Flip Smith is die keldermeester by Cathedral Peak Wynlandgoed
Deur MARYKE ROBERTS
Foto verskaf
Cathedral Peak Wynlandgoed is in die sentrale Drakensberge, buite Winterton, geleë. Flip Smith is die keldermeester daar en het in 2015 by die plaas aangesluit. Flip is die afgelope 28 jaar ’n wynmaker. Hy en sy vrou Caren is die afgelope vier jaar op die plaas.
Sy Barrel Pinotage het verlede jaar die Mees Innoverende Wyn-trofee by die Michelangelo Wine Awards gewen. Hy het ook verskeie ander toekennings, waaronder dubbelgoud en Garagiste-trofee by dieselfde kompetisie, die Boland Bank-trofee vir Grenache rooi by die SA Jongwynskou, Winemakers Choice en Swiss International Wine Awards (beste rooi versnit) en Veritas dubbelgoud ingepalm. Vanjaar het hy ook geen tekorte aan toekennings by verskeie kompetisies gehad nie.
Hy skryf baie van sy sukses aan sy oorlede pa, Dassie Smith, die bekende keldermeester van Rooiberg- en Botha Kelders, toe.
Het jy enige byname in die wynbedryf of op die plaas?
Dassie, soos my pa.
Hoe het jou belangstelling in wyn begin?
Ek het van kleins af by my pa oor wyn en wingerde geleer.
Waar was jou eerste werk en wat het dit behels?
Ek was ’n parshulp by Rooiberg Kelder. My pa het geglo ’n mens begin onder en werk jou dan op.
Hoe het jy in jou huidige pos beland?
Ek het die pos êrens raakgesien en dit het vir my na ’n groot uitdaging gelyk. Ek het nie eers geweet van druiwe in KZN nie, wat nog te sê in die Drakensberg. Ek en Caren kom nou al 25 jaar saam, ek maak die wyn en sy verkoop die wyn. Sy het haar afdeling en ek het my kelder. Dit werk goed uit vir ons.
Watter deel van jou werk geniet jy die meeste en watter deel die minste?
Om soggens vroeg in die wingerde rond te loop en te sien hoe die druif gevorm word en om dan daardie druif te vat en wyn daarvan te maak. Die minste: Al die papierwerk.
Hoe voel jy oor kompetisies en toekennings?
Ek is nie ’n groot kompetisie-ou nie, omdat ek al my tyd aan my wyn spandeer, maar ’n toekenning was nog altyd baie lekker – dit wys dat jy iets reg doen.
Watter unieke uitdagings bring die Drakensberg-terroir vir jou?
As gevolg van die somerreënval gedurende oestyd, is my balling rondom 22 – 22,5 wat vir my ’n 12,0 – 12,5 % alk. gee.
LEES OOK: Wynmaker: Henry Conradie
Voer julle uit en hoe lyk die persentasie plaaslik versus uitvoer?
Ons bekyk nog die uitvoermark en sal later begin uitvoer.
Hoe groot is jul wynreeks?
Ons het ses rooiwyne en een witwyn. Vanjaar kom daar vier verskillende Jerepigo’s en ’n Merlot Blanc de Noir.
Watter een van die wyne is jou persoonlike gunsteling?
Die Barrel Pinotage 2015.
Watter kultivar dink jy is jul vlagskip en in watter kultivar lê jul toekoms?
Pinotage. Dit is nog bietjie vroeg om te sê wat ons beste kultivar gaan wees, maar oor twee jaar sal ek weet.
Watter kultivar gee jou die grootste kopseer om mee te werk?
Cabernet Sauvignon. Omdat ek die druif nie op volryp kan oes nie en dan ’n plan moet maak om van die groen tanniene in die wyn te verminder.
Watter kultivar stem die beste ooreen of beskryf jou persoonlikheid die beste?
Pinotage: Baie gemaklike wyn om te maak, maar kan ook baie moeilik raak.
Hoe voel jy oor die beeld van die plaas onder die publiek en hoe belangrik is daardie beeld?
Ek werk nog baie aan die beeld, omdat die plaas nog baie jonk is en niemand kan glo dat ons ´n wingerd hier geplant het en wyn hier kan maak nie. Almal wat hier kom, is baie verbaas.
Hoe hoog groei jul wingerde en wat is die omstandighede waarin dit groei?
Ons lê 1 100 meter bo seevlak en het kleigrond. In die winter het ons baie ryp en koue en in die somer baie reën en hael.
Wat is die grootste les wat jy as wynmaker geleer het?
Elke jaar is nie dieselfde nie en jy maak die wyn volgens die jaar.
Wat is die mooiste woorde wat jy al om wyn of die proses gehoor het?
’n Wynmaker is soos ’n kunstenaar: hy skep elke jaar ’n unieke wyn in sy kelder.
Hoe sal jy jou wynmaakstyl beskryf en hoekom sê jy dit?
Ek hou daarvan om oustyl rooiwyne te maak, maar probeer ook elke jaar ’n nuwe, unieke wynmaakstyl. Die ou styl is baie vol en swaar wyne. Elke streek verskil en jy moet nuwe wynmaakstyle probeer en kyk hoe dit in jou streek werk.
LEES OOK: Wynmaker: Niël Groenewald
Wat beplan jy vir die volgende paar jaar?
Ek wil Chardonnay en Grenache plant.
Met watter kultivar het jy nog nie gewerk nie, wat jy graag sal wil?
Tempranillo, ’n baie vroeër kultivar wat by my lae suikers sal inpas.
Wat was jou grootste oorwinning as wynmaker tot dusver?
Om ’n Dubbelgoud en Garagister-trofee te wen met my Rooi Hanepoot by Michelangelo en die trofee na die Groot Karoo, Prins Albert te bring.
Het jy al ’n toekenning ontvang wat jou regtig aangedaan gehad het?
Die Michelangelo 2017 se Mees Innoverende Wyn-Trofee.
Het julle kinders en indien wel, wat doen hulle?
My oudste seun doen my wynproe en my jongste, Carel is saam met my in die wingerd en kelder.
Vertel my van jou troeteldiere?
Ons het vyf katte en ses honde en almal het wynname. Hulle is van klein tot groot, mooi tot nie mooi.
Hoe kan die Suid-Afrikaanse wyndrinker help om die SA wynbedryf te help groei?
Hul moet bier en brandewyn verminder en meer wyn geniet.
Wat is die een ding van die wynmaakproses wat jou fassineer?
Dat elke jaar se wyn nie dieselfde is nie – by my speel die reën ’n groot rol.
Watter wenke het jy vir mense wat voor ’n winkelrak staan en nie weet wat om te koop of waarna om op die etiket te kyk nie?
As jy ’n wyn soek, besluit van watter kultivar jy hou; moet die wyn droog, effe-soet of soet wees. Om veilig te wees, koop ’n wyn van ’n kelder waarvan jy al gehoor het. Ek koop elke maand vir my ’n bottel wyn wat ek nog nooit gedrink het.
Wie is jou wynmaak-helde?
Carel en Boets Nel, oom André Bruwer, oom Danie de Wet en Pieter Ferreira.
Wie inspireer jou?
My pa, Dassie, wat in Mei 2017 oorlede is.
Watter glas of bottel wyn het al die grootste indruk op jou gemaak?
Rooiberg Kelder 1996 Noble Late Harvest.