Conrad Vlok is die afgelope 13 jaar die wynmaker by Strandveld Vineyards by Elim in die Suid-Kaap
Deur Maryke Roberts
Foto verskaf
Hy het op skool witblits met vye in sy ma se drukkoker begin stook en het ook so ’n bietjie nag-oeste gedoen in die bure se wingerd en vertel dat hy lank voor nag-oeste gewild geword het, dit reeds gedoen het. Hy het ook op skool al begin eksperimenteer met wilde gisting en het in sy matriekjaar al die wonderlikste bottel gegiste sjampanje gemaak.
Waar was jou eerste werk en wat het dit behels?
My eerste werk in die wynbedryf was as wynmaker by Onverwacht Wellington; maar my eerste werk was seker die werkies vir my pa, gras sny, kar was…
Wat is jou gunstelingkultivar en hoekom?
Jammer, daar is twee, want daar is winter en somer. In die winter is dit meer vleise en vure, en dan moet dit ’n bottel shiraz wees. Maar in die somer, wanneer ons meer buite is, en ons is meer in die vis in, dan moet dit ’n bottel sauvignon blanc wees.
Wat is jou mooiste herinnering rondom wyn?
Dis ’n bottel MCC wat ek gedrink het in Nature’s Valley toe ek my vrou gevra het om te trou. Dis many moons ago! Ek dink dit was ’n bottel van Jacques Bruere se eerste MCC’s.
Wat het jy vinnig as wynmaker geleer, wat jy nie verwag het nie?
Ek het vinnig geleer daar is nie kortpaaie nie – dis maar al, jy kan nie kortpaaie vat as jy wil wyn maak nie.
Hoe sou jy jouself as wynmaker beskryf?
Versigtig, want foute is duur, so jy moet versigtig wees; maar avontuurlustig moet jy ook wees, anders gaan daar nie nuwe goed gebeur nie. Dis mos hoekom ek hier is, anders sou ek mos nie hierheen gekom het as ek nie avontuurlustig was nie.
Wat dink jy is die belangrikste eienskappe waaroor ’n wynmaker moet beskik?
Wat vir my baie belangrik is, is soos die Engelsman sê, attention to detail. Maar jy moet goed kan proe en ruik. Dis een van die goed as wynmaker wat belangrik is.
LEES OOK: Wynmaker: Jacques Cilliers
Wat beplan jy vir die plaas en kelder die volgende paar jaar?
Op die plaas beplan ons ’n groot hervestiging van proteas en nog wingerde. Tans is die meeste wingerdboere besig om te diversifiseer na vrugte, sitrus en bessies. Hulle is half negatief teenoor die wingerdbedryf, maar dis omdat die koste-aspek in ´n wingerd-praktyk nie baie winsgewend is nie. Ek glo egter steeds daar is ’n toekoms in die wynbedryf, daarom moet ons die wingerd hervestig, sodat ons seker is ons sal wel goeie gehalte druiwe in die toekoms hê.
Wat is vir jou die mooiste eienskap van wyn?
Dis ’n lewende produk. Dit hou altyd aan om te ontwikkel en te verander, daarom prikkel dit my belangstelling. Dit lok ’n gesprek uit. Dis hoe mense nuwe vriendskappe smee. Jy kan maar kyk as jy met mense om ’n bottel wyn sit en gesels – jy maak nuwe vriende.
Wanneer geniet jy jou wyn die meeste?
Na ’n harde dag se werk, saam met my vrou. Maar daar is mos daai hoogtepunte wanneer jy ’n lekker vars vis gejag het, en jy daai groot bord sashimi neersit en jou vriende kom aansit met ’n vars bottel wyn, dan is dit darem ook baie lekker. So vier ons die lewe en vriendskap!
Met watter kultivar het jy nog nie gewerk nie, wat jy graag sal wil?
Tempranillo. Ek is besig om ’n plan te maak om wel daarmee te werk – ek het ’n eksperimentele wingerd aangeplant en ons sal die volgende paar jaar daarmee kan begin werk. Dis die kultivar wat ek glo baie goeie potensiaal het om te versny saam met shiraz en grenache.
Watter kultivar kry te min aandag in SA en sal jy graag in die toekoms wil sien ontluik?
Ek glo die Spaanse en Mediterreense kultivars kan nog ontwikkel. Maar as ek slegs een kultivar moet uitsonder, sou dit cinsaut wees.
Wat was sover jou persoonlik, jou grootste uitdaging as wynmaker?
Dis eintlik maar menseverhoudinge, nie soseer wynmaak nie – mens word geleer hoe om wyn te maak, maar dis die menseverhoudinge daarom heen wat belangrik is.
Waaroor is jy besonder trots in jou loopbaan?
Dat ek deel kan wees van die Elim-wynbou-area, en deel wees van nuwe geskiedenis van wingerdbou in Suid-Afrika. Ons is besig om ’n nuwe area te ontwikkel en uit te bou. As ek cinsaut, pinotage en tempranillo hier plant, is dit alles proefwingerde waarmee ek proewyne maak. Sou iemand vorentoe dit hier wil plant, kan hulle met my daaroor kom praat, dan kan ek met hulle resultate, planttegnieke en wingerdboukundige praktyke bespreek – dis iets waaroor ek trots is.
As jy ’n kelder kon ontwerp en bou, wat sal vir jou noodsaaklik wees?
Ek dink die kelder moet net ’n goeie uitsig hê, dan’s ek gelukkig.
LEES OOK: Wynmaker Matthew van Heerden
Watter wyn sal jy aanbeveel met soesji en wat met speseryagtige kos?
Soesji met ’n glas lekker sauvignon blanc; met speseryagtige kos sal ’n ou seker kyk na ’n bietjie rosé of iets met ’n lekker viognier. As kos te speseryagtig is, dan moet jy eerder bier drink, anders brand die chilli in elk geval al die smaak weg.
Hoe lyk die ideale Suid-Afrikaanse wyndrinker volgens jou?
Die ideale Suid-Afrikaanse wyndrinker drink te minstens 3 dae van die week wyn, verkieslik elke aand 2 glase wyn – dis die ideale wyndrinker! Ons per kapita wyn in die land is heeltemal te min, so mense moet meer wyn drink, maak nie saak watse wyn hulle drink nie.
As jy nie wynmaker geword het nie, watter ander beroep sou jy graag wou volg?
Nee, ek sou seker maar net vis geskiet het. Daar is sekere lande in die wêreld waar visskiet ’n professionele beroep is, soos Brasilië.
Watter wenke het jy vir mense wat voor ’n winkelrak staan en nie weet wat om te koop of waarna om op die etiket te kyk nie?
Hulle moet net minstens drie bottels wyn vat wat binne hul prysklas val; dit huis toe vat; elkeen proe en nie bang wees om iets nuuts te probeer nie. En dis hoe jy verrassings ontdek en leer.
Wat is die mooiste woorde wat jy al rondom wyn en die wynmaakproses gehoor het?
“Die wyn is volrond”.
Wie is jou wynmaak-helde?
Ouens soos Beyers Truter het baie gedoen vir pinotage; en dan natuurlik Duimpie Bayly.
Wat is jou vrou se naam en het julle kinders?
My vrou se naam is Suzán; en ons het twee kinders, ’n seun, Nicholas en dogter, Marié.
Woon julle op die plaas en indien wel, wat is die voordeel en nadeel daarvan?
Ja, ons woon op die plaas. Die voordeel is dat ons weet hoe om onsself te vermaak deur ons eie pizza te bou. ’n Nadeel is die koste-aspek van so ver van die dorp af wees.
Watter wynbestemming oorsee het jy al besoek, wat jou baie beïndruk het?
Die Rhône in Frankryk; Frankryk in geheel het my baie beïndruk. Italië, Argentinië … maar oral waar ek was waar hulle wynmaak, beïndruk my!
As jy een bekende kon nooi vir ’n wynproe, wie sou dit wees?
Ek dink ek sou op die oomblik nogal daarvan hou om vir Mmusi Maimane of Pravin Gordhan te kon nooi… ek sou nogal met enige van hul twee ’n bietjie kon sit en gesels.