Izele van Blerk is die KWV-wynmaker wat onder meer verantwoordelik is vir die premium The Mentors-reeks
Deur Maryke Roberts
Foto verskaf
Izele vier vanjaar haar 11de oes by KWV. Die reeks het agt wyne in sy permanente portefeulje – chenin blanc, sauvignon blanc, grenache blanc, grenache noir, petit verdot, pinotage, Orchestra en Canvas – maar sy en haar wynmaakspan het die vryheid om nuwe variëteite en versnitte ook te maak.
Het jy enige byname?
Mmmm, ek het ’n bynaam, maar dit kom nie van die wynbedryf af nie. Ek het die bynaam by my ma gekry toe ek twee jaar oud was: Kwaaitjie – ek was maar moeilik toe ek jonger was (die meeste mense in die wynbedryf ken ook die bynaam en baie noem my so).
Hoe navigeer mens die ergste droogte in 100 jaar?
Gooi jou handboek en resepte weg en werk met wat jy van die natuur af kry. Wynmakers moet baie meer in die wingerd kom en proe, proe, proe. Pluk op optimum rypheid, vergeet van analises en hanteer elke kultivar, streek en blok anders.
Wat glo jy is die uitdaging/eise vir ’n wynmaker in SA in 2018?
Die 2018-oes was baie uitdagend, kwaliteitsgewys was dit ’n moeilike jaar – veral in sekere streke. Alles was gelyk ryp en dit het gevoel of ek die eerste jaar in ’n kelder is. Daar is ook soveel handelsname op die mark; ons moet innoverend bly en kwaliteit en pryspunt is baie belangrik. Die mark is baie kompeterend en ons kompeteer nie net met SA handelsmerke nie, maar wyn regoor die wêreld. Dan praat ek nie eers van bier of ander alkoholprodukte nie.
Hoe het jou belangstelling in wyn begin?
Ek het in ’n wynhuis grootgeword – my pa is ’n wingerdkundige. Ek het egter nie gedink ek sou in die wynbedryf kom werk nie, aangesien ek direk na skool met ’n beurs Amerika toe is om tennis te gaan speel, maar ná ’n besering het ek teruggekom Suid-Afrika toe en BSC Wingerd- en Wynkunde gaan studeer.
Waar was jou eerste werk en wat is jou huidige pligte daar?
Ek het as student in 2008 my eerste pars by KWV gedoen, waar ek vir drie maande gepars het. Ek het in 2009 toe as assistent-wynmaker na KWV teruggekeer. Ek was verantwoordelik vir al die witwyne en die Mentors-kelder. Ek is einde 2010 bevorder na wynmaker en is tans verantwoordelik vir al ons premium wyne – The Mentors-reeks, Perold en Dr. Charles. Buiten wynmaak is ek ook verantwoordelik vir die voorbotteleringskelder en ook alle wynkompetisies, tenders en alle inligting rakende wyne; natuurlik met die hulp van ’n ongelooflike span wat elke afdeling bestuur.
Jy werk op ’n pragtige wynplaas wat internasionaal bekend is. Bring dit meer of ander verantwoordelikhede na die wynmaker as met ander plase?
KWV bied ons as wynmakers die geleentheid om met verskillende streke se druiwe te werk. Ons koop druiwe van 54 verskillende produsente van regoor die Wes-Kaap. Dit is ’n groot voordeel, veral in die kelder waar ek werk (The Mentors), aangesien dit die eksperimentele kelder is, waar ek fokus op verskillende en unieke kultivars, verskillende streke en ook verskillende wynmaaktegnieke.
Dan bied KWV ook vir my die geleentheid om te toer en wynlande en markte te besoek saam met ons bemarking- en verkoopspan. Ek dink dit is kritiek vir ’n wynmaker om kennis te verbreed, internasionaal te toer en om wyne van verskillende lande te kan proe en die markte te verstaan.
Die feit dat ek baie meer in die mark betrokke is, dink ek speel ’n groot rol in my verantwoordelikheid. En ja, KWV is vanjaar 100 jaar oud, wat beteken dat ons as wynmakers ’n groot verantwoordelikheid het teenoor KWV en die hele Suid-Afrikaanse wynbedryf om die volgende jaar te kan vier.
LEES OOK: Wynmaker: Alicia Rechner
Hoe ervaar jy jou werk as vrou in ’n oorwegend manlike bedryf?
Mans/vrouens, ek sien nie regtig geslag raak nie, ek sien ’n wynmaker… jy moet beoordeel word op jou vermoë om wyn te kan maak en te kan proe. Dit is soms ’n uitdaging, maar ek verkies om die positiewe raak te sien en daarop te bou. Vrouens se sintuie is baie meer sensitief, wat ons baie goeie proeërs maak. Ek dink elke persoon is uniek en bring iets tot ’n span en ek glo daaraan dat ons mense se sterk punte moet ontwikkel. Dit is wat ’n span goed maak.
Watter kultivar dink jy is KWV se vlagskip en in watter kultivar lê KWV se toekoms?
Petit verdot! Dit is ook my gunsteling-kultivar en waarvoor die Mentors-kelder begin is: om te eksperimenteer en veral te fokus op unieke kultivars soos petit verdot. Alles wat in die Mentors-kelder werk, word uitgerol na die groot kelders toe en die gevolg is dat ons ’n klassieke petit verdot ook gebottel het.
Petit verdot speel ook deesdae ’n groot rol in die Roodeberg-versnit. Die kultivar bring soveel na ’n wyn – uitstekende kleur, geur en struktuur.
Hoe voel jy oor die beeld van die plaas onder die publiek en hoe belangrik is daardie beeld?
KWV is vanjaar 100 jaar oud en dit is ´n groot mylpaal in die Suid-Afrikaanse wynbedryf, ons is baie trots en wil die volgende 100 jaar nog meer spesiaal maak. Ons geskiedenis is ryk, veral met handelsname soos Roodeberg en Perold en ons vlagskip-reeks, The Mentors.
Die beeld wat die publiek van ons het, is ongelooflik belangrik. Dit is tog die mense wat die wyne koop en geniet. As dit nie vir die publiek was nie, sou KWV nie 100 jaar kon vier nie.
Wat is die grootste les wat jy as wynmaker geleer het?
Sjoe daar is so baie, maar die een ding wat uitstaan, is nederigheid – wyn hou jou nederig en die wynbedryf ook. Ons werk met die natuur en n lewendige produk, ek as wynmaker kan net oplewer wat ek van die natuur af kry.
Spanwerk is ook baie belangrik. Van die druifprodusent, wingerdkundiges, kelderspan, bottelering, bemarking en verkope; as een skakel nie daar is nie, kan ons nie die beste wyne produseer nie.
Hoe sal jy jou wynmaakstyl beskryf en hoekom sê jy dit?
Passievol en innoverend, ek hou van die eksperimentele kant van wynmaak, dit is seker hoekom ek tans in my posisie in die eksperimentele kelder by KWV is. Ek hou van ’n uitdaging en veral om nuwe goed te leer.
Wat beplan jy vir die volgende paar jaar – nuwe kultivars, versnitte ens?
Ek kan nie nou al my geheime uitlap nie; ek is tans besig om te eksperimenteer met ’n verskeidenheid kultivars onder meer tannat, nebbiolo, mourvedre, sangiovese, carmenere, carignan en tempranillo. Kom ons kyk wat die toekoms inhou vir dié kultivars in Suid-Afrika en by KWV.
Wat is vir jou die mooiste eienskap van wyn?
Die natuurlike element, jul het seker al gehoor dat mense praat van ‘sjoe die man of vrou is so natuurlik mooi’ … Presies so met wyn, dit is net natuurlik mooi. Die verrassingselement en die feit dat elke liewe jaar verskillend is. Dit is ´n groot uitdaging.
Met watter kultivar het jy nog nie gewerk nie, wat jy graag sal wil?
Daar is verskriklik baie, veral die Portugese en Italiaanse kultivars. Nebbiolo waarmee ek die laaste twee jaar gewerk het, maar graag beter wil verstaan.
Wat is jou mooiste herinnering rondom wyn?
Elke keer wanneer ek sien iemand maak ’n bottel van my wyn oop en geniet dit, gee dit my hoendervleis.
LEES OOK: Wynmaker: Reenen Borman
Watter een groot struikelblok het al vir jou in die kelder gewag, wat jy trots was om te oorkom?
In ’n kelder tydens pars is daar só baie struikelblokke en om elke dag se beplanning en vloei te bestuur en boonop ’n hele span wat moeg is, positief te hou. Ek moet sê, ná die 2018-pars, wat seker die mees uitdagende pars nog vir my was, was dit lekker om terug te kyk na die wyne en te besef, sjoe, hoe het ons dié kwaliteit in so ’n moeilike jaar gekry? Dit maak my hart warm.
Watter een van jou pryse is jou hart se punt?
Mentors Noble late harvest 2012, wat by Decanter die internasionale trofee gewen het vir die beste Noble late harvest in die wêreld. En dan ook die Generaal Smuts-trofee in 2015.
Wat kan die gemiddelde Suid-Afrikaanse wyndrinker doen om die SA wynbedryf te help groei?
Drink meer wyn, ’n glasie ’n dag. Op ’n ernstige noot, ons moet mense meer leer oor wyn en dit vir die verbruiker meer plesierig maak. Wyn kry ’n ernstige status en die verbruiker voel geïntimideerd deur wyn. Bierdrinkers is ’n groot uitdaging vir ons.
Wie is jou wynmaak-helde?
Daar is so baie uitstekende wynmakers in die Suid-Afrikaanse wynbedryf, maar in my lewe het daar een of twee ’n baie belangrike rol gespeel: Richard Rowe was KWV se hoofwynmaker toe ek by KWV begin werk het. Dan ook Beyer Truter, hy is nederig en ’n legende in die wynbedryf. Natuurlik ons voorgangers Abraham Perold en dr. Charles Niehaus.
Wie inspireer jou?
My ma, ’n sterk, selfstandige vrou, met ´n passie vir die lewe. Wat lief is vir haar kinders en kleinkinders; sy is my steunpilaar.
Wat of wie gaan jy vanjaar op Vrouedag vier?
Definitief my ma, ek sal saam met haar ’n glasie Mentors Petit Verdot geniet. Sy is net soos ’n Petit Verdot: selfstandig, sterk, maar liefdevol en passievol oor die lewe …. sy is ’n unieke mens, net soos petit verdot ’n unieke kultivar is.