Kokkedoor se beoordelaar en navorser Hetta van Deventer-Terblanche is ‘n besige vrou wat op ‘n manier tyd vir haar gesin ook inruim.
Maryke Roberts
Hetta van Deventer-Terblanche is beoordelaar en navorser van kykNET se gewilde reeks, Kokkedoor, waarvan die derde reeks se verfilming in Oktober begin, La Motte en Leopard Leap se koskonsultant, vrou van ’n wynmaker en ma van twee seuns.
Mooiste kosgesegde?
As jy bang is vir botter, gebruik room – Julia Child.
Raak jy ooit lui vir kook?
Ja, beslis. Dis nie dat ek nie lief is vir kook nie, dis net lekker as my man oorneem.
Jy is mal oor vleis, room, botter, maar is fyn en petite.
Nee, ek is nie bang vir eet of drink nie en ek glo die lewe is te kort vir dieet. Ek is egter nie baie lief vir soetgoed nie en ek eet nie tussenin nie.
Watter reuke maak jou gelukkig?
Die kombuisreuke waarmee ek grootgeword het, want kosreuke en herinneringe is vir my onlosmaaklik deel van mekaar. Ek kan onthou hoe my ouma se woonstel geruik het, die anysbeskuit wat sy gebak het, my ma se melkkos en pannekoek, so naeltjies en kaneel is vir my onthougeure.
Wat is jou kosmotto?
Ek kook nie vir applous nie, ek kook omdat ek liefhet.
Wat kan ons in Kokkedoor 3 verwag?
“Dieselfde reuseverskil as tussen die eerste en tweede reekse. Die eerste reeks was baie meer nostalgies, die tweede een het meer van ’n moderne geurtjie gehad en die derde reeks is die goue middeweg.”