Armand Aucamp is nie net een van ons gesogste akteurs nie, hy deel nou ook sy geheim met almal
Deur MARYKE ROBERTS
Foto’s Donna Lewis
Sy geheim – hy eet kaal, gestroopte, heel kos soos Tim Noakes dit in sy Real Meal Revolution met Suid-Afrika gedeel het. Armand se eie kookboek, Armand kook kaal, is pas deur Lapa Uitgewers bekendgestel.
Aanvanklik het Armand gedink Noakes is mal. Aangesien hy egter gesukkel het om gewig te verloor, probeer hy toe hierdie nuwe denkwyse en hy begin self gesonde kos kook. Oor ’n paar jaar het Armand 100 laekoolhidraatresepte, wat banting- of keto-vriendelik is, gekook en neergeskryf. Stap-vir-stap, en met pragfoto’s daarby, wys Armand jou hoe om smuldisse te skep uit heel, gestroopte bestanddele sonder om die skaal te laat ly.
Prof. Tim Noakes het gesê: “Sonder twyfel een van die beste laekoolhidraat-kookboeke ter wêreld. Armand verskuif grense!” Hoe voel jy oor hierdie onderskrywing?
Dit voel soos ’n droom! Ek is ’n groot aanhanger van prof. Noakes en ek lees, luister en kyk na als waaroor hy gesels. Hy is ’n wêreldleier op hierdie gebied en om sy woorde oor my boek te lees, is ’n absolute riem onder die hart; ek wil bars!
Hoe voel dit om jou eie kookboek in jou hande te hou?
Dit is nogal onwerklik. Dit is iets wat ek geskep het en hier is dit, in my hande. Ek is regtig trots op die boek en dankbaar vir Marida Fitzpatrick (my uitgewer) en Lapa Uitgewers vir die geloof en die geleentheid.
Hoe het jou kookmetodes en wat in jou yskas is, oor die jare verander?
A, dit het baie verander; verander nog steeds. Dit is die wonderlike ding van voedsel en kennis, dit evolve. Een ding is seker, daar sal nooit weer suiker, grane en industriële groenteolie (sonneblom, kanola, soja) in my kaste wees nie.
Kook jy vooruit en vries?
Ek het altyd, toe ek nog ’n groter vrieskas gehad het. Maar dit is nogal lekker om deesdae elke dag iets vars te kan maak. Ek besef wel dat tyd nie noodwedig altyd beskikbaar is nie, so dan vries ek vir seker – gewoonlik soppe.
Hoe moeilik is dit vir jou om gesond te eet as jy so baie weg van die huis is?
Dit is glad nie moeilik nie! Dit gaan net oor kennis en weet wat ‘goed’ en wat ’sleg’ is. Gekookte eiers is my stapelvoedsel as ek onseker is of min tyd het. Dít en biltong (met vet). Of ’n ryp avokadopeer. Of ’n lekker stuk kaas. Of neute. Daar is soveel maklike kosse wat volmaak en maklik verkrygbaar is.
Watter vyf bestanddele is altyd in jou spens?
My bestanddele is meestal in die yskas (ek koop nie te veel droë bestanddele nie) Botter, volroom-jogurt, eiers, sardientjies, pampoensade
Watter bestanddeel het jy met jou nuwe kookstyl ontdek wat jy voorheen min of glad nie gebruik het nie?
Gemmer – droog en vars. Ek het nooit regtig met gemmer gekook nie, maar dit verhef geur na ’n heeltemal ander vlak. Dit is wonderlik!
Hoe het jou verhouding met Du Toitskloof-wyne begin en wat behels dit?
Ek het deur Lapa met Du Toitskloof in aanraking gekom. Du Toitskloof en LAPA werk al lank saam deur middel van boekbesprekings, boekaande, LITnet en een van hul nuwe projekte wat in 2019 geloods gaan word, is die pasmaat van wyn en boeke.
Waar kom jou belangstelling in kos vandaan?
My ma het ons van kleins af geleer om self te kan kosmaak as ons honger was. So ek was al van vroeg af handig in die kombuis en het gereeld uit die Klein Kook en Geniet gekook en gebak. Ek toer ook baie na ander lande en is versot om ander kulture se kosse te leer ken. My belangstelling in voedselwetenskap, het begin toe ek 5 jaar gelede na ’n mooier lyf gehunker het.
LEES OOK: Sjefs: Jan Hendrik van der Westhuizen
Wat was die mees romantiese maal wat jy nog geniet het – vertel my daarvan?
Vir my lê die romanse in eenvoud. My date het geweet dat ek bant en het vier van die dikste, lekkerste Karoo-lamtjoppies by ’n slaghuis bestel en dit vir my met roosmaryn, knoffel en botter gaargemaak. Dit was die lekkerste date-ete nòg!
Wat is jou terugvaldis as jy vinnig iets moet kook?
Altyd altyd altyd: Roerbraai enige groente in die yskas (gewoonlik kool, wortel, ui en murgpampoentjie) en dan 3-5 eiers daarin gebreek en verder gaarmaak.
Watter resep in die boek is jou gunsteling en maak jy die meeste?
Ag, daar is regtig baie gunstellinge, maar ek maak nogal baie die sjokolademousse (Mense LOVE dit…)
Wat was jou slegste maal ooit, vertel my daarvan?
Joe, iemand moet regtig groot opmors vir my om regtig kos nie te geniet nie, maar ek dink dit was toe iemand geblikte vleis in ’n bredie gebruik het. Ek sukkel met geblikte kosse, behalwe vis. Maar nee, hulle kon wraggies maalvleis gebruik het…
Watter drie bekende mense sal jy nooi vir aandete en hoekom?
Cate Blanchett – sy’s my gunstelingaktrise. Bon Iver – Sodat hy vir ons kan sing en Frida Kahlo, want sy’s Frida Kahlo.
Wat sal op die spyskaart wees?
Dit sal definitief uit vingerkos op platters bestaan. Ek is MAL oor daardie manier van eet en deel. Haloumi-vingers en geroosterde knoffelhuisies, geroosterde artisjokke, kase, koue vleise, gevulde babatamaties, olywe, komkommerwiele met gekaramaliseerde uie en bokkaas.
Watter een bestanddeel kikker vir jou enige maal op?
Suurlemoen.
Wat is jou gunstelingwyn en met watter dis drink jy dit graag?
Ek is mal oor rooiwyn, veral ’n cabernet sauvignon! Ek is mal daaroor saam met ’n goeie stuk ribeye steak.
Watter kosreuke herinner jou aan jou kinderdae?
Gebraaide uie. Ma ma gebruik uie in ALLES.
Waarvoor sal jy jou siel verkoop?
As iemand ’n keto-croissant kan vervolmaak.
As jy een maal moet uitsonder wat vir jou uitstaan oor die jare, watter een sal dit wees?
Lasagna. My Ma s’n is die beste wat ek nog ooit geëet het! Ek moet sê dat my banting-weergawe amper ewe goed is…
Drie bestanddele waarsonder jy nie kan kook nie?
Knoffel, suurlemoen en swart peper.
Watter restaurant is tans jou gunsteling?
The Fat Butcher is Stellenbosch is my GUNSTELING! Hul vleise is van die beste gehalte en hulle bedien elke steak met ’n murgbeen. Dit is hemels!
Wat bestel jy as jy gaan uit-eet?
As lamskenkel op die spyskaart is, is dit ’n gunsteling. Indien nie, òf ’n interessante slaai, òf ’n steak.
As jy ’n drankie kon wees, wat sou jy wees?
Definitief ’n koffie met room. Of dalk ’n yskoffie met melk en ys. Of dalk ’n ‘broffir’ Bandewyn+koffie, maar beslis KOFFIE!
Watter is jou gunstelingkrui?
Basiliekruid
Wat is die mooiste woorde wat jy al om kos gehoor het?
Appelliefie-lekker!
Armand se resep vir keto-lapperstafies (8-10 stafies)
Hierdie happies is ʼn maklike keto-vriendelike weergawe van die klassieke klapperkoekies of fudge. Dit is perfek vir ʼn teetydhappie of ʼn kinder- of grootmenspartyjie, maar jy kan dit eintlik vir enige okkasie gebruik.
Bestanddele
50 g botter
3 E amandelbotter
½ k erythritol of 1/3k xylitol
2 eetlepel kakao
80 g klapper
40 g amandels, gekap
Metode
Smelt die botter in ’n pot oor matige hitte. Roer die amandelbotter by totdat dit goed met die botter vermeng is. Voeg die erythritol by en roer totdat alles deeglik saamgesmelt het.
Voeg die kakao, klapper en gekapte neute by en meng alles goed saam. Verwyder van die hitte en laat vir 5 minute in die yskas afkoel.
Plaas ’n laag bakpapier op ’n bakplaat. Skep die mengsel op ’n bakplaat met silikoon of gespuite bakpapier. Maak ’n blokvorm wat ongeveer 2 cm dik is en ongeveer 10 cm x 10 cm. Plaas in die yskas en laat vir minstens 30 minute afkoel.
Sny die blok in ongeveer 5 langwerpige stafies en geniet.