Danielle le Roux is sedert Oktober 2015 die wynmaker by Asara Wynlandgoed buite Stellenbosch.
Deur Maryke Roberts
Foto verskaf
Sy vertel haar belangstelling in wynmaak het per ongeluk gebeur. Sy het op ’n Overbergse plaas grootgeword en wou graag iets in die landbou/bosbou rigting doen, maar gedurende haar eerste jaar het sy eers dieper kennis gemaak met wyn op Stellenbosch. Haar hart was verlore op die hele wynmaak-genre. Danielle het haar vakkeuses effe verander en nog nooit teruggekyk nie.
Danielle is getroud met en Jacques, ’n energiekonsultant met sy eie besigheid en sy sê dis van onskatbare waarde, want hy is mal oor wyn en verstaan haar “mal passie vir wyn”. Hulle het twee seuntjies (6 en 5 jaar oud).
Wat is die mooiste woorde wat jy al rondom wyn en die wynmaakproses gehoor het?
“Wine to me is passion. It’s family and friends. It’s warmth of heart and generosity of spirit. Wine is art. It’s culture. It’s the essence of civilization and the art of living.” -Robert Mondavi
Waar was jou eerste werk en wat het dit behels?
Nadat ek klaar gestudeer, was ek ’n parshulp in die suide van Frankryk by Chateau de la Colline, maar toe ek nog geswot het, het ek met my wynmaak notas in die lorrie vir my my pa graan gery na die silos tydens oestyd.
Is dit moeilik om ’n vrou in die bedryf te wees?
As vrou het ons sekere uitdagings veral as mens ‘n huis gesin ook het en 2 baie veeleisende seuntjies- jy het dus ‘n daytime & ‘n night-time job . maar as ‘n vrou was ek ook bevoorreg om nog altyd met fantastiese kollegas te werk en voel die speelveld is gelyk in die hendendaagse wyn bedryf.
Hoe het jy in jou huidige pos beland?
Ek het Asara nog altyd as ’n ikoniese wynlandgoed met ’n ryk geskiedenis gesien en gespring toe die geleentheid hom voordoen.
Wat het jy vinnig as wynmaker geleer, wat jy nie verwag het nie?
Daar is nie ’n dom vraag nie, vra eerder voor jy iets onnosel aanvang en almal is altyd bereid om te help. Maar met tyd moet jy ook jou eie palet en gut-feel volg.
Hoe sien jy jouself as wynmaker?
Ek is heel moontlik ’n versigtige wynmaker wat hou van vrae en opinies vra, maar ek het ook ’n baie gedetermineerde idee van wat ek wil doen en kan dalk daar hardkoppig raak.
Wat beplan jy vir die plaas en kelder die volgende paar jaar?
Moontlik ’n enkel kultivar Malbec en ’n Pinotage (een van my soft spots).
Van watter beroep het jy op skool gedroom?
’n Natuurbewaarder.
Wat is vir jou die mooiste eienskap van wyn?
Balans en varsheid.
Watter internasionale wynmaker sal jy graag wil ontmoet?
Olivier Berrouet van Chateau Petrus
Wanneer geniet jy jou wyn die meeste?
Sodra ek by die huis kom, word my glas wyn geskink (blind) deur my man. Ek probeer altyd raai wat dit is, en daardie eerste glasie wat ek drink (nie proe of spoeg) terwyl ek kos maak, is my hoogtepunt van die dag.
Wat is jou gunsteling kultivar en hoekom?
Merlot – dit word onderskat, het fantastiese elegansie en suiwerheid, maar soos hulle sê: “An iron fist in a velvet glove.” Onthou dat die duurste wyn in die wêreld van Merlot gemaak word.
Met watter kultivar het jy nog nie gewerk nie, wat jy graag sal wil?
Cinsaut
Wat is jou mooiste herinnering rondom wyn?
Parstyd in Greve (Chianti in Italië) en daardie mistigheid in die aande en die ou klipmure van die plaashuis, olyfbome en wingerd. Ons het elke aand op die stoep gesit en die geur van tamatie, knoffel, vars kruie en olyfolie met fanstastiese chianti.
Wat was sover jou grootste uitdaging as wynmaker?
Om ’n huishouding te laat vlot en ’n wynmaker te wees – die wynbedryf het baie fasette en neem baie van jou tyd in beslag.
Waaroor is jy besonder trots in jou loopbaan?
My Cape Wine Masters-diploma behaal in 2009.
As jy ’n kelder kon ontwerp en bou, wat sal vir jou noodsaaklik wees?
’n Pellenc optiese sorteerder om al die stingels/groen korrels en blare uit te haal.
Watter wyn en kos pasmaat geniet jy gereeld en vind dat die twee mekaar perfek aanvul?
Chardonnay en ’n romerige seekos. Ek is ook lief om met lam te kook (ek is gelukkig genoeg om my lam steeds by boeta van die plaas te kry). Enigiets wat stadig bak of stowe met roosmaryn en knoffel en Merlot!
Watter wyn sal jy aanbeveel met sushi en wat met speseryagtige kos?
Sauvignon blanc met sushi (ons White Cabernet is ook lekker met sushi) en dan die Cape Fusion (Shiraz, Pinotage, Malbec) saam met speseryagtige kos soos ’n Marokkaanse of Indiese bredie.
Hoe lyk die ideale Suid-Afrikaanse wyndrinker – eksperimenteer meer, betaal duurder vir wyne, ens?
Ek sou baie graag wil hê die wyndrinker moet meer braaf wees en onder meer meer versnitte probeer. Ek dink ons sukkel nogal met mense se vooropgestelde idees soos Rosé is soet en vir sissies en Merlot is nie duursaam en kompleks nie.
Watter wenke het jy vir mense wat voor ’n winkelrak staan en nie weet wat om te koop of waarna om te kyk op die etiket nie?
Moenie die heel goedkoopse koop nie. Wit of Rosé werk altyd beter met ligter disse en rooiwyne met ryker/swaarder geregte.
Wie is jou wynmaak-helde?
Elke wonderlike kollega met wie ek goeie wyn kon deel en wie waardevolle inligting met my gedeel het.
Hoe voel jy oor die oorgrote SA wyndrinker wat glo witwyn moet in dieselfde jaar as wat dit geoes en gebottel is, gedrink word en nie wil waag met ouer witwyne nie?
Ek is in die ander kamp, wat dink witwyne kan pragtig en baie meer kompleks en gebalanseerd raak met tyd. Daar is verseker ’n aantrekkingskrag in terme van die vars en vrugtige neus van ’n jong wit wyn, maar die mondgevoel en kompleksiteit van ’n goeie witwyn ontwikkel met tyd.
Hoe voel jy oor SA se wynkwaliteit vergeleke met ander lande?
Ons is in dieselfde klas as die buiteland. Ons bied unieke wyne en ons kwaliteit verbeter by die dag. Al waar ons moontlik nog kan verbeter, is om ons terroir en klimaat beter te verstaan en sodoende die regte kultivars op die regte plekke te plant hier het die Ouwêreld ’n bietjie van ’n voorsprong op ons.
Waar is onontginde markte waar jy glo SA wyne baie goed kan doen?
In ons eie land het ons ’n baie groot mark wat nog nie benut is nie, asook in die noorde van Afrika. Met opvoeding en blootstelling dink ek dat ons Afrika-markte nog baie gaan uitbrei.