Natasha Smit het op 16 Oktober haar vyfde jaar as die uitvoerende sjef by Walkersons Hotel & Spa op Dullstroom gevier
Deur MARYKE ROBERTS
Foto verskaf
Natasha vertel dat haar verloofde daar naby gewerk het en sy halsoorkop verlief geraak het op die omgewing en opslag daar wou werk.
Hoe het jou reis met kos en die kombuis begin?
Ek is´n kookster van kindsbeen af – met ´n ma wat 35 jaar lank al suikerkuns doen en koek bak was dit onmoontlik om nie te kook nie.
Waar het jy studeer en waar het jy al in jou lewe gewerk?
By die International Hotel School en toe by verskeie hotelle: Alpine Heath in die noordelike Drakensberge, Karula Hotel in Witrivier, Budmarsh in Magaliesburg en IngwenYama in Nelspruit.
Vir wie kook jy die graagste?
Sommer vir almal. Ek vat sommer jou huis oor en begin met die potte raas.
Waarvoor sal jy jou siel verkoop?
Foie gras, crème brûlée en spek.
Wat is jou grootste uitdaging as sjef?
Papierwerk, sjefs hou nie daarvan nie en om ´n goeie rede: ons wil stoom in die gesig, mes in die hand en ’n neus vol lekker geure hê.
Watter sjef het die grootste indruk op jou loopbaan gemaak?
Marco Pierre White, hy sê ‘hou dit maklik’, maar tog is al sy kos ingewikkeld en besonders.
Waar kom jou groente en kruie vandaan en watter krui gebruik jy die meeste?
Meestal plaaslike verskaffers, en van die kruie kom uit ons eie tuin hier by Walkersons. Ek is mal oor koljander, dis my gunsteling.
Wat is die lekkerste aspek vir jou van sjef-wees?
Ek kan sonder verskoning eet, want dis mos my werk
Hoe lyk jou resepteversameling – speel en eksperimenteer jy of waar kom resepte vandaan?
Ek lees ’n kookboek soos ’n storieboek en het baie van hulle, só as ek in die oggend opstaan en ek is lus vir sous maak, word dit die dag se doel.
Hoeveel resepteboeke het jy en watter een is jou gunsteling?
Maklik 50 – ek versamel elke oomblik nog meer: White heat, The Fat Duck, Kitchen Cowboys, Donna Hay, elke dag iets anders, maar ook sommer almal.
Watter vyf bestanddele is altyd in jou spens?
Brandrissie, koljander, knoffel, olyfolie en gerookte sout
Wat is jou gunstelingmaaltyd op die spyskaart en is daar een dis wat jy nooit van die spyskaart kan afhaal nie – maar net varieer met ’n nuwe kinkel?
Die hoender-en-garnaalkerrie. Ek hou van speseryagtige en Indiese kos is van my gunstelinge. Die bekende beesstert op ons spyskaart sal ook nooit verander nie.
Waar en wanneer het jy die mees romantiese maaltyd van jou lewe geniet?
By The Oyster Box in Umhlanga, saam met my vrou.
In watter sjef se restaurant wil jy nog graag gaan eet?
Luke Dale Roberts – ek is mal oor sy styl.
As jy saans doodmoeg van die werk af kom, wat berei jy vir jouself wat sommer al die moegheid laat verdwyn?
Whiskey – nee, ’n posjeerde eier op rogbrood met Hollandaisesous.
Wat eet jy nie en wat berei jy nie?
Afval – soos in die ou dae, maar ek hou daarvan om niertjies, lewers, ore en brein te kook.
Wat was jou slegste maal ooit?
My beste vriendin se bruin uiesop wat bitter vol sand was en van die uie was gebrand, maar sy het probeer.
Watter kosreuke herinner jou aan jou kinderdae en watter resep het jou ouma gemaak wat jou hart gesteel het?
Aunt Sik se poeding – gestoomde kaneelpoedding met vla – dis tot in die Wenresepte van lank gelede.
Wat bestel jy as jy gaan uit-eet?
Altyd iets wat ek nog nooit geëet het nie; ek sal enige ding een maal probeer.
As jy ’n drankie kon wees, wat sou jy wees?
Whiskey.
Wat is jou gunstelingkosmark?
Portobellomark in Londen. Ek was lank oorsee en daardie mark is vreeslik spesiaal.
Wat is die mooiste woorde wat jy nog rondom kos gehoor het?
Niks nie, stilte – as mense stom is en elke happie net wil geniet.
Na watter sjefs kyk jy op?
Kyle Norris, Chris Tustian, Juan Wilkinson, Mike Stutter.
Wat is jou mooiste kosherinneringe uit jou ma se kombuis?
Soet-suur hoender – my ma wil na al dié jare nou nog nie die resep vir my gee nie.
Walkersons se gewilde botterbroodjies
Bestanddele
1 kg bruismeel
250 ml wit suiker
250 ml Griekse jogurt
4 eiers
1 teelepel vanielje-ekstrak
250 g botter teen kamertemperatuur
Metode
Meng die botter, eiers, vanielje, suiker en Griekse jogurt goed saam. Voeg die meel by en meng met jou vingers, maar moenie die deeg te veel bewerk nie.
Druk tot ongeveer 2,5 cm dik en sny in vierkante of druk in ronde vorms uit.
Bak in ’n voorverhitte oond teen 170’C tot goudbruin. Bedien met roomys en tuisgemaakte aarbeikonfyt.
Maryke is ’n ervare joernalis, wat haar liefde vir reis, mense, boeke, teater en lekker kos en wyn, op hierdie manier kan uitleef. Sy was al op elke uithoek van die aardbol – bo die wolke; in ’n lugballon; onder die water in ’n duikboot en onder die grond in tonnels – en gaan nêrens sonder haar reisgenoot, eggenoot en mede-joernalis, Clifford nie. Sy glo die lewe is te kort vir slegte koffie.