‘n Skatkis van 61 uiteenlopende wyne gaan op 30 September by die 33ste veiling van die Nedbank Kaapse Wynmakersgilde in Stellenbosch opgeveil word
Deur Maryke Roberts
Foto verskaf
‘n Eerste vir die veiling is twee versnitte wat deur twee wynmakers, Adi Badenhorst van AA Badenhorst Family Wines en Duncan Savage van Savage Wines, gemaak word.
Love Boat White 2016 is ‘n versnit van sauvignon blanc, grenache blanc, roussanne, semillon, chenin blanc en viognier, terwyl Love Boat Red 2016 ’n versnit van shiraz, grenache en cinsaut is.
Hoe het jou belangstelling in wynmaak begin en waar was jou eerste werk en wat het dit behels?
Adi: Op die plaas Buitenverwachting, waar ek grootgeword het. Daar was altyd wyn in die huis. Ek onthou my oupa se mos nog baie goed wat vinnig sterker geraak het onder die kombuis by hul huis – die geure en aromas is nog helder in my geheue.
Duncan: Nadat ek in standerd 9 saam met my maats Autumn Harvest Crackling op die rugbyveld gedrink het, en in matriek van die goeie goed geproe het, was ek oortuig. Ek het verlief geraak op wyn. Ek het ’n paar kursusse by die Cape Wine Academy gedoen en is toe drie jaar later Elsenberg toe. Ek het my eerste werk by Cape Point Vineyards begin, slegs vier dae nadat ek graad gevang het. Ek was 14 jaar by Cape Point Vineyards voor ek einde 2016 selfstandig geword het.
Hoe lank is jy al deel van die Kaapse Wynmakersgilde?
Adi: Sedert 2005.
Duncan: Sedert 2007.
Hoe het julle ontmoet?
Adi: Ek het Duncan ‘n klompie jare terug ontmoet, toe hy en ‘n vriend hul skelm port wou kom wegsteek by die plek waar ek gewerk het. Hulle was jong studente met drankasems en ‘n vaatjie port agter op ’n bakkie.
Duncan: Tydens ‘n kersligete baie jare terug. Dit was vreeslik romanties.
Wie se idee was die versnit en waar kom die druiwe vandaan en hoe het die versnyding gewerk?
Duncan: Verlede jaar terwyl ons in Noorweë gereis het om wyn te verkoop, het die twee van ons verblyf gedeel en besluit om kreatief te raak. Ons het verblyf op ’n boot bespreek wat net soos die Titanic in die foto gelyk het. Dit was egter in werklikheid so ‘n bietjie anders. Daar was geen ander opsie as om lepel te lê nie. Ons het ’n foto geneem van die twee van ons in die bed en dit op Twitter geplaas. Die vier aanhangers wat ons op Twitter tussen ons het, was mal daaroor en dit het ons laat besluit om saam ’n wyn te maak. Die meeste van die druiwe kom van die Swartland af. Ons het die komponente wat ons afsonderlik gemaak het, versny. Daar was nie werklik ’n denkproses nie. Ons het dit net op gevoel gemaak.
Adi: Dis net soos Duncan sê. Zani, Duncan se vrou, was ons toerbeplanner en het die avontuur en begroting tot op die verste punt gevat! By omtrent elke Airbnb moes ons ’n bed deel.
Hoe sien jy jouself as wynmaker?
Duncan: Loskop en passievol.
Adi: Baie meer loskop as Duncan.
Waar kom die naam van The Loveboat vandaan?
Albei: Om lepel te lê op ‘n boot. Daar was nie veel opsies nie.
Watter eienskappe het ’n moderne wynmaker nodig om te oorleef?
Adi: Jy moet ‘n wynmaakstyl of -filosofie hê, asook hoëgehalte druiwe. Jy moet weet waarna jy mik.
Duncan: Dit gaan nie net oor wynmaak nie. ’n Mens moet nogal dinamies wees.
LEES OOK: Wynmaker: Danie Steytler
Wat beplan jy vir die plaas en kelder die volgende paar jaar en is daar nog versnitte op pad, dalk met ander wynmakers?
Adi: Ek en Duncan is lojaal teenoor mekaar. Ons sal beslis aangaan met die Love Boat. Die oseaan is ‘n groot plek. Ek plant ook druiwe aan en probeer ‘n paar ander goed.
Duncan: Dit is soos ‘n huwelik en ons is tans in die wittebrood-stadium, met groot planne. Ons is nie heeltemal seker hoe dit sal eindig nie, maar ons sal definitief pret hê.
Van watter beroep het jy op skool gedroom?
Duncan: Al waaraan ek op skool gedink het, was branderplankry en meisies.
Adi: Ek het nooit gedink ek sal ooit skool slaag nie. Ek het gedink om my tyd by die snoepie deur te bring is maar my lot!
Wat is vir jou die mooiste eienskap van wyn?
Adi: Die manier waarop wyne kan verouder en ‘n storie van daardie tyd kan oordra as jy diep genoeg in die bottel kyk.
Duncan: Ek is mal oor die elegansie en beheersdheid.
Wat is jou gunstelingkultivar en hoekom?
Adi: Ek is lief vir steen, grenache en cinsaut. Die wyne uit hierdie druifsoorte het diepte van karakter.
Duncan: Cinsaut. Die kultivar word onderskat en is beskeie, maar kan ongelooflike wyn oplewer.
Met watter kultivar het jy nog nie gewerk nie, wat jy graag sal wil?
Adi: Daar is heelwat natuurlik, maar ek sou graag eendag in Korsika wou gaan wyn maak.
Duncan: Daar is ‘n lang lys, maar ek sal graag met Nebbiolo in Italië wil werk.
Watter kultivar kry te min aandag in SA en sal jy graag in die toekoms wil sien ontluik?
Adi: Daar is heelwat nuwe variëteite wat nou in die land inkom. Die uitdaging is om hulle op die regte plekke te vestig en op die korrekte manier te boer.
Duncan: Portugese druifsoorte soos die touriga nacional.
LEES OOK: Wynmakers: Jan van Rooyen, Avontuur
Wat glo jy is die uitdaging/eise vir ’n wynmaker in SA in 2018?
Albei: Waterskaarste.
Hoe lyk die ideale Suid-Afrikaanse wyndrinker?
Adi: Dis maar ‘n moeilike ding om wyn te koop. Ek kan skaars tandepasta koop met die hoeveelheid handelsname op die rakke, wat nog te sê van wyn? My raad: Drink wyn wat ‘n bietjie duurder is. Dit is nie noodwendig ’n indikasie van kwaliteit nie, maar wel van die moeite wat daarin gegaan het.
Duncan: Daar word baie ure en werk in die maak van ‘n bottel wyn geploeg. Mense in Suid-Afrika moet besef dat ons wyn steeds baie billik is. Wynpryse moet opgaan om die bedryf oor die lang termyn aan die gang te hou. Ons wil graag hê dat mense moet eksperimenteer en nie bang wees of deur wyn geïntimideer word nie. Die ideale verbruiker voel verlore sonder ‘n glas wyn.
Wat is die een ding van die wynmaakproses wat jou fassineer?
Adi: Hoe wat jy in die wingerd proe, nie noodwendig in die wyn beland nie.
Duncan: Die wingerde.
Watter wenke het jy vir mense wat voor ’n winkelrak staan en nie weet wat om te koop of waarna om te kyk op die etiket nie?
Adi: Kyk vir nou nét uit vir die Love Boat.
Duncan: Drink waarvan jy hou.
Wat is jou vrou en kinders se name en woon julle op die plaas?
Adi: Cornelia, wat alles op die plaas reël en meer. Ons kinders is Samuel (11) en Ana (8). Ons woon op die plaas.
Duncan: Zani. Ons het twee dogters. Ons bly in Vishoek, want daar is ongelukkig geen wingerde in Soutrivier by die kelder nie.
Watter internasionale wynmaker sal jy graag wil ontmoet?
Albei: George Spies.
Hoe voel jy oor die toekoms van die SA wynbedryf?
Duncan: Daar is ‘n massiewe toekoms vorentoe.
Adi: Die ongelooflike potensiaal van hierdie land se wyne word nou eers weer raakgesien en die wyne word al hoe beter en interessanter.
- Die 2017 veilingwyne bestaan uit 42 rooiwyne, 18 witwyne en een Méthode Cap Classique wat die totaal van 2 962 kiste (6 x 750 ml per kis) opmaak.