Sjef Bertus Basson en sy regterhand, sy vrou, Mareli, het amper nie bekendstelling nodig nie: hul nuutste restaurant, Spek en Bone, het in November op Stellenbosch geopen
Deur: Maryke Roberts
Foto’s: verskaf
Overture is al vanaf 1 November 2007 oop; Bertus Basson at Spice Route is oop sedert 1 Februarie 2015; Bertus Basson at The Ritz maak later vanjaar oop; sy boek, Homegrown, het pas by Jacana verskyn en die televisiereeks, Goed, Beter, Bertus begin op 11 Julie op VIA. Bertus het al vyf toptien Eat Out-toekennings op sy kapstok.
Bertus en Mareli woon in Jamestown, net buite Stellenbosch. Hy is nie dikwels by die huis nie, maar hou van kosmaak tuis en vertel dat Mareli ook baie behendig in die kombuis is, wat beteken hulle maak beurte met kosmaak.
Waar kom jou belangstelling in kos vandaan en waar het jy jou opleiding ondergaan?
Ek is al van kleins af geïnteresseerd in kosmaak en het op skool die vak hotel en spyseniering geneem. Ek het geen formele opleiding nie en het ná skool in Londen gaan werk, onder andere by Chez Bruce in Wandsworth, ’n Michelin-ster-restaurant.
Vertel my asb van jou kookboek Homegrown?
Dis my eerste boek. Die boek gaan oor wat my inspireer en nostalgiese kosherinneringe wat ’n groot invloed op my het en op die kos wat ek kook.
Wat is vir jou die veelsydigste bestanddeel om mee te werk?
Suurlemoen
As jy jou kookstyl in een woord moet beskryf, wat sal dit wees?
Modern Suid-Afrikaans.
Wat was die mees romantiese maal wat jy nog geniet het – vertel my daarvan?
Lekker eet op die stoep by ons huis, saam met Mareli, met ’n goeie bottel wyn!
Wat is jou terugvaldis as jy vinnig iets moet kook?
Pasta met kiri-kaas en parmesaan, baie eenvoudig, maar baie lekker!
Waar kry jy energie vir al jou projekte?
Ek weet self nie!
Wat is die grootste voordeel daarvan om Mareli as jou regterhand te hê?
Sy verstaan my ure en haal baie druk van my af. Sy is ook ’n CA en verstaan die besigheidskant van restaurante. Sy hou ook tred met huidige dekor en neigings en kyk na die dekor van al die restaurante.
Wat is die een dis wat jou vriende of familie telkemale voor vra en jy oor en oor moet maak?
Ek braai ’n mean brisket.
Watter twee bekende mense sal jy nooi vir aandete en hoekom?
Eddie Vedder en Massimo Bottura. Altwee is rockstars in hulle eie reg.
Wat sal op die spyskaart wees?
Ek sal braai.
Wat is jou doodsonde met kos – eet jy skelm grondboontjiebotter uit die bottel, ens?
Ek is mal oor kaas, Steri Stumpies en yslollies.
Wat is jou een geheim vir ’n lekker snack saam met braaivleis?
Ek hou van dun lamswors met my Bertus Basson cucumber pickles.
Watter deel van ’n dier (skaap, bees of vark) ignoreer mense wat jy graag gebruik en mense dan hul vingers voor aflek?
Almal se harte is lekker en mense is verras as ons dit bedien.
Watter wenk het jy vir tuiskokke wat hul kookkuns sal transformeer?
Kook resepte wat maklik is om te maak. Die grootste flaters gebeur wanneer jy jouself over-extend. By die huis kook ons altyd vir smaak en nie hoe kos lyk nie.
Wat was ’n sjefshoogtepunt vir jou?
Daar is vele. Ek geniet dit om elke dag in my restaurante in te stap ek alles werk seepglad.
Watter kosreuke herinner jou aan jou kinderdae?
Kaneel
Waarvoor sal jy jou siel verkoop?
Melkkos
Drie bestanddele waarsonder jy nie kan kook nie?
Suurlemoen, botter, sout
Watter kombuisgereedskap het jou lewe verander?
’n Kitchenaid-menger en ’n thermomix
As jy ’n drankie kon wees, wat sou jy wees?
’n White Russian – my gunsteling-laatnagdrankie
Het jy ’n gunstelingkookboek?
Kook en geniet
Wie is jou koshelde?
Massimo Bottura, Bruce Poole, en George Jardine.
Bertus Basson se resep vir Vergete wortels uit sy kookboek, Homegrown.
Bedien 8
Bestanddele
16 vars wortels
Sout en peper
Klont botter
2 takkies tiemie
½ teelepel karwysaad
Metode
Skrop die wortels en plaas in ’n roosterpan. Geur met sout en peper en botter. Besprinkel met tiemieblare en karwysaad en rooster teen 140 grade Celsius. Draai gereeld en bedrup die bottermengsel oor die wortels. Rooster vir ongeveer ’n halfuur, afhangende van die grootte van die wortels.
Ek noem dit vergete wortels, want ons vergeet dit in die oond, sodat die wortels suikersoet word in hul eie vel.