Ben Snyman is die hoofwynmaker by Overhex Private kelder (die sustersmaatskappy van Overhex Wines International), op die R62 tussen Worcester en Robertson
Deur: Maryke Roberts
Foto’s: verskaf
Ben het aan Stellenbosch Universiteit studeer en al parsseisoene by Nitida, Uitkyk, D’Aria, Boschendal en Vrede en Lust gewerk, en het ook ’n pars by Chalk Hill Winery in Sonoma in die VSA agter die rug. Hy het in 2016 by Overhex Private kelder as wynmaker aangesluit en in in Mei 2016 die pos as hoofwynmaker oorgeneem. Die kelder voer tans na 47 lande uit.
Ben is getroud met Mia, ’n dokter.
Waar was jou eerste werk en wat het dit behels?
Dit was by Vrede en Lust. Ek was ’n parshulp in die kelder.
Hoe het jou belangstelling in wynmaak begin?
Ek het altyd my oupa in sy groentetuin gehelp en natuurlik alles in sy tuin geproe voordat dit in die kombuis kom. Om wyn te maak, moet jy van die druif tot die glas proe. Wat kan ek sê – ek hou van proe!
Hoe het jy in jou huidige pos beland?
Nadat ek van die VSA teruggekom het, het ek gesien Overhex bied ’n pos aan. Ek is nou in my sewende jaar hier en het vinnig geleer om ’n leier te wees, iets wat ek as wynmaker nie verwag het nie.
Hoe sien jy jouself as wynmaker?
Ek sien myself as avontuurlustig, en kom gereeld vorendag met nuwe style vir nuwe etikette.
Hoe dink jy kan ’n wynplaas sy beeld onder die publiek verbeter?
Wees anders!!! Ons het ’n bistro in Worcester oopgemaak, wat nie net ons beeld vergroot het nie, maar ook Worcester se beeld.
Wat beplan jy die volgende paar jaar vir die plaas en kelder?
Ons is tans besig om ons bestaande reeks van Survivor en Balance te vegroot. Die reeks doen nie net goed in die binneland nie (SAA beste rooiwyn van die jaar) maar ook internasionaal.
Wat is vir jou die mooiste eienskap van wyn?
Dat jy nie skuldig hoef te voel as jy ’n MCC saam met jou spek en eiers drink nie
Wanneer geniet jy jou wyn die meeste?
In die aand saam met my vrou.
Wat is jou gunstelingkultivar en hoekom?
Pinotage, dit is iets unieks aan Suid Afrika.
Met watter kultivar het jy nog nie gewerk nie, wat jy graag sal wil?
Bukettraube
Wat is die uitdaging/eise vir ’n wynmaker in SA in 2017?
Daar is meer topwyne in die wêreld en dus is wyn kompetisies meer uitdagend
Wat was sover jou grootste uitdaging as wynmaker?
Terroir!! Om die wingerd tot die beste van sy vermoë te kan bestuur.
Waaroor is jy besonder trots in jou loopbaan?
Die verhoudings wat ek al opgebou het, nie net nasionaal nie, maar ook internasionaal.
Watter een groot struikelblok het al vir jou in die kelder gewag, wat jy trots was om te oorkom?
As die druk in die seisoen hoog is en al die druiwe is reg om gelewer te word, om dan planne te maak om die druiwe in die kelder te kry,
As jy ’n kelder kon ontwerp en bou, wat sal vir jou noodsaaklik wees?
Meer spasie.
Watter wyn-en-kos-pasmaat geniet jy gereeld en vind dat die twee mekaar perfek aanvul?
Die Survivor chenin blanc saam met roompasta.
Watter wyn sal jy aanbeveel met soesji en wat met speseryagtige kos?
Sauvignon blanc saam met soesji; semi-droog ongehoute chardonnay saam met speseryagtige kos.
As jy nie wynmaker geword het nie, watter ander beroep sou jy graag wou volg?
In die kombuis te werk/sjef.
Watter wenke het jy vir mense wat voor ’n winkelrak staan en nie weet wat om te koop of waarna om op die etiket te kyk nie?
Waarvoor gaan jy die wyn gebruik? Om te geniet saam met vriende of saam met kos? ’n Koswyn lyk duur, is duur en smaak duur.
Wie is jou wynmaak-helde?
Hy is nie ’n wynmaker nie, maar ’n wynkenner: Michael Fridjhon.
Watter internasionale wynmaker sal jy graag wil ontmoet?
Daar is so baie goeie Suid-Afrikaanse wynmakers wat internasionale erkenning vir hul vermoëns gekry het soos Andrea Mullineux (Wine Enthusiast Magazine Winemaker of the Year 2016) en Eben Sadie (Winemaker’s Winemaker of the Year 2017) en dus streef ek nie daarna om ’n internasionale wynmaker te ontmoet nie, maar eerder om myself te bevorder tot internasionale kaliber soos hierdie wynmakers.
Watter foute maak mense as hulle wyn koop en by die huis stoor?
Om wyn in ’n warm kamer of bo die stoof te stoor. Wyn kort ’n koel plek en is sensitief vir hitte
Hoe voel jy oor die meerderheid SA wyndrinkers wat glo witwyn moet in dieselfde jaar as wat dit geoes en gebottel is, gedrink word en nie wil waag met ouer witwyne nie?
Ek glo wynmakers het geleer om verskillende style te maak vir die behoefte van die wynverbruiker. Ek kan met selfvertroue sê daar is wyne op die mark wat ’n mens kan verouder. Jy sal net agter op die etiket moet lees en uitkyk daarvoor.
Hoe voel jy oor SA se wynkwaliteit vergeleke met ander lande?
Dis op dieselde standaard en selfs beter.
Waar is onontginde markte waar jy glo SA wyne baie goed kan doen?
China en Japan