DP Burger is die algemene bestuurder en wynmaker by GlenWood Vineyards op Franschhoek
Deur: Maryke Roberts
Foto: verskaf
Hy het in 1991, na voltooiing van sy nasionale diensplig, as wingerdboukundige by GlenWood aangesluit. Op daardie stadium was daar slegs 1,2 hektaar chardonnay op die plaas en DP se hoofdoel was die ontwikkeling van die plaas.
Hy beskou homself as ’n natuurlike wynmaker, wat die natuurlike eienskappe van kultivars probeer uitbring sodat dit vir die kliënt kan “sing”.
DP en sy vrou, Mariska en hul twee kinders, Kristie (16) en Divan (12) woon op die plaas. Mariska het haar eie konstruksiemasjiene wat sy aan die gemeenskap verhuur en sien om na die daaglikse aktiwiteite van hul kinders. DP sê die voordeel om daar te werk, is die voorreg wat hy het om sy kinders in die plaaslug groot te maak en dat hy en Mariska die berge as speelgrond vir hul Arabierperde het.
Wat het jy vinnig geleer wat jy nie verwag het nie?
Daar is niks wat vinnig gebeur in die wynbedryf nie. Goeie druiwe en wyn produksie neem tyd!
Wie is jou wynmaakhelde en na wie gaan jy vir raad? Hy is altyd bereid om vrae te antwoord en raad te gee. Hy maak nie net uitstekende wyn nie, maar het ook ´n wonderlike vermoë en spesiale manier om die wyn te bemark en aan die publiek aan te bied.
Hoe dink jy kan ’n wynplaas sy beeld onder die publiek verbeter?
Die stigma van onderbetaalde werkers wat sleg behandel word, is ’n absolute mite volgens my. Indien daar nog sulke gevalle in die bedryf voorkom, moet dit uitgeroei word.
Wat beplan jy vir die plaas en kelder die volgende paar jaar – nuwe kultivars, versnitte ens?
GlenWood is ’n klein boetiekkkelder met ’n klein, maar interessante, reeks. Die GlenWood Grand Duc Noblesse is laat verlede jaar vrygestel en doen werklik uitstekend. Daar is ook ’n nuwe wyn, die GlenWood 2016 Sauvignon Blanc/Semillon versnit vrygestel, waaroor ek baie opgewonde is.
Wat was jou drome op skool oor die beroep wat jy eendag sou gaan volg?
As plaasseun en oud-skolier van Boland Landbouskool in die Paarl was my passie altyd die landbou.
Wat is vir jou die mooiste eienskap van wyn?
Dit bou brûe en verhoudings.
Wanneer geniet jy jou wyn die meeste?
Op die regte plek met die regte geselskap en kos.
Wat was sover jou grootste uitdaging as wynmaker?
Die vestiging van “handelsmerk GlenWood”.
Wat is die uitdagings om ’n wynmaker in Suid-Afrika te wees?
Om rustig te bly ten opsigte van wynstyle; die mark het ’n manier om wynmakers te forseer om style te verander om by die mark te pas. Ja, dit is belangrik, maar aan die einde van die dag moet ek as wynmaker die beste wyn maak wat die GlenWood-terroir vir my gee om mee te werk. Dit bly altyd die hooffokus en uitdaging.
Wat is die grootste fout wat verbruikers tuis maak met die a. skink; b. stoor of berging; c. pasmaats met kos van wyn?
- a) Moenie die glas tot oorlopens toe vol gooi nie! Daar is nog!
- b) My boodskap aan verbruikers is altyd: as die wyn lekker smaak, drink dit! Daar is nog!
- c) Ek probeer dié boodskap uitkry: selekteer eers jou wyn en dan die dis/kos wat jy daarmee wil geniet. Tans is die wyn die duurste komponent op die spyskaart.
Wat frustreer jou van SA wyndrinkers?
Hulle glo jy moet sauvignon blanc in die jaar van produksie drink. Ek wens ek kan mense uitwys dat ’n goed verouderde sauvignon blanc ’n uitstekende wyn is.
As jy nie wynmaker geword het nie, watter ander beroep sou jy graag wou gevolg het?
Die regte was altyd in my agterkop.
Wat is jou gunstelingkultivar en hoekom is dit spesiaal?
Ek geniet chardonnay verskriklik baie, maar shiraz is ook ’n passie. Chardonnay kan baie vergewend wees en die robuuste karakter van die shiraz-druiwe en die slyping daarvan, geniet ek baie.
Watter wenke het jy vir mense wat bang is om met nuwe wyne te eksperimenteer?
Ek probeer as wynmaker op ’n gereelde basis baie ander wyne proe. Daar is ’n wonderlike wêreld daar buite met fantastiese wyne. Klim uit jou boks en probeer soveel as moontlik voor die bus jou omry.
Wat is die mooiste woorde wat jy al rondom wyn en die wynmaakproses gehoor het?
My oorlede pa het altyd ’n mooi beskrywing van ’n wyn gehad: “Dit sit so mooi op my tong”. ’n Europese toeris het eendag na die gistende chardonnay-vate gekyk en gesê: “It’s like poetry in motion”. Dit was vir my baie mooi gestel.
Watter internasionale wynmaker sal jy graag wil ontmoet?
Robert Mondavi.