By African Vineyard Gastehuis en Spa op Kanoneiland is die sjef-situasie effe anders as by ander vierster-gastehuise of -hotelle: hier is dit spanwerk wat die gaste se monde laat water.
Deur Maryke Roberts en Theuns de Bruin
Die eienaars, Theuns en Elmarie de Bruin, het twee werkers opgelei om in die kombuis hul man te staan en so saam-saam verrig dié vierstuks wondere.
Loy Motepe was aanvanklik ’n wingerdwerker, maar haar potensiaal was gou duidelik en sy het in die huis en toe gastehuis begin werk. Vandag is sy die raakvatter wat al die vleisdisse maak en onder haar vingers kry skaapbredie en beesstert en Karootjoppies nuwe betekenis. Alida Khowe is die fyngebak-ster en gaste vra maklik vir ’n tweede happie van haar malvapoeding of suurlemoentert.
Theuns maak al die soppe en Elmarie is gasvrou, kelner, wynkelner en sy soek nuwe resepte vir die span. Loy vertel: “Mevrou soek op die internet; ons maak die resepte en gee dit ons eie stempel.”
Theuns en Elmarie se voorliefde vir reis en om ander kulture te ervaar en te ontdek, het oorgespoel na eksperimentering met kos. Die uitdaging is om dit wat van toentertyd deel was van hul kinderherinneringe te kombineer met hul nuwe ervarings en só ’n unieke, eerlike kos-ervaring te skep.
Daar is min mense wat Theuns – ’n Kalahari-kind – kan nadoen met sy kennis van vleis. Die De Bruins sê om Loy en Alida op te lei, gee hulle soveel bevrediging. “Dit gee ’n vonkel in die oog wanneer die gaste vir ’n tweede skeppie vra en dan vir ’n resep skimp. Die antwoord is altyd: ‘Kom kuier weer, sodat ons julle verder kan bederf!’”
Wat is jou kinderherinnerige aan kos?
Alida: Matabelepap
Loy: Roosterkoek
Elmarie: Lamskerrie en melkkos
Theuns: Vars rugstring en suursous
Wat geniet jy die meeste in die kombuis?
Alida: Die lekker gesellige atmosfeer as ons almal saamwerk.
Loy: Die beplanning van die volgende gereg of maaltyd.
Elmarie: Om verskillende geurkombinasies te ontdek.
Het jy ’n spesiale gereg/dis waarvoor jy nou al bekend is?
Alida: Malvapoeding
Loy: Beesstert
Elmarie: Vars slaaie, voorgeregte en “die uitdink van unieke koskombinasies”.
Theuns: My soppe is my kenmerk.
Het jy ’n gunstelingresepteboek?
Alida: Wenresepte 2
Loy: Kook en Geniet
Wat is jou gunstelingkrui of -bestanddeel?
Alida: Gemmer
Loy: Growwe swartpeper
Elmarie: Koljander, roosmaryn, steranys, kaneel, neutmuskaat en roket.
Theuns: Ek is baie lief vir neutmuskaat en koljander.
Iets wat jou ouma of oupa gemaak het en jou onmiddellik weer laat kind voel as jy dit eet/sien/ruik?
Alida: Lensiesop
Loy: Vetkoek
Theuns: Ek het in die Kalahari grootgeword en is mal oor roosterkoek en vleis met ’n vaalsous.
Wat is jou gunstelingkosreuk?
Alida: Kerrie wat kook.
Loy: Warm beskuit
Elmarie: Kerrie met sterk geure – ek glo dat al jou sintuie jou kos-ervaring beïnvloed.
Theuns: Roosterkoek en vleis wat braai.
Watter kos het jy nog nie geproe nie, maar wil graag?
Alida: Biltongpotjie
Loy: Soesji
Wat is vir jou belangrik by die bediening van kos – kerse, goeie linne, vars blomme, ens?
Alida: Blomme en kerse.
Loy: Vars blomme en goed op verskillende hoogtes.
Elmarie: Vars blomme, lapservette, goeie glase, kerslig – alles kommunikeer respek vir diegene aan wie jy die kos voorsit.
Wat behoort enige goeie kok vir goeie resultate te doen?
Alida: Jy moet altyd jou beste gee in die kombuis.
Loy: Jy moet tevrede voel met dit wat jy voorsit.
Elmarie: My kosstyl is kreatief, daar is geen beperking nie – elke bestanddeel of produk wat jy nie in jou huis het nie, gee die geleentheid om iets nuuts te skep. Ek hou nie van strukture nie – ek hou nie van bak nie, jy moet by ’n resep bly! Daarom hou ek meer van kosmaak, jy kan die hele tyd skep en nuwe ervarings optower.
Die span by African Vineyard se resep vir Groenvy-en-neut-malvapoeding:
Bestanddele
1 koppie suiker
1 koppie koekmeel,
1 t asyn
1 t koeksoda
½ t sout
1 eetl botter
1 eier
1 eetl appelkooskonfyt
1 koppie melk
Metode
Verhit die oond tot 180 grade Celsius. Room die botter en suiker saam, voeg die eier by en klits. Voeg die asyn, sout en konfyt by en klits. Los die koeksoda in die helfte van die melk op en voeg by die mengsel. Klits tot goed gemeng. Klits die res van die melk en die meel om die beurt by en meng deeglik na elke byvoeging.
Voeg grofgekapte pekanneute en groenvye by die mengsel. Gooi in ’n groterige oondvaste bak. Bak 30 minute as die resep enkel gemaak word en 45 minute indien dubbel.
Sous
Bestanddele
¼ koppie botter
1 koppie suiker
½ koppie kookwater
1 t vanielje
1 koppie room of ingedampte melk.
Metode
Room botter en suiker saam, gooi kookwater, room en geursel by. Meng en giet stadig oor die poeding sodra dit uit die oond kom.
Wenk: Vir ekstra geur, voeg ’n bietjie Amarula of Lavoka by voor die sous oor die poeding gegooi word.