Alicia Rechner van Backsberg Landgoed het vanjaar haar 16de parsseisoen by die landgoed voltooi
Deur Maryke Roberts
Foto verskaf
Sy het by die pas afgelope Old Mutual Wine Show 2018 die Grande Roche-trofee vir die beste wit versnit gewen en’n Totaal van 977 wyne is beoordeel; 40 goue medaljes en 23 trofees toegeken.
Haar man, Simon, werk ook op Backsberg. Hy doen bouwerk, onderhoud en spesiale projekte saam met die eienaar, Michael Back.
Hoe voel dit om by die Old Mutual Trophy Show beloon te word?
Baie goed, dit het die energie in die kelder en onder ons verkoopspan gelig. Dit is ’n goed beoordeelde kompetisie. En ek is altyd gelukkig met ’n kompetisie wat die wynraad betrek – toe dit lyk of ons iets gewen het, het SAWIS na ons vooraad kom kyk. Dit is ’n goeie manier om seker te maak dat daar nie met die wyn gepeuter is nie.
Watter kultivar stem die beste ooreen/beskryf jou persoonlikheid die beste?
Cabernet sauvignon. ’n Bietjie ernstig en ’n late developer.
Wat kan die gemiddelde Suid-Afrikaanse wyndrinker doen om die SA wynbedryf te help groei?
Koop Suid-Afrikaans en ondersteun ons eie besighede. Luister na hoe ons almal vir jou sê: Dankie dat jy ons werk waardeer en ons kelder aan die gang hou. Europa kry genoeg staatsondersteuning in hul bedryf. Ek sien Woolworths is vol Italiaanse wyne – stap verby en gryp die Suid-Afrikaanse bottel. Ons kelders kry bitter min staatshulp. Ons sukkel soms om met die Europese pryse mee te ding. Probeer dit verstaan, in plaas van om iets nóg goedkopers te gaan soek.
Hoe het jou belangstelling in wyn begin?
Op universiteit in my eerste jaar. Ek het ingeskryf vir Veekunde, want ek wou net op ’n plaas bly en was mal oor koeie, maar die eerste Veekundeklas het my laat besef ek sal nooit so diep aan ’n koei wil vat nie. Ek het toe met mense gepraat en van klas na klas gegaan en ingesit op allerhande vakke. Ek is lief vir Chemie en van daar af, as ek prakties moet chemie toepas op die plaas – kom ek toe by wynmaak uit.
Waar was jou eerste werk en wat het dit behels?
Rooiberg Wynkelder in Robertson. Ek het witwyn help maak saam met Christo Pienaar. Dit het later heerlik geword, maar in ons eerste week het hy en Eben Rademeyer ons skeiers laat skrop en ons laat glo dat dit is hoe die hele pars gaan wees. Toe is ons “beloon” met beter werk van gis aanmaak en suur in tenke gooi en presse werk – my gunsteling.
Hoe het jy in jou huidige pos beland en hoe lank is jy al daar?
Ek was in Duitsland met ’n pars besig, toe ’n wynkonsultant, Rodney Easthope, my kontak. Hy het my naam by my en sy vriend, Boela Gerber, gekry en hulle het ’n wynmaker vir Backsberg gesoek. Ons het ’n onderhoud tussen die groot 5 000 liter-Fuder-houtvate in die kelder in Bingen waar ek gewerk het, gehad. Ons het van mekaar gehou en hy het die Backs aangeraai om my te sien. Hulle het my een naweek ingevlieg en ek het op ’n Sondagoggend met Jill en Michael by hul kombuistafel gehad. ‘n Maand later is ek reguit van Duitsland af Suid-Afrika toe en het in Desember 2001 by Backsberg begin werk; 2002 was my eerste pars.
LEES OOK: Wynmaker Ilse Schutte
Watter deel van jou werk geniet jy die meeste en watter deel die minste?
Dat ons op ’n plaas werk is my gunstelingdeel. Ek is mal oor produksie van natuurlike produkte waar ek die hele proses kan bestuur: van wingerd tot die bottel. Die deel wat ek die minste geniet, is wanneer ek aangejaag voel om wyn te bottel voor die wyn volgens my reg is daarvoor, maar ons produk is op, of erger – Ons het alles aan ’n nuwe kliënt verkoop en ek moet jaag om die volgende oesjaar uit die vate te haal. Of my chenin blanc en sauvignon blanc is aan die einde van Februarie al op, terwyl die nuwe oesjaar nog gis. Dan moet ons darem spring om wyn in bottels te kry en dit maak my naar.
Hoe voel jy oor kompetisies en toekennings?
Ek hou daarvan as ons iets wen.
Hoe groot is jul wynreeks?
Ons het 30 produkte: van brut tot soet, portstyl tot brandewyn en ’n volledige Kosher-reeks. Ons voer 30 -40% van ons wyne uit, maar ons plaaslike mark bly ons grootste ondersteuners.
Watter een van die wyne is jou persoonlike gunsteling?
Ek is lief vir sauvignon blanc, veral die John Martin Reserve Sauvignon Blanc, wat so ’n bietjie warmer gegis is met effens hout.
Watter kultivar dink jy is jul vlagskip en in watter kultivar lê in jul toekoms?
Backsberg se plaas en grond doen goed met alle Rhône-wyne, wat hulle aan houtveroudering verleen. Dit kan ons sien in die Family Reserve Wit-blend, wat hoofsaaklik roussanne en chardonnay is. Ook pumphouse shiraz. Maar na jare se blokke hier ken, is ons top-presteerder cabernet sauvignon.
Watter kultivar gee jou die grootste kopseer?
’n Kultivar het my nog nooit kopseer gegee nie. Ek leer hulle almal ken. Mens raak lief vir elke een.
Wat is die grootste les wat jy as wynmaker geleer het?
Wynmakers is nie fancy nie; ons is gypsies. Meestal besit ons nie eens ’n vierkante meter grond nie. Ons het almal ’n groot span mense om ons, waarsonder jy op jou eie baie min beteken. Jou beste wyn kom uit jou beste wingerd.
Hoe sal jy jou wynmaakstyl beskryf en hoekom sê jy dit?
Wetenskaplik korrek. Ek geniet die chemie en binnekant van die wyn baie en hou daarvan om alles op tyd te doen. Ek vergeet partykeer dat wyn ook ’n kuns kan wees en soms self ook goed wil doen.
Wat is vir jou die mooiste eienskap van wyn?
Die kleur en hoe dit met pH verander. Ook hoe wyn reageer as jy gou genoeg die regte goed doen.
Wanneer geniet jy jou wyn die meeste?
As ek in die aand bed toe gaan met my boek. Of oor ’n vakansie of naweek as ek middag in die vol son sit met ’n goue glas koue wyn. As ek nie saans kan wag nie, sal ek dadelik die glas wyn gooi en met hom gaan bad. Maar daai een reuseglas wyn per dag is vir my baie belangrik. Die setting moet reg wees, want ek drink net een.
LEES OOK: Wynmaker: Alwyn Maass
Met watter kultivar het jy nog nie gewerk nie, wat jy graag sal wil?
Ek sal graag in Griekeland een pars wil wynmaak en daai Griekse variëteite bietjie bekyk. Dis die mooiste wynmaakland, maar die wyne is nie altyd lekker nie. Ek sal graag meer wil weet hieroor en wil kyk of ek dit lekkerder kan maak of beter kan verstaan.
Wat is jou mooiste herinnering rondom wyn?
Toe ek in my eerste jaar vir my pa sê ek gaan wynkunde studeer, het ek en hy op ’n lang wynproe gegaan. Dit was die eerste keer wat ek op wynplase gekom het. Ons is eers Lievland toe, en toe met die pad af Kanonkop, Muratie, Delheim, Morgenhof. Dit was die mooiste klomp plase wat ek nog gesien het. Die houtvate en akkerbome; ek was baie opgewonde om eendag in so ’n omgewing te kon werk. Ek was daai dag verseker ek is op die regte pad. Dit was 1994.
Watter een groot struikelblok het al vir jou in die kelder gewag, wat jy trots was om te oorkom?
Ons het twee parse terug op een dag twee verskillende wyne gefortifiseer (brandewyn bygepomp) en ons spesiale laat oes reggemaak vir bottel. Dit alles terwyl die druiwe inkom, afmaal en press. Dit was ‘n vreeslike besige dag en mense is maar moeg van laat werk ook. Op ‘n manier het iemand deurmekaargeraak, en daardie aand is ons pinneau (gefortifiseerde wit druiwesap) se brandewyn in ons spesiale laat oes (Gewürztraminer) wat die volgende dag moes bottel. Dit was die grootste fout wat ons in 20 jaar gemaak het. Ek het daai dag uit die kelder gestap en in ‘n movie op my eie gaan sit en huil. Die volgende oggend het ek toe weer krag. En ons het iets uitgewerk en op die ou end alles reggemaak. Nou kan ek nie glo ek het oor wyn gehuil nie.
Het jy al ’n toekenning ontvang wat jou regtig aangedaan gehad het?
Ek het al ’n toekening NIE ontvang nie wat my aangedaan gemaak het: die aand toe ek nie die Diners Club-toekenning wen nie, het ek gehuil. Ek dink dit was meer omdat hulle my so grimeer het en ek vir 24 uur ander klere moes dra en my beste voetjie voorsit. Toe voel ek dit was regtig nie die moeite werd om so ver te gaan as mens nie wen nie.
Wat is die een ding van die wynmaakproses wat jou fassineer?
Alles van die wynmaakproses fassineer my, maar iets wat uitstaan, moet seker maar gisting wees, met vatveroudering tweede.
Watter wenke het jy vir mense wat voor ’n winkelrak staan en nie weet wat om te koop of waarna om te kyk op die etiket nie?
Die bottels met die groot wit letters BACKSBERG.
Wie inspireer jou?
My kinders. Ek doen alles vir hulle. As ek wil wegloop en onder ’n palmboom op ’n eiland gaan sit, is hulle my inspirasie om my jeans en skoene aan te trek en die een werk te gaan doen waarin ek goed is.