uit ’n viognier, ’n mourvèdre en ’n roussanne. Hy vertel dat enkel-variëteit wyne van skaars variëteite – veral Rhône-styl wit- en rooiwyne, nou hoogmode is en dat hul kelder dié mode al vir jare volg – wyne word gemaak van wingerde wat op droëland in tradisionele bosstokstyl gekweek word. Díe stokke word nie natgelei nie en word gelos om natuurlik te groei, met minimale menslike inmenging. Die droë toestande lei tot ‘n kleiner opbrengs van kleiner korrels, wat meer gekonsentreerd is en geurige, vrugtige wyn met ryp tanniene voortbring.
Hoe het die idee ontstaan vir hierdie nuwe enkelvariëteit-vrystellings?
Na aanleiding van ’n paar artikels van internasionale wynskrywers wat die Swartland beskryf as die “nuwe Rhône” het ons in samewerking met ons VK-agente, besluit om die unieke Swartland-wyne van oorsprong bekend te stel. Die druiwe kom van een plaas af en ten einde die unieke terroir te beklemtoon en te behou, gaan ons nie meer as 6 000 bottels per kulitivar produseer nie.
Wou jy altyd wynmaker in Suid-Afrika wees of het jy planne om oorsee te gaan werk?
Daar was verkeie opsies vir my om oorsee te gaan werk, maar gelukkig is ons land die mooiste en beste land in die wêreld om in te werk. Hoe meer ’n mens reis, hoe meer besef jy dit.
Hoe voel jy oor toekennings en verering in jou beroep?
Ek dink tog daar lê meriete in toekennings en prestasies en dit dien, volgens my, ’n baie belangrike doel in terme van benchmarking en bewusmaking van jou handelsmerk.
Hoe voel jy oor Suid-Afrika se beeld in die buiteland – moet ons daaraan werk of meer op die plaaslike mark fokus?
Suid Afrika het ’n baie positiewe internasionale beeld en dit is maklik om te verstaan hoekom. Die land bied ’n ongelooflike wye verskeidenheid wynstyle en terroirs van top gehalte. Ons het só baie unieke streke om aan bykans enige wyndrinker se behoeftes te voldoen.
Wat is vir jou die mooiste eienskap van wyn?
Dit bring mense bymekaar.
Wat was tot dusver jou grootste uitdaging as wynmaker?
Ek glo die grootste uitdaging in ’n multinasionale wynmaatskappy wat uitvoer na verskeie lande, is om ’n wynstyl te maak waarvan almal sal hou. Daar is ’n byvoorbeeld ’n wesenlike verskil in die smaak van ’n Chinese en Amerikaanse kliënt.
Watter kultivar is jou gunsteling en hoekom?
Sauvignon blanc. Die kultivar is só divers in terme van moontlike geurprofiele wat jy kan kry en dit is wat ek die meeste by die huis drink.
Wat is die grootste fout wat verbruikers tuis maak met die pasmaats met kos van wyn?
Gedurende my besoeke aan Frankryk het ek geleer om eers jou wyn te kies wat jy wil geniet en dan die kos daar rondom te beplan. Dit werk baie goed.
As jy nie wynmaker geword het nie, watter ander beroep sou jy graag wou volg?
Ek het dit oorweeg om ’n onderwyser te word.
Waaroor is jy besonder trots in jou loopbaan?
Om te sien hoe mense wat vir jou werk, groei en doelwitte bereik met jou hulp en leiding.
Het jy ’n gunstelinghoekie op die plaas waar jy heengaan vir stilte of as jy moet dink oor groot besluite?
Ai, dit sou lekker gewees het, maar ek is eenvoudig te besig. My beste dinkwerk geskied maar as ek ’n glas wyn drink en die kinders slaap.
Reis jy baie om jou wyn bekend te stel en indien wel, wat is jou gunstelingbestemming?
Aangesien ek die wyn ook moet verkoop, reis ek taamlik baie. Tanzanië en Kenia is van my gunsteling-bestemmings. Dis verblywend om te sien hoe mense wat vir die eerste keer wyn drink, dit geniet en verstaan waaroor alles gaan ná ’n kort wynverduideliking. Dit is baie belangrik om met passie oor jou produkte te praat.
Met watter wyn vier jy groot geleenthede in jou lewe?
Vir my is daar net een wyn vir groot geleenthede en dit is MCC. Dit is só veelsydig en is volgens my kennis die enigste wyn of drankie wat jy in die oggend kan geniet en niemand sal dink dit is vreemd nie. Probeer ook ’n Cava van Spanje, alhoewel Suid-Afrikaanse MCC van die beste is wat ek al geproe en gedrink het.
Wat is die mooiste woorde wat jy al rondom wyn en die wynmaakproses gehoor het?
Galileo het die mooiste beskrywing van wyn ooit geskryf: “Wines are sunlight held together by water.”
Wat is die beste raad wat jy al as wynmaker ontvang het?
Wees geduldig.
As jy enige ander plek in die wêreld kon wynmaak, waar sou dit wees?
Ek sou baie graag op een van die Griekse eilande wou wyn maak. Ek het die land al twee keer besoek en die leefstyl van die wynmakers daar blyk ’n perfekte lewensbalans te wees.
Waarvan droom jy vir die toekoms?
Ek hoop ons kan as die Suid-Afrikaanse wynbedryf nog meer saamwerk om die handelsmerk Suid-Afrika te bevorder.