Willie Strauss is ’n bekende televisiepersoonlikheid, akteur, liedjieskrywer, sanger en koskenner. Hy is saam met Etienne Smith mede-aanbieder van Kos is oppie tafel op Afrikaanse Satelliet TV (ASTV)
Deur MARYKE ROBERTS
Foto’s verskaf
Van sy bekendste KKNK-produksies sluit in Die duiwel dra Crocs en Daar’s ’n engel in my koskas.
In sy boek, Daar is ’n engel in my koskas, ’n kos-memoir, herleef Willie die beste tradisies van grootword wanneer hy sy kleintyd herroep. Hy verander ou treffers soos melktert en plaatkoekies in oorspronklike, nuwe kombinasies; wys jou hoe om maklike seekoswenners te maak; koeie word heilig wanneer beesstert en ander resepte ter sprake kom; hy toon dat jy nie met hoendervlerke kan vlieg nie, maar dat engele wel vir ’n mengel-mousse van soetgoed leef en dat nostalgiese disse soos skaapstert hom ná aan die hart lê.
Met eenvoudige bestanddele word watertand-etes blitsvinnig opgetower, sodat die engele in jou koskas kan sing.
Hoe voel dit om jou eie kookboek in jou hande te hou?
Dit is ’n droom wat waar geword het. Ek kry elke keer hoendervleis as ek deur my droom blaai.
Hoe het jou kookmetodes en wat in jou yskas is, oor die jare verander? Ek kook soos my ma. Bietjie hiervan en ´n bietjie daarvan. Kom agter my kos proe soos hare. My yskas is ’n deurmekaarspul. My ma se yskas was netjies. Myne nie…
Kook jy vooruit en vries?
Ja ek doen. Ek verkies om elke dag te kook, maar somtyds raak dit so besig dat dit lekker is om net ’n bak bobotie uit die vrieskas te haal en lekker tuisgemaakte kos te kan eet.
Waar kom die resepte in jou boek vandaan en was dit altyd in ’n onnet plakboek of hoe lyk jou resepte-versameling?
Ek het jare gelede vir my ’n resepteboek begin bymekaarmaak van al my gunstelingresepte. Ek het daar begin. Ek kan nie “grend” kos maak nie. My tipe kos is gewone kos waarmee ek grootgeword het.
Hoeveel resepteboeke het jy en watter een is jou gunsteling?
Ooo genade, ek is ’n kookboekverslaafde. Soos in erg. Ek het baie. Op dié stadium is my eie kookboek my gunsteling.
Wie het jou belangstelling in kosmaak wakker gemaak?
Definitief my ma. Sy kon lekker kosmaak en het geglo daar moet altyd iets lekkers wees om te eet. Ek hou ook daarvan om mense te bederf met my kos.
Vir wie kook jy die graagste en hoekom?
Ek kook graag vir my vriende. Hulle help my met my markte en langtafels en dit is ’n uit- die-hart-manier om vir hulle dankie te sê dat hulle in my lewe is.
Watter vyf bestanddele is altyd in jou spens?
Pasta, blikkies tamatiesardyne, blatjang, tamatie-en-uie-smoor en kondensmelk vir my soettand.
Watter bestanddeel dink jy onderskat die meeste tuiskokke?
Ek dink ’n blikkie tamatiesardyne. Jy kan so vinnig so veel met die vissies doen.
Wat was die mees romantiese maal wat jy nog geniet het – vertel my daarvan?
Vir my is ’n romantiese ete ’n onbeplande ete met vis en tjips iewers op ’n onwaarskynlike plek. Ons kyk eenvoud mis. Dit gaan oor die saamwees en samesyn, nie oor grend tafels en blomme nie.
Wat is die gereg wat jy maak as jy vinnig iets moet voorsit?
Enigiets met maalvleis en pasta!
Watter resep in die boek is jou gunsteling en maak jy die meeste?
Ek dink is my bobotie. Dit bly vir my lekker.
Wat was jou slegste maal ooit, vertel my daarvan?
Mmmmm, ek het al ’n paar gehad, maar ene wat ek onthou, was so 20 jaar gelede toe ek te veel sous in frikkadelle gegooi het … dit was lastig.
Watter een bestanddeel kikker vir jou enige maal op?
Knoffel!
Wat is jou gunstelingwyn en met watter dis drink jy dit graag?
Ek hou van ’n lekker witwyn soos ’n chardonnay saam met hoender of vis. Ag sommer net ’n glas op sy eie is vir my jirrlik.
Watter kosreuke herinner jou aan jou kinderdae en watter resep het jou ouma gemaak wat jou hart gesteel het?
Kos laat my aan my ma dink. Die reuk van kwepers en anys laat my elke keer ’n knop in die keel kry. Dit is haar kosreuk. Ek vang myself as ek kwepers sien in ’n winkel dat ek aan hulle gaan ruik. Dan stap ek en die engele verder daarna…
Waarvoor sal jy jou siel verkoop?
Defnitief my broer se gebraaide skaapboud en ’n glas bier met ys.
Drie bestanddele waarsonder jy nie kan kook nie?
Knoffel, tamaties en natuurlike geurmiddels.
Wat bestel jy as jy gaan uiteet?
Ek bestel gewoonlik iets wat ek nie self by die huis maak nie. As ek by ’n gereelde restaurant gaan eet, dan haak ek vas by iets wat ek ken. Dit maak my lam om kos in ’n restaurant te bestel wat nie geurig voorberei is nie en ek moet duur daarvoor betaal.
As jy ’n drankie kon wees, wat sou jy wees?
’n Koue gin en tonic!
Watter is jou gunstelingkrui?
Roosmaryn. Sy is mos geneig om soos ’n tweeling wat te veel suiker ingekry het, by ’n partytjie als te wil oorheers, maar ek hou van die aromatiese smaak.
Willie se resep vir aspersies in fillo-deeg:
Bestanddele
4 aspersies per persoon (buite seisoen kan jy vars groenbone gebruik)
Botter om die aspersies in te braai
1 pak fillodeeg
Gesmelte botter om oor die fillodeegvelle te verf
Olie vir vlakbraai
250 g roomkaas
Suurlemoenwiggies
Metode
- Braai die vars aspersies ’n paar minute in botter en hou dan eenkant. Sny die fillodeeg in ewe groot stukke – groot genoeg om die aspersies in toe te draai.
- Verf die gesmelte botter met ’n kwassie op die fillodeegvelle en gebruik vier velle per porsie.
- Smeer roomkaas op die boonste vel. Draai elke aspersies in ’n stuk deeg toe. Verhit die olie in ’n pan en braai die aspersies tot die filodeeg bros is. Skep uit die olie en laat op handdoekpapier dreineer.
- Bedien met suurlemoenwiggies.