In Karl Tessendorf en Greg Gilowey van Beer Country se Beer Food Fire-kookboek, deel hulle resepte wat alles oor die kole gemaak kan word
Deur MARYKE ROBERTS
Foto’s verskaf
Dis nou wat gebeur as twee swaers hul liefde vir braai en craft-bier een te ver neem; of is dit? Hulle reis in hul boek deur die Suid-Afrikaanse craft-bierwêreld en gesels met ’n paar mense oor hul gunstelingbiere. Hulle meer as 80 resepte is almal oor en oor beproef en met elke resep is daar ’n voorgestelde bierpasmaat. Hulle leer jou ook hoe om bier in jou resepte te gebruik. Hulle is reeds baie gewild op die kassie en as jy nie na elke episode jeuk om te reis en te braai nie, is jou hart van klip. Probeer iets uit die boek vir Vadersdag of enige ander dag, vir die man of pa in jou lewe.
Hoe het julle besluit om in 2011 vir Ultimate BraaiMaster in te skryf en hoe het dit jul kos- en bierreis bepaal tot in 2019?
Greg: Ek het net die deure van my produkontwerp-besigheid finaal gesluit, toe ek sien Justin Bonello hou ’n geelstert in die lug en vra: “Is jy SA se volgende Ultimate Braai Master?” Ek het Karl nadergetrek en ons het gereken ons gaan dit ’n kans gee. Dit was die vonk wat die vuur aangesteek het op hierdie kos-en-vuur-reis van ons. Ou Bonello het gesê om deel te neem, gaan ons lewens verander en ek moet hom krediet gee; dit het.
Hoe het die idee van Beer Country ontstaan?
Karl: Omtrent onmiddellik nadat ons Braai Master verloor het, het ons onsself jammer gekry – natuurlik met ’n bier in die hand – en toe besluit as ons nie Braai Master kan wen nie, maak ons ons eie televisieprogram. Ons het gedink dis eenvoudig. Hoe verkeerd kan mens wees!
Wat doen julle vir ’n beroep as julle nie braai nie?
Greg: Deur die verloop van jare het Beer Country ontwikkel van ´n TV-program tot ´n handelsmerk vir baie dinge. Ons vervaardig en skryf video-inhoud. Ons eerste resepteboek is uit. Ons werk baie saam met Suid-Afrika se beste bierbrouerye. Ons het ons eie braaispeserye ontwikkel en ons werk nou aan ’n brandrissiesous. Ek dink as jy iets geniet, en dis die moeite werd om aan te pak, sal ons twee dit doen.
Wat is daardie een resep wat jy oor en oor maak en nie jy of jou vriende ooit moeg voor word nie?
Karl: Seker die hoendervlerkies, en daarom het ons drie weergawes in die boek ingesluit.
Is daar een resep uit jul kookboek wat jy sou bestempel as die gunsteling van alle gunstelinge?
Greg: Dis ’n moeilike vraag omdat ons boek ’n versameling van ons gunstelingresepte is. Die gerookte hoendervlerkies met wit braaisous is altyd ’n wenner; lamtjops met ment-salsa is op ’n heel ander vlak; en die koeksisters met grondboontjiebotter-geklopte-room is ongelooflik. Maar vir die alles omvattende geurbom, kies ek die skilpadjies gestop met bloukaas en vye. So stout, maar so goed.
Hoe gereeld braai jy en hoe voel jou vrou daaroor?
Karl: Ons braai baie, want ons kom graag bymekaar en dan hou ons die braai eenvoudig, maar geurvol. Die vrouens kla altyd hulle kry nooit die lekker goete uit die boek nie!
Wat was die mees romantiese maal wat jy nog geniet het?
Greg: Kan broederliefde tel? Ek glo so. Dit was die eerste uitdaging van die Ultimate Braai Master op die oewer van die Oranjerivier. Ons het gebraai en gefaal; sleg. Maar dit was die begin van hierdie bier-en-kosromanse.
Wat is jou terugvaldis as jy vinnig iets moet braai?
Karl: Ek is mal oor ’n kaasburger en ’n boerie-rol. Hulle is vinnig, maklik en vul net die regte gaatjie.
Watter drie bekende mense sal jy nooi vir ’n lekker braai en hoekom?
Karl & Greg: Justin Bonello, want hy staan al vir jare bankvas agter ons en hy kan help uie kap; Kingsley Holgate, want daai man het al goed gesien en ervaar en die stories sal epies wees. En dan óf Bob Marley óf Dave Grohl, want elke braai het ’n goeie klankbaan nodig.
Wat sal op die spyskaart wees?
Karl & Greg: Dit sal Karoolam op die spit met al die bykosse en ’n suurdeegbrood of twee moet wees, wat Karl se spesialiteit is en dan natuurlik baie bier!
Waar braai julle die graagste?
Greg: Ons was al bevoorreg om by regtig uitsonderlike en soms mal plekke te braai – van bergpieke tot rivieroewers, Weskus-strande tot hoefsmid-werkswinkels en oral tussenin. Maar ek geniet ’n braai by ons vriende se plaas, Brandfontein op die suidelike tippie van Afrika, die meeste.
Watter een bestanddeel kikker vir jou enige braai op?
Karl: Wel, noudat vra, ons werk al geruime tyd aan ’n braaispesery wat ons Karoo Dust noem. Ek weet ek klink nou voortrekkerig, maar dit laat alles net beter smaak en dis nou beskikbaar by uitgesoekte winkels in Kaapstad.
As jy een braai moet uitsonder wat vir jou uitstaan oor die jare, watter een sal dit wees?
Greg: Die eerste maal wat my pa vir my die braaitang oorhandig het. Ek was sewe jaar oud en ek onthou dit soos gister. Ek kan nie erken of ontken dat ek daardie dag my eerste slukkie bier gehad het nie, maar wat ek wel kan sê: dit was heerlik!
Drie bestanddele waarsonder jy nie kan braai nie?
Karl: Mag ons weer Karoo Dust sê? Ek grap net. Dalk eerder gehlate-olyfolie, sout en peper en natuurlik suurlemoene of lemmetjies – ’n skeutjie sitrus lig enige dis.
Watter braaigereedskap het jou lewe verander en waarsonder geen goeie braaier behoort te wees nie?
Greg: Daar is hierdie lekker resepteboek, julle mag dalk al daarvan gehoor het: Beer. Food. Fire? Ek grap net en ja, daar is ’n lys van ons gunstelingbraaigereedskap in, maar as jy eerlik is, het jy net ’n goeie tang nodig en natuurlik ’n epiese mes.
Wie het jou al jou beste raad gegee?
Karl: Seker Justin Bonello op Braai Master – hy het ons geleer om altyd oop, eerlik en nederig te bly. Dis wonderlike woorde om by te leef.
Karl en Greg se resep vir rokerige bier-beslag Chilli Poppers
Hulle waarsku dat jy die pepers oor die kole kan diepbraai, maar dis gevaarlik. Maak hierdie een eerder op die stoof.
Genoeg vir vier mense
Bestanddele
Vir die brandrissies:
1 bakkie roomkaas
1 opgehoogte eetlepel gerookte paprika
1 eetlepel kappertjiesaad (capers), fyngekap
1 knoffelhuisie, fyngekap
’n Skeutjie suurlemoensap
Seesout en varsgemaalde swartpeper
12 groot ingelegte jalapeños
Metode
Meng al die bestanddele goed saam tot ’n pasta. Sny die jalapeños aan die een kant oop, skraap die saadjies uit en skep ’n lekker vol lepel beslag in en druk die brandrissie toe. Moenie te vol stop nie. Veel enige oortollige mengsel af.
Vir die deeg:
½ koppie koekmeel
½ koppie mielieblom
2 teelepels bakpoeier
1 eetlepel heuning
1 koppie lager van jou keuse
Seesout en varsgemaalde swartpeper
Metode
Meng die meel, mielieblom en bakpoeier in ’n mengbak en klits dan die heuning en bier by tot dit soos ’n pannekoekdeeg lyk. Geur na smaak.
Vir die braai:
Groot platboom potjie of Dutch oven
Genoeg kanola-olie vir diepbraai (net minder as die helfte van jou pot)
Digitale termometer
’n Bord met meel om die brandrissies in te rol
Metode
Verhit die olie tot 180 °C. Rol die brandrissies in die meel en doop dan in die deeg. Skud enige oortollige deeg af en laat sak die brandrissie in die warm olie. Braai tot goudbruin, verwyder en laat die oortollige olie op handdoekpapier afdrup. Bedien warm saam met jou gunsteling bier.