Die Vroue-Landbouvereniging van Kaapland is ’n niestaatsorganisasie wat op 15 Oktober 1929 in Franschhoek gestig is om persoonlike groei te bevorder en gemeenskapsdiens te verrig
Deur MARYKE ROBERTS
Foto’s verskaf
Die nuwe VLV-kookboek wat deur Human & Rousseau uitgegee word, bevat ’n versameling flatervrye resepte deur die lede van die Vroue-Landbouvereniging van Kaapland ter viering van hul 90ste bestaansjaar.
Karien van Schalkwyk, VLVK-president van 2014 tot nou vertel: “Trakteer jou gesin op ou familiegunstelinge soos lewerkoekies, bobotie en skaapboud in die toe-gedeelte en geniet weer die liplekker lekkerte van melktert, gemmerkoekies en gemmerbier om maar net enkeles te noem.
“As jou tyd beperk is, wend jou tot die getoetste kortpad-resepte in die nou-gedeelte waar die mikrogolf ingespan word, soos ’n sjokoladekoek wat in slegs sewe minute gemaak word, en beproefde, gesonder geregte soos spinasiegebak, pampoenmuffins, bobotie met ’n appellaag en eiervrugslaai.”
Hoe het jou reis met kos en die kombuis begin?
As jong kind het my ma my toegelaat om eenvoudige tertresepte (toentertyd was die basiese bestanddele Tennisbeskuitjies, vrugte en jellie!) uit te probeer. Ek het meestal met my oë gesteel oor hoe sy kosmaak.
Wat is jou mooiste kosherinneringe uit jou ma se kombuis?
Daar was ’n aga in ons kombuis op die plaas: dit was die mooiste en lekkerste melkterte met sulke fyn gepofte skilferkorse en ligbruin sproete op die vulsel wat my ma in daardie “bo-oond” gebak het.
Waar het jou pad die eerste maal met die VLV gekruis en hoe lank is jy nou al lid?
As pasgetroude was ek een van die nege stigterslede van die Hantam VLV-tak. Ek is 42 jaar lid van dié tak.
Hoe verryk jou deelname aan die VLV jou?
Ek het myself leer ken – daar gaan nie ‘n vergadering verby waar jy niks geleer het nie.
Is daar in 2019 nog plek vir iets soos die VLV?
Die vereniging bestaan al 90 jaar. Ons hoofdoel is steeds volwasse opvoeding – ’n wyse vrou het die VLV so opgesom: dit is plek waar enigiemand “toevallige kennis” raakloop en opdoen – kennis wat mens nie van geweet het en nie deur middel van ’n soekenjin êrens op die internet sou gaan soek het nie.
Waar kom jou skilpadjies-resep vandaan en watter herinneringe het die resep vir jou?
My eerste kennismaking met “skilpadjies” (gegeurde, gemaalde skaaplewer wat in netvet toegedraai is) was 45 jaar gelede op Calvinia. Tot vandag is dit ’n gunsteling om oor die kole te braai en ’n byt deur daardie krakerige vetomhulsel met die sappige lewermengsel binne-in is hemels!
As jy vir jouself kook, wat maak jy graag?
Ek is dol oor enige pastagereg.
Hoe sal jy jou kookstyl beskryf en hoekom sê jy dit?
Ek hou daarvan om eenvoudige, geurige boerekos, soos my ma en skoonma dit gemaak het, te berei.
Hoe lyk jou resepte-versameling – speel en eksperimenteer jy of waar kom resepte vandaan?
Ek het ’n boekrak vol resepteboeke! Ek lees dit soos storieboeke. Ek is nie ’n waaghals as dit by kos-eksperimente kom nie. Ek is gemakliker met resepte wat getoets en betroubaar is.
Watter vyf bestanddele is altyd in jou spens?
Eiers, melk, meel, kaas en botter.
Wat was die mees romantiese maal wat jy nog geniet het – vertel my daarvan?
Ek en Gerrit hou albei van die stilte – geen internet en selfoonverbindings – in die Kgalagadi. Om langs die vuur te sit en ’n vleisie en braaibroodjie op die kole te braai, is vir ons albei besonders.
Wat was jou slegste maal ooit, vertel my daarvan?
Ek en my oorlede skoonma was ewe lief vir nagereg. Om my te bederf, het sy eendag ’n rabarbertert gemaak – rabarber is ongelukkig glad nie my gunsteling nie en ek het baie swaar daaraan gesluk!
Watter deel van enige karkas skeep die meeste tuiskokke af en berei jy graag (lewer, snoet, ens)?
Ek glo die vyfde kwart, die afval, word die meeste afgeskeep. Nie almal is lief vir afval nie, so dit berei ek net wanneer ek weet dit is silwerskoon en al my gaste eet dit graag. Wanneer ons slag, maal ek graag die lieslappe – ’n pakkie maalvleis in die vrieskas het al baie maaltye gered.
Wat is die mooiste woorde wat jy nog rondom kos gehoor het?
“Dankie, Mamma, dít was nou baie lekker!”
Na watter sjefs kyk jy op?
Ek verwonder my elke keer as Chantel Dartnall daardie kos-kunswerke op ’n bord optower. Te mooi om te eet!
Watter internasionale sjefs se kos wil jy nog eet?
Wanneer die geleentheid hom voordoen, kyk ons graag na Master Chef Australia; ek sal graag van Gary en George se geregte wil proe.
Karien se resep vir Skilpadjies
Lewer 4–6 porsies
Bestanddele
500 g grofgemaalde skaaplewer
250 g varkmaalvleis
1 ui, fyngerasper
fyn koljander-wonderpeper, sout en peper na smaak
Metode
Meng al die bestanddele saam. Sprei die netvet van ’n skaap op ’n tafel oop en sny vierkante van 12 × 12 cm uit. Moenie die baie dik vetgedeeltes gebruik nie.
Skep lepels vol lewer op die vierkantjies en steek met peuselstokkies vas.
Braai stadig oor warm kole.
Maryke is ’n ervare joernalis, wat haar liefde vir reis, mense, boeke, teater en lekker kos en wyn, op hierdie manier kan uitleef. Sy was al op elke uithoek van die aardbol – bo die wolke; in ’n lugballon; onder die water in ’n duikboot en onder die grond in tonnels – en gaan nêrens sonder haar reisgenoot, eggenoot en mede-joernalis, Clifford nie. Sy glo die lewe is te kort vir slegte koffie.