Suzelle DIY het sekerlik geen bekendstelling nodig nie. Want wie kan die hele braai-paai-video op YouTube vergeet? Nou het sy haar hand aan ’n kookboek gewaag: Resepte deur SuzelleDIY
Deur MARYKE ROBERTS
Foto’s Russell Smith
Suzelle vertel: “Kom saam met my (en ’n paar van my vriende) op ’n prettige kos-avontuur en leer ’n klomp wenke en truuks soos ons aangaan. Hierdie boek is propvol van my gunstelingresepte van alle tye wat die hele familie kan geniet! Van easy-peasy resepte vir die middel van die week tot heerlike geregte waarvan almal hou, soetgoed en natuurlik ’n bietjie DI-Braai!
“Van ontbytwafels en fênsie paptert tot baklava-braai-paaie en springmielie-lollies – daar is regtig iets vir almal in hierdie boek! So, as jy jou aandete wil skop gee, jou kospakkie wil opdollie of net lus is vir bietjie Suzelle-pret en ’n tikkie kombuiskreatiwiteit, hoef jy nie verder te soek nie. DIY? Because anybody can!”
Waar kom die idee van jou eie kookboek vandaan?
Ek het altyd daarvan gedroom om ’n versameling van my gunsteling-resepte bymekaar te sit. Ek het baie lank terug begin om resepte in ’n lêer te versamel en is baie opgewonde dat dit nou alles in een pragtige boek is.
Waar kom die resepte vandaan? Ek sien daar is sommige wat heel onortodoks klink soos melktert-jaffles en gebraaide sjokolade-lemoen-lawakoek tot Jack Parow se braaibroodjies. Skryf jy skelm af as jy by mense kuier?
Dis ’n lekker mengsel van my eie kreatiweit, sowel as resepte van familie en vriende (selfs bekende vriende).
Hoe lyk jou kookboekversameling tuis?
Ek het ’n reuseversameling kookboeke, tydskrifte en uitknipsels wat ek oor die jare versamel het. Ek het ook my ouma se ou resepteboek wat ek vandag nog gebruik.
Wat is jou gunstelingresep in die boek?
Oooo, dis moeilik. Ek het so baie, maar my absolute gunsteling is die maas-pannekoek en die stokvis-flokkiegebak.
Wat maak jy baie gereeld vir jou huismense en gaste?
Braai-paais en tamatietertjies. Dit hou die skares gelukkig.
Onthaal jy graag en wat is jou topwenke vir stresvrye onthaal?
Ek is mal oor onthaal! Wees georganiseerd en maak dinge vooruit, sodat wanneer jou gaste arriveer, jy net jou gereg in die oond kan druk en dit kom warm en geurig uit. Dis so maklik!
Hou jy van moeite doen met blommetjies wat uit bome hang, balonne en oulike servette, of is jy een van daardie woeps-waps vinnige gasvroue?
Ek hou altyd van ’n bietjie dekor, maar dis altyd DIY, selfs al pluk ek net blommetjies in my tuin.
Watter vyf bestanddele is altyd in jou huis en reg om gebruik te word?Kaas (ek is mal oor kaas), sprietuie, blikkies tuna, pasta en baie vars groente.
Wat was jou en Marianne se grootste kosflop tot dusver?
Ons het probeer om reënboogmelktert-makrolletjies te maak, maar hulle was ’n absolute ramp. Ek is skaam daaroor.
Waar kom jou kombuisflair vandaan, of is dit maar meestal Marianne wat al die werk doen en jy neem net die krediet?
Ek was nog altyd baie kreatief in die kombuis en het by my ouma geleer, maar Marianne help my baie. (Siestog).
Watter kombuisgereedskap is vir jou noodsaaklik voor jy kan begin bak en brou?
My boor met die ballonklitser vooraan, ’n sif en ’n skaal, want bakwerk is wetenskaplik.
Watter kortpad het jy ontdek wat jy met Vrouekeur-lesers kan deel?
Ek is mal oor die boor en gebruik dit oral, want nie almal het fênsie mengmasjiene by die huis nie. Ek hou ook van resepte met min bestanddele en het daarom baie hiervan – met vyf of minder – ingesluit. Hulle is so maklik, dat almal dit kan doen.
Is al die resepte flopvry en wie het hulle getoets en al die floppe geeët terwyl julle die boek bymekaar gesit het?
Al die resepte is deur my en Marianne getoets tot dit perfek was.
Watter resep dink jy gaan die gewildste onder lesers wees as hulle deur die boek gebak en brou het?
Daar is iets vir elkeen, maar ek dink die afdeling Etes uit die Spens gaan gewild wees, want dit wys jou hoe om treffende geregte te maak uit dinge wat rondlê.
Wat is jou gunsteling-sêding of –spreekwoord oor kos?
“If you can read, you can cook.” My ouma het dit altyd gesê en dis heeltemal waar.
Na watter sjef of kookboek-skrywer kyk jy op?
Ek is mal oor Jamie Oliver en Nigella.
Russell Smith het die foto’s geneem, het jy self gebak en stileer?
Ek en Marianne het al die kos gemaak en stileer. Dit was ’n regte DIY-poging.
Watter uitdaging wat jy nie verwag het nie het die kookboek vir jou gebring?
Ek het nie besef hoe moeilik dit gaan wees om die tydsberekening reg te kry, dat die geregte op die regte tyd uit die oond kom en so ongelooflik mooi lyk nie. Dit was nogal stresvol, maar teen die einde van dag 2 se fotonemery, het Marianne vir ons spreadsheets opgestel en ons op die regte pad gehou.
Wat maak jy as jou kos te sout of loperig is en die gaste staan al by die voordeur?
Wel, as jy slim is soos ek, sou jy jou resepte al vooraf geoefen het, sodat jy nie foute maak nie. Maar as dit te laat is om die gereg te red, gebruik een van my resepte Etes uit die Spens en maak iets vinnigs.
Suzelle se resep vir gebraaide sjokolade-lemoen-lawakoek
(genoeg vir 6)
Ek en Marianne maak gewoonlik hierdie heerlike nagereg as ons gaan kampeer.
Bestanddele
6 lemoene
Sjokoladekoekmengsel van jou keuse (daar kom gewoonlik ’n eier, olie en melk by).
Metode
- Sny die bokant van die lemoene af, asook ’n klein stukkie van die onderkant, sodat hulle regop op die braairooster kan staan.
- Hol die lemoen uit en hou ’n paar segmente vir garnering as jy wil. Meng die koekbestanddele volgens die instruksies op die pakkie.
- Skep dit in die hol lemoene tot driekwart vol. Draai die lemoene in swaar foelie toe en bak op die rooster vir 30-35 minute of tot dit bros buite en loperig binne is.
- Haal versigtig met ’n braaitang van die braai af, haal die foelie af en daar is dit!
- Sit ’n paar lemoen-segmente bo-op as jy wil, strooi versiersuiker oor en eet met ’n lepel.