Niël Groenewald is einde verlede jaar as Distell se nuwe hoofwynmaker aangestel
Deur Maryke Roberts
Foto verskaf
Hy is ’n deurwinterde, bekroonde wynmaker én bemarkingspesialis.
Niël het ’n MBA aan die Universiteit van Kaapstad en ’n BSc Hons van Stellenbosch-Universiteit verwerf. Hy kom van DGB, waar hy vir 14 oesjare die hoofwynmaker van Bellingham was. Die laaste paar jaar was hy ook verantwoordelik vir die bemarking van hierdie handelsmerk.
Hy is nou in beheer van die land se grootste wynportefeulje. Die maatskappy se uiteenlopende en internasionaal beskikbare reeks wissel van premium-handelsmerke soos Nederburg, Durbanville Hills, Fleur du Cap en Alto tot by gewilde hoofstroomwyne soos 4thStreet and Drostdy-Hof. Sy fokus sal egter hoofsaaklik op die tophandelsmerke wees.
Voor hy hom in 2004 by DGB aangesluit het, het hy onder meer by Neethlingshof en Seidelberg gewerk, asook by die koöperatiewe wynkelders Perdeberg en Kango. Sy bynaam op die plaas is Tiny, maar hierdie reus is alles behalwe klein!
Hoe het jou belangstelling in wyn begin?
Ek het Landbouwetenskap as vak op skool gehad en die onderwyser, Jakkals van der Merwe, se entoesiasme het ‘n liefde vir landbou in my aangewakker.
Wat is jou vroegtste herinnering aan wyn in jou grootwordjare?
Ek was sewe jaar oud en my ouers het in die Hoedjiesbaai Hotel in Saldanha ‘n bottel Bellingham Johannisberger gedrink. Die vorm van daardie bottel het my gefassineer. Daarna het ek bottels begin versamel.
Hoe het jy die afgelope oes in jou nuwe pos ervaar – hoe het die uitdagings verskil van vorige jare?
Die oes het redelik glad verloop. Volumes was ongelukkig laer as wat ons verwag het. In die verlede het ek die wingerde se vermoëns goed geken, maar omdat die wingerde vir my nuut was, moes ek vanjaar baie op my span se ervaring staatmaak en hul leiding volg met betrekking tot wanneer die beste tyd sou wees om te pars.
Jy werk aan ’n klomp handelsmerke. Hoe verskil dit van net een fokus?
Elke handelsmerk is uniek. Die geheim is om daardie unieke fokuspunt binne die handelsmerk te kry, dit te behou en om dan die uitbeelding daarvan deur aksies te versterk. Dit is ongelooflik belangrik om daardie fokus te behou.
Watter kultivar dink jy is Suid-Afrika se kaartjie na die toekoms?
Ek dink nie ons moet dieselfde fout maak wat ander lande gemaak het deur net op een kultivar of styl te fokus nie. Ons terroir is so uiteenlopend dat daar meer as een kultivar sál wees. Chenin blanc en pinotage is meer eie aan Suid-Afrika. Ons kan egter ook uniekheid aan ander kultivars bring soos shiraz, cabernet sauvignon, grenache blanc en sauvignon blanc vergeleke met die ander internasionale rolspelers in die wynbedryf.
LEES OOK: Wynmaker: Frans Smit
Hoe kan die algemene publiek beter ingelig word oor die verskillende kultivars en wynstyle?
Die Kaapse Wynakademie (KWA) bied ‘n verskeidenheid wynkursusse aan, ook vir beginners. Hulle kan ook die Brits-gebaseerde WSET (Wine and Spirit Education Trust) kontak vir ‘n reeks kursusse wat plaaslik aangebied word en handel oor plaaslike en internasionale wyne. Hulle is welkom om my te kontak vir meer inligting.
Hoe voel jy oor deelnames aan kompetisies en wynskoue?
Dit is belangrik om aan die regte kompetisies deel te neem en ook om die regte redes. Jou kompetisie-strategie hang af van waar jy wil verkoop. In Suid-Afrika is die Platter’s- wyngids nog steeds baie belangrik vir die verbruiker. In Amerika is sekere kompetisies belangrik, en in Europa weer sekere ander kompetisies.
Wat is die grootste les wat jy as wynmaker geleer het?
Ek het geleer dat wynmaak nie al is wat nodig is vir ‘n suksesvolle handelsmerk nie. Bemarking, fokus en betrokkenheid in die mark en bedryf is net so belangrik.
Wat dink jy is jou sterk punt wat jou die regte kandidaat vir die pos maak?
Ek kyk na die groter prentjie, kan strategies dink en ook my hande vuilmaak! Dit is belangrik om die kategorie van Suid-Afrikaanse wyne saam met ander rolspelers te bou en dit nie op jou eie te probeer doen nie. Ek glo aan “co-operation before competition” en ek kan sien hoe handelsmerke mekaar komplementeer. Ek kan egter ook op detail fokus en die beste uit my span kry om uitsonderlike gehalte wyn te maak.
Hoe sal jy jou wynmaakstyl beskryf?
Ek respekteer die wyn en behou die varsheid daarvan.
Wat beplan jy vir die volgende paar jaar?
Ons is besig om al die handelsname te ontleed en op grond daarvan te besluit waarop elke handelsnaam moet fokus. Ek wil hê my span moet bedryfsleiers en kundiges in sekere spesifieke variëteite word. Verder sal ons fokus op die groei van die Super-premium-kategorie, gegewe die stand van die wingerd en volhoubaarheid. Verder sal ons weer op wyn en die verbouing van druiwe fokus terwyl ons steeds ons leiersrol in Suid-Afrika se wynbedryf volvoer.
Watter kultivar wil jy sien groei in Suid-Afrika en met watter kulitvar wil jy nog of meer werk?
Ek sal graag premium chenin blanc, cabernet sauvignon en pinotage wil sien groei. Ek wil ook meer met Mediterreense kultivars soos grenache blanc werk. Cinsault moet ook sy regmatige plek in ons bedryf sowel as die internasionale mark inneem.
Watter kultivar bied die grootste uitdaging aan ’n wynmaker?
Pinot noir en merlot.
Wat is jou mooiste herinnering rondom wyn?
Ek het my eie wyn-versnit vir ons troue gemaak.
Dink jy die uitdagings is anders vir vroulike wynmakers as vir hul manlike eweknieë?
Inteendeel; ek dink vroue pas makliker by verandering aan en die wynbedryf word absoluut deur verandering gekenmerk. Die wynbedryf vereis ook die vermoë om meer as een ding gelyk te kan doen (multi-task) en vroue is baie beter daarmee as mans!
LEES OOK: Wynmaker Juandré Bruwer
Watter een groot struikelblok het al vir jou in die kelder gewag, wat jy trots was om te oorkom?
Beurtkrag.
Watter een van jou pryse is jou hart se punt?
Ek het ‘n pinotage gemaak wat in 2012 die eerste prys by die Decanter World Wine Awards in Londen gewen het. Die kompetisie was straf en daar was omtrent 7 000 inskrywings in die rooiwyn-kategorie.
Wat kan die gemiddelde Suid-Afrikaanse wyndrinker doen om die wynbedryf beter te ondersteun?
Daar is soveel fantastiese wyne – die verbruiker moet eksperimenteer! Ek leer elke dag iets nuuts. ‘n Mens sal nooit alles weet nie.
Wat is die een ding van die wynmaakproses wat jou fassineer?
Ek vind dit baie interessant dat, hoe verder ons tegnologies vorder en die verandering in die samelewing toeneem, hoe meer nostalgies raak mense en is daar ‘n hunkering terug na die wynmaakprosesse van die verlede.
As jy nie wynmaker geword het nie, watter ander beroep sou jy graag wou gevolg het?
Ek was van plan om ‘n chemiese ingenieur te word, maar ek het gevoel ek het te veel persoonlikheid!
Watter wenke het jy vir mense wat voor ’n winkelrak staan en nie weet wat om te koop of waarna om op die etiket te kyk nie?
Stap 1 is om te kies tussen rooi, wit of rosé. Stap 2 is om ‘n keuse te maak tussen soet, halfdroog of droog. Stap 3 is om te eksperimenteer. Jy kan deesdae amper nie meer ‘n slegte keuse maak as jy wyn koop nie. Meeste van die wyne is regtig goed en waarde vir geld.
Wie is jou wynmaak-helde?
Charles Back, Neil Ellis en Duimpie Bayly.
Watter internasionale wynmaker sal jy graag wil ontmoet?
Marcel Guigal en Brian Grozier.