Jacques Cilliers is Zandvliet Wynlandgoed tussen Bonnievale en Robertson se wynmaker en algemene bestuurder
Deur: Maryke Roberts
Foto: verskaf
Op skool het hy gedroom van eendag boer of beroepsgholfspeler word en wynmaker is so ná aan boer soos kan kom. Jacques is getroud met Annaleen en hulle het drie kinders.
Waar was jou eerste werk en wat het dit behels?
My heel eerste “werk” was om tydskrifte af te lewer toe ek 11 jaar oud was. Maar my wynloopbaan het by Rust & Vrede begin met die maak van hul rooiwyn.
Hoe het jou belangstelling in wynmaak begin?
Ek wou boer of in die landbousektor werk. Na twee jaar se studies het ’n dosent my inskrywingsvorm met my keuse vir die volgende jaar se spesialisrigtings geneem, Vee- en Groenteboerdery doodgetrek en Wyn ingevul.
Wat het jy vinnig as wynmaker geleer, wat jy nie verwag het nie?
Ek het vinnig besef die plesier van wynmaak is volop, maar jy gaan nie vinnig sakke geld maak nie… en dit is maar reg so. Die tyd in die kelder, die satisfaksie van ’n goeie bottel wyn maak is genoeg.
Hoe sien jy jouself as wynmaker – versigtig, voortvarend, avontuurlustig of konserwatief, en hoekom sê jy dit?
Ek hou van uitdagings, maar respekteer die gevestigde handelsmerk waarmee ek nou werk. Dit gaan vreemd lyk as ’n ou oom ewe skielik ’n speedo op die strand aantrek. Ons is besig om Zandvliet stukkie vir stukkie meer hip te maak, sonder om tradisie en erfenis by die agterdeur uit te gooi. Die plaas spog met ’n pragtige herehuis – Kaapse gewel en al – en geslagte ken Zandvliet vir sy shiraz. Dit keer ons egter nie om voortvarend en avontuurlustig te wees met nuwe aanplantings nie. Ons wingerde groei dan nou sy aan sy met sitrusboorde en die Zandvliet en ClemenGold-pasmaat werk verbasend goed.
Hoe dink jy kan ’n wynplaas sy beeld onder die publiek verbeter?
Maak wyn wat lekker drink en hou op om wyn bloot vir kompetisies te maak.
Wat beplan jy vir die plaas en kelder die volgende paar jaar?
Ons het mourvèdre en carignan gemaak wat in ’n versnit met shiraz gaan. Ek oorweeg ook ’n aanplanting van chenin blanc teen een van ons suidelike hellings waar die wind byna onophoudelik waai. Ons plant tans nog wingerde aan en beplan om die gasvryheidsaanbod uit te brei om ’n 4-ster-gastehuis, restaurant, kapel en trouvenue, konferensiefasiliteite en meer in te sluit. Die plaas behoort in die nabye toekoms ’n aansienlike bydrae tot die toerismebedryf langs die R62 te maak.
Wat is vir jou die mooiste eienskap van wyn?
Dat jy dit met jou vriende kan deel. Dit is altyd ’n gesogte geskenk en sorg vir kosbare kuiergeleenthede waar herinneringe geskep word.
Wanneer geniet jy jou wyn die meeste?
Annaleen het geen wyn gedrink toe sy ons drie kinders verwag en geborsvoed het nie – so dit was maar ’n eensame vyf jaar vir my. Nou geniet ons gereeld saans of oor naweke ’n wyntjie saam.
Wat is jou gunstelingkultivar en hoekom?
Shiraz en chardonnay – hoe dan nou anders as jy die voorreg het om op Zandvliet, die tuiste van shiraz, wyn te maak. Shiraz gaan saam met alles en maak ’n sagte, vrugtige wyn wat mooi verouder. Ek is ook ’n chardonnay-liefhebber en hou van ’n afgeronde, romerige smaak.
Met watter kultivar het jy nog nie gewerk nie, wat jy graag sal wil?
Terret noir – ’n donker-skil Franse variëteit wat primêr in die Rhônevallei groei.
Wat is jou mooiste herinnering rondom wyn?
Met my geboorte in 1976 het my pa ’n paar kiste wyn van daardie jaar gekoop. Ek het nog 6 bottels daarvan oor – regtig spesiaal!
Wat glo jy is die uitdaging/eise vir ’n wynmaker in SA in 2017?
Die uitdaging vir ’n hedendaagse wynmaker is om jou styl by die verbruiker se smaak en beursie aan te pas om so verkope te dryf. Daar is so baie handelsmerke wat met mekaar meeding dat wynmakers nie bloot wyn kan maak volgens hul eie persoonlike voorkeure nie.
Wat was sover jou grootste uitdaging as wynmaker?
Die 2008 chenin blanc-oes toe daar redelik vrot in die wingerd was en ek nogtans daarvan moes wyn maak. Die uiteinde was ’n pluimpie uit ’n verrassende oord.
Waaroor is jy besonder trots in jou loopbaan?
As jy as wynmaker op 25 begin wynmaak en op 60 aftree (ek ken bitter min wynmakers bo 50) dan het jy 35 oeste voor jou. Dis min. So ek voel geweldig trots op elke oes wat suksesvol gebottel word.
Watter een groot struikelblok het al vir jou in die kelder gewag, wat jy trots was om te oorkom?
Eskom se kragonderbrekings wanneer ek verkoeling nodig het om die Muscat se gisting te stop. Dit hou jou op jou tone! Ek reken die krag het afgegaan om my te ontneem van enige manier van inmeng by die wynmaakproses.
Watter wyn- en kos-pasmaat geniet jy gereeld en vind dat die twee mekaar perfek aanvul?
Kalkveld shiraz saam met ’n Boesmanlandse skaaptjoppie.
Hoe lyk die ideale Suid-Afrikaanse wyndrinker?
My ideale profiel van ’n SA wyndrinker: hy drink nie bier nie (grappie) en daag wynmakers uit om meer avontuurlistige wyne te maak. Hy daag homself ook uit om ’n groter verskeidenheid wyne te probeer en geniet.
As jy ’n kelder kon ontwerp en bou, wat sal vir jou noodsaaklik wees?
Dit sou ingebou moes wees teen ’n suidelike berghang met oop rooiwynkuipe wat jy kan deurdruk tydens gisting. Geen pompe nie – meer natuurlik asseblief.