Eddie Enslin is die uitvoerende sjef by Bellevue, die landgoed in die Bottelary Heuwels buite Stellenbosch
Deur MARYKE ROBERTS
Foto’s verskaf
Die historiese landgoed se nuwe restaurant en proelokaal is ’n moderne, vars ruimte.
Waar kom jou belangstelling in kos vandaan en waar het jy jou opleiding ondergaan?
Dit het alles begin in ’n Brighton-strandfrontrestaurant in Engeland. My opleiding het ek daarna by die Food & Beverage Institute in Bloemfontein betaal met die geld wat ek in Engeland gespaar het.
Wat is die snaaksste gereg wat jy al ooit vir iemand moes berei?
Vir ontbyt moes ek een maal eiers Benedict met roomys vir ’n gas op die Queen Mary 2 maak.
Het jy al iewers gewerk waar jy jou eie diere vir die pot moes slag?
Nee, nog nie.
Waarvoor gril jy in die kombuis en vra jy vir iemand anders om te doen?
Niks nie.
Het jy ’n resep wat al vir geslagte lank in die familie saamkom, wat jy steeds maak?
Nee, maar my tante Trys het altyd ’n soet kerriemaalvleis met piesang saamgebring as sy kom kuier het, wat tot vandag toe die lekkerste smaak is wat ek kan onthou, en nog nie kon namaak om so lekker soos hare te wees nie.
As jy af voel of hartseer is, wat maak jy om te eet?
Baie warm stadig-geroosterde lamskerrie; jy kan die hartseer uitsweet soos ’n verkoue.
Wat was jou slegste maal ooit, vertel my daarvan?
’n Familielid se maalvleis-konkoksies, maar ek wil vir my eie veiligheid nie uitbrei nie.
Watter een bestanddeel kikker vir jou enige maal op?
Goeie geselskap.
LEES OOK: Sjef: David Williams
Wat is jou doodsonde met kos – eet jy skelm grondboontjiebotter uit die bottel, of so iets?
Ek eet lekkers voor ek gaan slaap en sit dan die leë houers of -papiertjies weer terug in die kas waar ek dit gekry het.
Wat is jou een geheim vir ’n lekker braai?
Goeie wyn en kameeldoringhout.
Is daar een dis wat jy nie eet nie en ook nie graag berei nie?
Nee nie sover nie, ek kon nog alle kosverwante goed eet waarop ek afgekom het.
Wat is jou gunstelingwyn en met watter dis drink jy dit graag?
Chenin blanc saam met salm en aspersies.
Wat was jou grootste kombuisflater?
Om per ongeluk die groot kombinasie-oonde van rooster- na die stoom-funksie af te skakel en dit nie betyds agter te kom nie – ek het die aand geroosterde kruiekorsvark vir 400 mense berei.
Hoe voel jy oor botter en eendvet?
Soos Julia Child sê: “With enough butter, anything is good.”
Watter wyn geniet jy om mee te kook en te drink?
Pinotage met ’n geskroeide dis, dit is goeie geselskap terwyl jy wag.
Hoe sal jy jou kookstyl beskryf?
My styl is gewortel in die klassieke Franse kookkuns met ’n modern kinkel.
As jy een maal moet uitsonder wat vir jou uitstaan oor die jare, watter een sal dit wees?
’n Goeie kapokaartappel, dis die eerste dis wat ek geleer het om te maak.
Drie bestanddele waarsonder jy nie kan kook nie?
Sout, uie en knoffel.
Watter kombuisgereedskap het jou lewe verander?
My eerste stel van drie messe wat ek met my eerste week se salaris in die kombuis gekoop het. Dit was ’n Santoku-styl mes, ’n lang, buigbare filet-mes en ’n gerante pairing-mes.
Wat bestel jy as jy gaan uiteet?
Gewoonlik die sjef se duurste vlagskipdis op die spyskaart – as ek dit kan bekostig.
As jy ’n drankie kon wees, wat sou jy wees?
´n Moscow mule: vodka, gemmerbier en lemmetjiesap.
Waar is jou gunstelingkosbestemming?
As ek weer kon terug gaan Asië toe …
LEES OOK: Sjef: Jessica Holloway
As jy nie as ’n sjef kwalifiseer het nie, watter ander beroep sou jy kon volg?
Nog nie so daaraan gedink nie, maar definitief iets wat spoed behels.
Watter raad het jy aan tuiskokke wat soms oorweldig voel deur onthaal?
Moet dit nie vir jouself kompliseer met te veel bestanddele en komponente nie. Kook uit die hart; met liefde en wat jy geniet om te maak.
Wie is jou koshelde?
Die tuiskokke van toeka se dae.
Watter is jou gunstelingkrui?
Tiemie.
Sjef Eddie Enslin se vinnige gebraaide somergroenteslaai:
Bestanddele
Kersietamaties
Klein murgpampoentjies
Soetrissies
Geblikte artisjokke
Geblikte kekerertjies
Eiervrug
Basiliepesto
Metode
Vir die pesto
Neem ’n koppie basilie, ½ koppie gerasperde parmesaankaas, 50 g dennepitte, drie knoffelhuisies, ’n knippie sout en peper, ’n koppie olyfolie. Plaas al die bestanddele in ’n voedselverwerker en meng of kap alles fyn met ’n mes en meng.
Vir die groente
Sny die groente in bonkige stukke; besprinkel met olyfolie, sout en peper en bak in ’n oond op 180 grade Celsius vir 10 minute. Haal uit en dreineer die olie. Laat verkoel en meng met jou tuisgemaakte pesto.