Elunda Basson is die wynmaker wat verantwoordelik is vir die bekroonde Pongrácz MCC by die Huis van JC le Roux buite Stellenbosch
Deur Maryke Roberts
Foto verskaf
Sy het haar loopbaan in 1999 by Rickety Bridge Wyne in Franschhoek as assistent-wynmaker begin en vertel dat sy altyd landbou wou studeer en geweet het dat wynkunde haar toekoms gaan wees.
Elunda is getroud met Jacques, die eienaar van ’n vervoermaatskappy en ook ’n dosent in Sportbestuur. Hulle het twee kinders, Giulia en Luca en verhuis eersdaags van Durbanville na die Paarl.
Hoe het jy in jou huidige pos beland?
Ek is in Junie 2007 gevra of ek sou belangstel om oor te skuif van Nederburg af en tien jaar later is ek nog steeds gelukkig hier!
Hoe sien jy jouself as wynmaker – versigtig, voortvarend, avontuurlustig of konserwatief en hoekom sê jy dit?
Tradisioneel sou ek sê. Ek hou van klassieke wyne, wat goed kan verouder. Ek hou nie van kanse vat nie!
Wat het jy vinnig as wynmaker geleer, wat jy nie verwag het nie?
Elke dag en elke seisoen lyk anders en jy moet aanpasbaar wees, want wyn verander ook met tyd. Ek is redelik gestruktureerd in my werk en ek moes vinnig leer om meer buigsaam te wees.
Wat dink jy is die belangrikste eienskappe waaroor ’n wynmaker moet beskik?
Die visie om die potensiaal van ’n wyn te kan sien en ontsluit lank voordat jy by die vrystelling daarvan uitkom.
Hoe dink jy kan ‘n wynplaas sy beeld onder die publiek verbeter?
Vandag soek verbruikers ’n ondervinding. Wees oop, vriendelik, gee goeie wyne, wonderlike personeel en wees opreg met jou boodskap en jou diens.
Wat beplan jy vir die plaas en kelder die volgende paar jaar – nuwe kultivars, versnitte, ens?
LEES OOK:Wynmakers: Debbie Thompson
Ons gaan deur ’n fase van verandering in die groter besigheid en ek is opgewonde om ons vonkelwyne na nuwe markte te neem.
Van watter beroep het jy op skool gedroom?
Ek wou ’n veearts word.
Wat is vir jou die mooiste eienskap van wyn?
Dit lewe, dit verander, verouder, verbeter! Pure passie.
Wanneer geniet jy jou wyn die meeste?
Wanneer ek dit kan deel met spesiale mense in my lewe en kan sien dit gee hulle plesier.
Wat is jou gunstelingkultivar en hoekom?
In Cap Classique-terme definitief chardonnay. Ek glo baie sterk daaraan dat ons die Franse ’n ding of twee kan wys met ons pragtige blanc de blancs.
Watter kultivar kry te min aandag in SA en sal jy graag wil sien ontluik in die toekoms?
In Cap Classiques en in stilwyn sou ek graag bietjie meer blootstelling wou sien vir ons chenin blancs.
Wat is jou mooiste herinnering rondom wyn?
Sjoe, ek het ’n hele paar. Maar dit wat my nog steeds elke dag ’n kick gee, is om te sien hoe vreemdelinge my wyne in ’n restaurant geniet.
Wat glo jy is die uitdaging/eise vir ’n wynmaker in SA in 2017?
Ons het nog steeds nie geweldig baie blootstelling aan internasionale wyne nie en dit bly ’n uitdaging om op datum te bly met wat die res van die wêreld doen. Dit maak dit so belangrik om gereeld te probeer reis en wyne te koop en proe.
Waaroor is jy besonder trots in jou loopbaan?
LEES OOK: Wynmaker: Danielle le Roux
Ek het nog altyd probeer nederig bly, opreg omgegaan met mense en probeer om my wyne te laat skitter, eerder as ekself.
Watter een groot struikelblok het al vir jou in die kelder gewag, wat jy trots was om te oorkom?
Toe ek in 2007 begin het by JC le Roux, het ek bitter min geweet van MCC. Ek moes vinnig leer en ek is baie trots om te sê ek het die meeste van die struikelblokke oorkom. Bygesê, ek leer nog steeds elke dag.
Watter wyn- en kos-pasmaat geniet jy gereeld en vind dat die twee mekaar perfek aanvul?
’n Mooi verouderde Cap Classique saam met stunning en vars soesji.
As jy nie wynmaker geword het nie, watter ander beroep sou jy graag wou volg?
In my volgende lewe wil ek defnitief terugkom as ’n koffie-barrista. My drie groot plesiere is wyn, koffie en sjokolade.
Watter wenke het jy vir mense wat voor ’n winkelrak staan en nie weet wat om te koop of waarna om op die etiket te kyk nie?
Gaan besoek wynkelders, eksperimenteer en doen moeite om uit te vind waarvan jy hou. Niemand anders se opinie is belangriker as jou eie nie, so leer ’n bietjie meer oor wyn en maak dit pret.
Watter wyn-bestemming oorsee het jy al besoek, wat jou baie beïndruk het?
Kalifornië, Champagne, Italië. Almal is uniek op hulle eie manier! En almal maak vonkelwyne van hoogstaande kwaliteit.
Hoe voel jy oor die toekoms van die SA wynbedryf?
Ons toekoms is rooskleurig. Ons bly relevant met ons wyne, ons wen gereeld internasionale kompetisies en ons werk hard aan ons beeld oorsee.