Dewaldt Heyns is die wynmaker by Saronsberg Wynkelder buite Tulbagh
Deur Maryke Roberts
Foto verskaf
Sy wyne is gereeld onder die land se top 10 en by die vyfde Shiraz Challenge in 2017 het hy weer uitgeblink. Saronsberg het reeds vyf trofeë ingepalm sedert die ontstaan van die kompetisie. Die plaas is ook bekend vir sy indrukwekkende kelder, proelokaal en kunswerke.
Hy het op sy pa se druiweplaas in die Swartland grootgeword en wou nog altyd ’n boer wees. Teen die tyd dat hy besef het daar is iets soos ’n wynmaker het alles in plek geval – nie net kan jy werk met die wingerdstok nie, maar die druif tot wyn neem. Ná sy studies het hy by Rust en Vrede aanvanklik in die wingerde begin en waardevolle ondervinding van die wingerdstok opgedoen.
Dewaldt en sy vrou, ’n taalversorger wat van huis af werk, woon saam met hul twee kinders, Sebastian (9) en Nina (6), op die plaas. Hy lag en sê hy het nog nooit op ’n dorp gewoon nie en voel dit is ’n voorreg om sy kinders die ruimte te kan bied waarna so baie smag. Hy voeg ook met ’n vonkel in sy oog by dat die afstand ook die vrou en kredietkaart weghou van honger kaartmasjiene …
Hoe het jy in jou huidige pos beland en hoe lank is jy al daar?
Ek is nou al 14 jaar by Saronsberg. Dit was ’n voorreg en nogal ’n uitdaging om ’n plaas van vooraf te begin en dit is ongelooflik hoe tyd gevlieg het.
Wat is jou mooiste herinnering rondom wyn?
Ek het eenkeer wyn in ’n afgeleefde Franse kelder in Condrieu geproe. Die wyn was gemiddeld en die taal kon ek nie praat nie, maar die passie van die wynmaker en sy nederigheid en eenvoud het dit soos nektar laat smaak. Dit is waaroor wyn gaan. Nederige mense se passie vir die natuur en die wynmaak-kuns en die besef dat dit groter is as die individu.
Hoe sien jy jouself as wynmaker?
Ek dink dit hang af van die stadium van jou lewe. As wynmaker probeer ek dinge relatief onopgesmuk hou, sonder fieterjasies, en probeer net fokus op wat die wingerd vir my sê. Ek neig definitief meer na die konserwatiewe kant.
Wat dink jy is die belangrikste eienskappe waaroor ’n wynmaker moet beskik?
Geduld en hope passie met ’n stewige skoot geloof.
Wat het die wynmakersberoep jou sommer gou geleer?
Dit is nie altyd die glansryke en romantiese werk, soos wat almal dink dit is nie. Die werk is fisies, die ure lank en die kompetisie straf, maar as jy passie het en dit ’n roeping is, voel dit nie een dag of jy werk toe gaan nie.
LEES OOK: Wynmaker: Danie Steytler
Hoe dink jy kan ’n wynplaas sy beeld onder die publiek verbeter?
Jy kan allerhande bemarkingsfoefies probeer en die mooiste storietjies vertel, maar jou langtermyn-sukses is daarop gegrond om konsekwent jaar na jaar wyne van hoë gehalte te maak waarop die publiek kan vertrou.
Na wie gaan jy vir raad met groot besluite?
My Skepper, my baas (Nick van Huyssteen) en my vrou.
Van watter beroep het jy op skool gedroom?
Wys my ’n kind wat nie ’n wildbewaarder wou word op die een of ander tydstip nie, maar boerdery was nog altyd my liefde.
Wat is vir jou die mooiste eienskap van wyn?
Dit bring mense om ’n tafel nader aan mekaar – goeie wyn, goeie kos en goeie vriende maak onvergeetlike herinneringe.
Wanneer geniet jy jou wyn die meeste?
Wanneer jy dit met mense kan deel, verkieslik ’n volronde rooiwyn rondom ’n kampvuur met die bosgeluide as agtergrondmusiek.
Wat is jou gunstelingkultivar en hoekom?
Shiraz! As student was dit die kultivar wat aan my toegedeel is om wyn mee te maak. Na my studiejare was dit die sentrale kultivar waarmee ek gewerk het en by Saronsberg is dit 50% van ons aanplantings. Jy kan maar sê die kultivar praat met my – dit of ek hoor stemme …
Met watter kultivar het jy nog nie gewerk nie, wat jy graag sal wil?
Pinot Noir – Jy kan nie Shiraz liefhê en maak as jy nie van Pinot Noir hou nie. Ek het al ’n bietjie gemaak op Saronsberg, maar vir eie gebruik en nog nie kommersieel nie.
LEES OOK: Wynmakers: Jan van Rooyen, Avontuur
Watter kultivar kry te min aandag in SA en sal jy graag wil sien ontluik in die toekoms?
Grenache en Viognier. Ek het ’n sagte plek vir beide. Al twee is by uitstek geskik vir ons Suid-Afrikaanse klimaat mits hulle reg aangepak word en is ongelooflike koswyne.
Wat glo jy is tans die uitdaging/eise vir ’n wynmaker in Suid-Afrika?
Vir seker die langtermynkoste-knyptang waarin die meeste kelders hulle bevind en hoe om ’n opregte SA wyn te maak sonder om gehalte in te boet.
Wat was sover vir jou persoonlik jou grootste uitdaging as wynmaker?
Om geduld aan te leer. Jy werk met die natuur en sy het haar eie tyd.
Waaroor is jy besonder trots in jou loopbaan?
Ons span kon Saronsberg in ’n relatief kort tydperk uitbou, tot een van die mees konstant presterende kelders in Suid-Afrika.
Watter wyn- en kos-pasmaat geniet jy gereeld en vind dat die twee mekaar perfek aanvul?
’n Lekker Karoo-tjoppie op die kole en ’n doeksag Shiraz is die perfekte pasmaats!
Hoe lyk die ideale Suid-Afrikaanse wyndrinker – eksperimenteer meer, betaal duurder vir wyne, ens?
Is daar so iets? Ek dink die wyndrinker weerspieël die verskeidenheid wynstyle wat geproduseer word. Jy kan nie veralgemeen nie en dit hou die mark uiters interessant.
Wat is die een ding van die wynmaakproses wat jou fassineer?
Die towerkuns wat tussen – en in – ’n wyn en ’n wynvat gebeur.
Watter wenke het jy vir mense wat voor ’n winkelrak staan en nie weet wat om te koop of waarna om op die etiket te kyk nie?
Voorspoed! Koop ’n kultivar waarvan jy hou in die prysklas wat jou beursie nie te seer maak nie en doen verkieslik ’n bietjie huiswerk om jou kanse te verbeter om die regte een vir jou te vind. As hy lekker is, koop hom weer. Indien nie, drink twee bottels – daarna raak alles lekker.
Wat is die mooiste woorde wat jy al rondom wyn en die wynmaakproses gehoor het?
Ons is hier om die druiwestok en sy produk te dien met die gawe wat die Skepper ons gegee het.
Wie is jou wynmaak-helde?
Die onbesonge werkers wat die weer en natuur trotseer om die druiwestok te versorg en lang ure in die kelder werk om die beste wyn te maak.
Watter internasionale wynmaker sal jy graag wil ontmoet?
Ek sou graag met die man wou praat wat in 1656 die eerste wyn aan die Kaap gemaak het en daar wou gewees het toe hulle daardie voggies probeer het.
Hoe voel jy oor die toekoms van die SA wynbedryf?
Die bedryf is al deur baie skommelinge en sal ten spyte van die huidige uitdagings bly voortbestaan, want die mense wat daaragter sit is passievol en taai en het hope vindingrykheid.
As jy een bekende kon nooi vir ’n wynproe, wie sou dit wees?
Leonard Cohen – ek is seker ons sou diep dinge kon praat ná ’n bottel of twee.
Wat beplan jy vir die plaas en kelder die volgende paar jaar – nuwe kultivars, versnitte ens?
As ’n relatief nuwe kelder probeer ons om nie elke ander jaar met nuwe gimmicks vorendag te kom nie, maar om eerder ons voortgesette fokus te behou om ons bestaande produkte te verbeter. Daar is ’n enkelwingerd Shiraz in die pyplyn (die eienaar weet nog nie eens daarvan nie), maar ek wil eers seker maak dit voldoen aan ons gehaltevereistes.