12 vrae aan Lorna Scott, eienaar en distilleerder van Inverroche- distilleerdery buite Stilbaai:
Hoekom is Suid-Afrikaanse handgemaakte jenewers soveel duurder as selfs ingevoerde jenewers?
Meeste ingevoerde en bekende gins word op grootmaat vervaardig en die bottelering, en verpakking is gemeganiseerd. Handgemaakte gin wat op kleinmaat vervaardig word, is duurder as gevolg van ekonomie van skaal. Dit kos dus meer om te maak en mense, nie masjiene, maak dit van begin tot end.
Jy koop ook ’n unieke, persoonlike -“limited edition” gin omdat daar net 700 bottels op ’n slag gemaak word en elke verstoking is enig in sy soort.
Daar skiet nou bykans maandeliks nuwe klein distilleerders regoor die land op. Hou dit gevaar in vir julle?
Nee, dit hou ons op tone. Ek glo net die beste handelsmerke gaan in die volgende paar jaar staande bly en dit hou die mark interessant en verskaf diversiteit.
Hoeveel gram fynbos word per fynboskomponent in elke distillering gebruik?
Ons gebruik min – sowat 100gr-600gr, afhangende van die geurprofiel en seisoenale verskille.
Roei die distillering nie nou groot hoeveelhede fynboshektaars uit nie?
Nee, ons het sedert die eerste dag begin om fynbos te herplant in elkeen se natuurlike omgewing. Verskeie boere en ’n paar kwekerye kweek nou ook nuwe fynbos vir ons. Ons werk saam met Cape Nature en al ons verskaffers is geregistreer om die kweek en oes van fynbos te reguleer.
Wat word van die afval nadat julle die fynbos gebruik het?
Ons maak kompos en dit word ook bygevoeg as deel van die kleimengsel waarmee ons songebakte bakstene vervaardig. Dit word gebruik om paadjies te plavei.
LEES OOK: Elgin gooi sy arms oop met jaarlikse kos- en wynfees
Jy maak nie net jenewer nie. Hoekom het jy besluit op rum en likeur ook?
Ek wou ’n produk ontwikkel wat al die verskillende fynbosgeure as ’n geheel saambring. Die fynbos likeur is van brandewyn gestook en gegeur met al die fynbos wat in al drie jenewers is. So dus proe jy die Kaapse Blomkoninkryk in een teugie!
Kalksteen is ’n kernfaktor om goeie rum te maak, omdat dit help om ’n die regte ph teweeg te bring vir die gisproses om plaas te vind. Die besonderse-kalkryke water wat op ons plaas diep van onder die kalksteen bokors deursyfer, is dus die rede hoekom ons proe-rum van molasse stook.
Hoeveel jenewer produseer jy per jaar?
Ons doen tans 12 000 bottels per maand, maar wil binne die volgende twee jaar opskuif na 20 000 bottels.
In watter lande is jul gins die gewildste?
In die Verenigde Koninkryk en Skandinawië.
Na wie gaan jy vir raad as jy vasbrand?
Ek het baie goeie bande met die meester stokers van twee van die ander kleiner distilleerdery en ons help mekaar.
Watter raad het jy vir ander vroue wat later in hul lewe ’n drastiese loopbaanskuif wil maak?
Moenie wag nie! Dit is ’n tweede kans om dinge beter te doen en teen die tyd ken jy jouself tog goed en weet wat jou sterk- en swakhede is. Gebruik die insig en kennis en omring jouself met mense wat juis beter is as jy in die areas waar jy dalk nie so goed is nie en wie jy kan vertrou en wat jou passie deel. Jy kan nie alleen die wa deur die drif trek nie – dit kos spanwerk om ’n volhoubare, suksesvolle besigheid te vestig.