Tien vrae aan die deelnemers, beoordelaars en vervaardiger van Kokkedoortjie, wat op 5 April op kykNET begin:
Wat was vir jou die lekkerste om ’n Kokkedoortjie-beoordelaar te wees?
Beoordelaar Mari-Louis Guy: Die familiegevoel. Homebrew het ’n wonderlike vermoë om ons soos een groot gesin te laat voel. Nic is ’n goeie vriend en ons is albei ouers – iets wat ek dink ontsettend gehelp het. Ek voel geliefd en dit is vreeslik lekker vir ’n ma van drie om stil te sit en getooi te word. Ek het die fantasiegedeelte van die program baie geniet en Martjie en Errieda het heerlike uitdagings geskep.
Beoordelaar Nic van Wyk: Om weer die Kokkedoor-familie te sien, was fantasties. Die mense wat die program maak, is baie talentvol, so dit was ’n voorreg om weer saam met hulle te werk.
Is daar iets wat jy by die twee beoordelaars geleer het?
Deelnemer Thali Hugo: Ja, ek het geleer dat die opdiening en garnering van ’n gereg net so belangrik is soos die smaak. Kos moet nie net lekker proe nie, maar ook mooi lyk en ruik.
Deelnemer Mikael Morkel: Om uit die hart uit te kook en om jou instink te vertrou.
Deelnemer Dean Barnard: Ek het geleer dat daar altyd iets moois te sê is. Selfs as ek weet my kos is sleg, sou hulle altyd iets moois sê om my beter te laat voel.
Na wie kyk jy op as kosheld?
Thali: Ná die onlangse Masterchef Junior-reeks wat uitgesaai is, is Gordon Ramsay definitief een van my koshelde. Ek bewonder sy passie vir kos en is mal oor sy sin vir humor!
Dean: Christine Phillips wat in Johannesburg bly. Ek het haar resepteboek en wat lekker is, is dat al haar resepte maklik is en lekker proe.
Mikael: Heston Blumenthal. Ek hou van sy eksperimentele manier van kosmaak en dat hy jou sintuie op ’n reis kan neem. Heston het kos gevat en ’n wetenskap daarvan gemaak en dit inspireer my om nuwe dinge in die kombuis te probeer. Ek probeer ook nou leer wat die chemie agter kosmaak is, sodat ek dit in my skeppings kan gebruik.
Wat was vir jou moeilik/maklik/lekker aan die reeks?
Mikael: Die moeilikste deel was om my idees – binne die tydbeperkings wat ons gehad het – op die bord te kry. Dit was vir my maklik om geregte uit te dink. Ek geniet dit om nuwe dinge uit te probeer. Die hele ervaring was ’n belewenis.
Thali: Dit was vir my ‘n uitdaging om by die tydsbeperking te hou, maar dit was terselfdertyd ook opwindend, want dit het my kreatiwiteit uitgebring.
Dean: Dit was moeilik vir my om my kos in die gegewe tyd te voltooi. Dit was maklik om die onderhoude te doen; ek kon lekker verduidelik wat ek gemaak het en wat ek gedoen het. Dit was lekker vir my om nuwe smake te ontdek en nuwe disse te leer maak.
Op watter ouderdom het jy begin kook?
Mari-Louis: Ek vermoed ek kook al van voor ek leer loop het. My dogtertjie, Sophia, is dieselfde, sy is altyd aan die woel en werskaf.
Nic: Ek het in ’n huis met twee kombuise grootgeword, want my ma het jare lank ’n spysenieringsonderneming gehad. Ek was dus altyd naby aan kos en het altyd hier en daar gehelp. As ek moet skat, het my ma my van die ouderdom 13 af takies in en om die kombuis begin gee. Op hoërskool het ek ook altyd gekies om in kombuise te werk, eerder as om ’n kelner te wees.
Wat is die basiese beginsels wat jy vir jou kind kan leer om te begin kook?
Mari-Louis: Veiligheid eerste en pret in ’n kort tweede plek – kook saam, maar jy moet van alles proe.
Nic: Kinders moet na hul ouers kyk terwyl hulle kos maak. Laat jou kind proe terwyl jy kook en laat die hele proses van kosmaak en in die kombuis wees, vir ’n kind lekker lyk en dan sal kinders vanself begin vra en belangstel oor wat in die kombuis aangaan. Ek dink veiligheid is eerste, wanneer hulle dit verstaan, kan hulle self goed doen. Voor dit moet hulle weet om hulp van ’n volwassene te vra.
Hoekom is kosmaak besig om onder kinders pos te vat?
Mari-Louis: Natuurlik moet werklikheidstelevisie se rol nie onderskat word nie, maar ek dink ook dit is uitstekende familiepret om saam te kook – minder gesinne het hulp en dit is die tyd vir die gesin om te lag en te gesels.
Nic: Die hoeveelheid TV/glanssjefs wat deesdae te sien is, speel ’n groot rol. Ek is net nie altyd seker of dit die beste ding vir die sjefsbedryf is nie, want dit skep ’n wanindruk van die realiteit.
Nog ’n rede – en ook nie noodwendig ’n goeie een nie – is dat al hoe meer ouers albei moet werk en kinders dan moet leer om self kos te maak.
Wat is die grootste lewensles wat jy dink jou kind tydens Kokkedoortjie geleer het?
Ouer 1: Om nie moed op te gee nie en om ’n plan te maak wanneer jy ’n fout moet regstel! Dit was vir my wonderlik om te sien hoe al die deelnemers tot aan die einde van ’n uitdaging vasgebyt het, selfs al het hulle groot foute gemaak en dinge nie uitgewerk soos hulle beplan het nie.
Ouer 2: Ek dink die grootste les is dat jy ’n emmerlys moet hê en absorbeer dan elke oomblik van iets. Beleef net!
Hoe is op temas vir elke episode besluit?
Paul Venter, vervaardiger: Errieda du Toit en Martjie Malan was die twee breine agter die reeks se temas. Hulle lê voorstelle aan ons voor en dan in samewerking met Sanet Olivier (die regisseur) en ook insae van Nic van Wyk en Mari-Louis Guy word daar gesels, beplan, weer gedink en mooi uitgewerk en dan vasgemaak. Elke uitdaging word ook weer en weer getoets, om seker te maak alles is moontlik binne die beperkte tyd en met beperkte toerusting en bestanddele.
Daar is ’n nuwe stel vir Kokkedoortjie – waar kom die inspirasie vandaan en hoe lank het dit gevat om te bou?
Paul: Die stel is steeds op die tema van die Kokkedoor– en Koekedoor-reekse, maar vir die kinders het ons ’n sterk gevoel van Alice in Wonderland en Charlie & the Chocolate Factory ingebring met ’n effense meer magiese gevoel van ’n sprokieswêreld. Ons het ongeveer drie maande geneem om die stel ingerig en reg te kry. Die nuwe Kokkedoortjie-ateljee is ook ‘n permanente tuiste en is by Atlantic Studios in Milnerton, Kaapstad, waar die gewilde kykNET-sepie, Suidooster, ook verfilm word. Daar is planne vir kookskole ná die reeks in die Kokkedoortjie-ateljee.