Pieter Carstens is die afgelope tien jaar die wynmaker by Leeuwenkuil Familie Wingerde buite Stellenbosch
Deur MARYKE ROBERTS
Foto verskaf
Hy het verskeie toekennings agter sy naam, maar sy Leeuwenkuil Heritage Syrah 2015 het by die Old Mutual Trophy Wine Show 2018 nie minder nie as drie toekennings ingepalm: Makro-trofee vir beste Shiraz, Old Mutual International Judges-trofee en die Old Mutual-trofee vir beste rooi wyn algeheel.
Hoe voel dit om by die Old Mutual Trophy-wynskou beloon te word?
Ek geniet die internasionale palet van die Trophy-skou, daarom is dit een van die min plaaslike skoue waarvoor Leeuwenkuil inskryf.
Hoe het jou belangstelling in wyn begin?
My oupa, Piet Krige, was ’n redelik groot produsent by Porterville-kelder. Die kelder het altyd vir my soos ’n heilige plek gevoel.
Waar was jou eerste werk en wat het dit behels?
Ek was te jonk vir verpligte weermagdiensplig, maar ná Stellenbosch moes ek ‘bedryfsdiensplig’ by Goue Vallei Wyne in Citrusdal doen. Was assistent-wynmaker en later wynmaker
Hoe het jy in jou huidige pos beland en hoe lank is jy al daar?
Willie Dreyer het tien jaar terug die groot besluit geneem om ’n groter deel van die waardeketting te besit deur sy druiwe self te verwerk en verkoop. Ek was hoofwynmaker by ’n Koöp wat sy oes verwerk het en het nie net sy plaas en druiwe se potensiaal verstaan nie, maar ook sy uitkyk op die bedryf geniet.
Watter deel van jou werk geniet jy die meeste en watter deel die minste?
Ek is mal oor die wynmaak en -verkoop. Menslike hulpbronne maak my moeg.
Hoe voel jy oor kompetisies en toekennings?
Ons maak wyn om te drink en nie om mee te skou nie, dis dus lekker as ’n paneel die wyn se potensiaal raaksien en daarvolgens beloon.
Voer julle uit en hoe lyk die persentasie plaaslik versus uitvoer?
75% van Leeuwenkuil se wyn word vir die uitvoermark gemaak.
Hoe groot is jul wynreeks?
Te groot.
LEES OOK: Wynmaker: Flip Smith
Watter kultivar dink jy is jul vlagskip en in watter kultivar lê jul toekoms?
Shiraz/chenin en alles wat daarmee versny kan word.
Watter wenke het jy vir mense wat voor ’n winkelrak staan en nie weet wat om te koop nie? Koop wat jy ken en vertrou, maar eksperimenteer ook. Die wêreld van wyn is kompleks met verrassings om elke draai.
Watter kultivar gee jou die grootste kopseer?
Een met te veel SO2 by.
Watter kultivar stem die beste ooreen/beskryf jou persoonlikheid die beste?
Chenin: aanpasbaar
Hoe voel jy oor die beeld van die plaas onder die publiek en hoe belangrik is daardie beeld?
Vir ‘n jong handelsmerk is die beeld besig om mooi te ontwikkel. Die Dreyers besit baie wingerde en ons maak baie wyn – mense verstaan nie altyd dat jy groot én goed kan wees nie.
Wat is die grootste les wat jy as wynmaker geleer het?
Groei of dood! Jy moet elke dag nuwe uitdagings aanpak.
Hoe sal jy jou wynmaakstyl beskryf en hoekom sê jy dit?
Iets wat my dosente se hare sou laat regop staan.
Wat beplan jy vir die volgende paar jaar?
Drie nuwe versnitte, wit rooi en rosé.
Met watter kultivar het jy nog nie gewerk nie, wat jy graag sal wil?
Riesling
Wat glo jy is die uitdaging/eise vir ’n wynmaker in SA in 2018?
Dis ’n allesomvattende beroep wat jou dwing om op vele vlakke en dissiplines te werk.
As jy ’n kelder kon ontwerp en bou, wat sal vir jou noodsaaklik wees?
Ek beleef tans die voorreg om dit te doen! Prakties, min mense en water nodig
Vertel my van jou troeteldiere?
’n Rottweiler, Jack Russell en Bulterriêr, ’n evil kombinasie!
Wat kan die gemiddelde Suid-Afrikaanse wyndrinker doen om die SA wynbedryf te help groei? Bring jou kant en stem met jou beursie.
Wat is die een ding van die wynmaakproses wat jou fassineer?
Die feit dat vele prosesse vir die moderne mens nog Grieks is.
As jy nie wynmaker geword het nie, in watter ander beroep sou jy kon gelukkig wees?
Veearts
Watter wynproe staan vir jou uit oor die jare?
Dit was 2011 saam met ’n klein produsent in Vouvray. Daar het ek geleer dat wynboer en wynmaak aan jou senuwes knaag en dis moeilik om jouself daarvan los te maak – dis deel van jou DNS.
Wie inspireer jou?
Ek het vele mentors en het dalk nog meer nodig! My interne dryfkrag is sterk en die mentors hou my op die regte pad.