By Bartholomeus Klip buite Riebeek-Kasteel leef tweelingsussies, Louise en Lesley Gillett, hul droom uit: Louise as sjef van die vyfstergastehuis en haar sus as bestuurder.
Maryke Roberts
Die disse wat uit die kombuis kom, herinner aan ouwêreldse kookkuns met laatmiddagtees in die sitkamer en tafels wat kreun onder die kos, alles met Louise se unieke interpretasie. Hul wel en wee in en om die kombuis en op die plaas waar hulle woon, is saamgevat in die kookboek, Life on a Cape Farm – country cooking at its best wat ’n Gourmand, World Cookbook-toekenning vir plaaslike cuisine ingepalm het.
Louise bied nou ook gereeld kooklesse aan in onder meer roomys en sorbet, Kersgeregte, Paaseier-klasse; liplekrisotto’s, pastas en brood bak.
Resep Louise Gillett van Bartholomeus Klip se gorgonzola-tortellini met gekaramelliseerde pere, gerookte speksous en gerasperde parmesaanHoe sal jy jou kookstyl beskryf?
Klassiek Frans met ’n interessante kinkel.
Wat was ’n kookhoogtepunt vir jou?
Terwyl ek in Engeland gewerk het, het ek die geleentheid gehad om Gordon Ramsay by ’n werkswinkel te ontmoet. Toe hy hoor ons is van Suid-Afrika, was hy baie vriendelik en het vertel dat hy die Comrades sou kom hardloop en dit was ’n heerlike aanknopingspunt om ’n geselsie te laat vlot.
Watter kosreuk herinner jou aan jou kinderdae?
My ouma se grondboontjiebotter-koekies. Dit neem my terug na al ons Kaapse vakansies as kinders.
Watter vyf bestanddele is altyd in jou koskas?
Botter, spek, pasta, kaas en room
Wat is trooskos vir jou?
’n Braai – dit is sosiaal en ontspannend en heerlik.
Wat bestel jy as jy uitgaan vir ete?
Altyd iets wat ek nog nie self gemaak het nie, of interessante disse wat ek nog nie voorheen probeer het nie.
Wat is jou gunstelingrestaurant op die oomblik?
Azure by die Twelve Apostles Hotel.
Wat is die algemeenste fout wat tuiskokke maak?
Om aan te neem dat alle oonde dieselfde is. Ek toets altyd eers met ’n klein hoeveelheid gebak voor ek grootskaals begin, sodat ek weet of ek die hoeveelhede, temperatuur of baktyd moet aanpas.
Wat is jou gunsteling-kosbestemming?
Italië. Die verskeidenheid vars produkte is wonderlik en ek hou van die kosstyl ook.
Wat is jou gunstelingdrankie?
Springfield Landgoed se Life from Stone Sauvignon Blanc.
Wat is jou gunsteling-kombuisgereedskap?
My kapbord wat ek van my ouma gekry het.
Wat is jou sjefsleuse?
Wees deurgaans dieselfde
Wat is jou gunstelingkookboek?
Ek is mal oor Heston Blumenthal en my geliefde kookboek is The Fat Duck Cookbook.
Wat is die een dis wat jou ma maak wat jou mond laat water?
Haar tuisgemaakte gnocchi met stadig-geroosterde bolognaisesous. Dis heerlik.
As jy nie ’n sjef geword het nie, watter ander beroep sou jy geniet?
Ek dink dalk ’n tuin- en landskap-uitlegkunstenaar. Ek is mal oor tuinmaak en buite wees.
Het jy ’n goeie kosgesegde?
“If more of us valued food and cheer and song above hoarded gold, it would be a merrier world,” deur J.R.R. Tolkien
As jy vier gaste vir ete kon nooi, wie sou dit wees?
My ma, omdat ek haar nie gereeld sien nie en min kans kry om vir haar te kook; sir David Attenborough, net om sy stem te hoor; Clive Cussler, my gunstelingskrywer en Fergus Henderson, ’n sjef met wie ek graag oor kos sal wil gesels.
SOURCES
Nashoon Zalk, House and Leisure