Annelien Hesebeck is die afgelope vyf jaar die sjef op die wynlandgoed Domaine Brahms buite die Paarl
Deur MARYKE ROBERTS
Foto’s verskaf
Domaine Brahms is een van die vier wynprodusente van die Paarl wat vanjaar aan die tiende Waterblommetjiefees op Saterdag 7 September deelneem.
Besoekers kan gereedmaak vir ’n opwindende smaaksensasie met tradisionale waterblommetjiebredies en -soppe, jenewerdrankies en selfs dekandente waterblommetjieroomys by die deelnemers Boland Kelder, Domaine Brahms, Rhebokskloof Wynlandgoed en Windmeul Kelder. Die deelnemende kelders is gerieflik binne `n vyfkilometer-radius geleë.
Fantastiese waterblommetjie en wynkombinasies word ook aangebied.
Hoe het jou reis met kos en die kombuis begin?
My passie was nog altyd kosmaak, maar ek het nooit die geleentheid gehad om te gaan studeer nie. ’n Kollega het vir my die geleentheid gegee om oor naweke met funksies op die plaas in die kombuis te kom help. So het my loopbaan begin en vandag is ek die sjef op Domaine Brahms.
Waar kom die resep vir die skyfies vandaan?
Dit was ’n eksperiment wat ons verlede jaar met ons eerste deelname aan die Waterblommetjiefees aangepak het en dit was ’n groot sukses en baie gewild onder die feesgangers.
Waar het jou pad die eerste maal met waterblommetjies gekruis en hoe geniet jy dit om daarmee te werk?
Dis iets wat ek nou al die jare in die huis maak. Dit bly een van my man se gunsteling-geregte; veral op ’n lekker koue wintersdag.
Hoe gebruik jy waterblommetjies in verskillende resepte?
Ek maak natuurlik tradisionele waterblommetjiebredie; ook ’n heerlike waterblommetjiesop en ons waterblommetjieskyfies.
Wie het nog die grootste indruk op jou sjefsloopbaan gemaak?
Ek is ’n groot aanhanger van die kosprogramme op televisie en eksperimenteer altyd met die idees wat hulle daarop gee.
Waar kom jou groente en kruie vandaan en watter krui gebruik jy die meeste?
Ek koop meestal by kettingwinkels, maar ek het ook ’n hele paar wat ek uit my tuin by die huis gebruik. My gunstelingkruie is basielie, tiemie en roosmaryn.
Hoe lyk jou resepte-versameling – speel en eksperimenteer jy of waar kom jou resepte vandaan?
Ek was nog altyd baie lief daarvoor om deur resepteboeke en tydskrifte te blaai en verder kry ek inspirasie uit kookprogramme op die kassie.
Hoeveel resepteboeke het jy en watter een is jou gunsteling?
Gee my ’n resepteboek en ek is die gelukkigste vrou onder die son. As ek moet skat, het ek so ongeveer 45 boeke, maar dan praat ons nie van my tydskrifte nie. Ek kan ongelukkig nie een van hulle uitsonder nie.
Wat is jou grootste uitdaging op die platteland – sukkel
jy met verskeidenheid of vars produkte?
Waterblommetjies kan partykeer moeilik wees om in die hande te kry, maar
ons het gelukkig baie kontakte en verskaffers saam met wie ons nou al jare
saamwerk.
Vir wie kook jy die graagste en hoekom?
Vir my man natuurlik. Hulle sê mos die pad na ’n man se hart loop deur sy maag.
Watter vyf bestanddele is altyd in jou spens?
Kerriepoeier, peper, rissies, uie & knoffel.
Jy bak jou eie koeke; waar kom die resepte vandaan?
Ek speel so rond tussen my resepteboeke.
Wat was die mees romantiese maal wat jy nog geniet het?
My man is ’n Duitser en ek geniet dit altyd as hy spesiaal een van sy Duitse geregte vir ons maak.
Wat is jou go-to gereg wat jy maak as jy vinnig iets moet berei?
My spinasie-en-pastagereg.
Wat was jou slegste maal ooit, vertel my daarvan?
Om die een of ander rede kom my koeksisters en melktert net nooit reg uit nie.
Wat is jou gunstelingwyn en met watter dis drink jy dit graag?
Sauvignon blanc, gewoonlik saam met ’n heerlike visgereg.
Watter kosreuke herinner jou aan jou kinderdae en watter resep het jou ouma gemaak wat jou hart gesteel het?
Varsgebakte brood is altyd ’n wenner en dan het my ouma ook altyd die lekkerste bredies gemaak.
Waarvoor sal jy jou siel verkoop?
Vir seekos.
Wat bestel jy as jy gaan uiteet?
Ek is baie lief vir my vis-platters, en bestel dit graag.
As jy ’n drankie
kon wees, wat sou jy wees?
’n Goeie whiskey.
Wat is jou gunstelingkosmark?
Die dorp se groentemark sien my baie gereeld. Ek is lief vir vars groente en vrugte.
Na watter sjefs kyk jy op?
Mense wat nie geleerd is nie en hul pad opbou tot hulle bo uitkom, staan gewoonlik vir my uit.
Wat is jou mooiste kosherinneringe uit jou ma of ouma se kombuis?
Ek het my ma altyd gehelp om kleinkoekies vir ons vakansie-trips te bak. Ek kon my ook verkyk aan hoe my ouma altyd vir so baie kinders kon kosmaak.
Annelien se waterblommetjieskyfies
(lewer 4 porsies)
Bestanddele vir deeglagie
1 eier
250 ml yskaswater
180 ml koekmeel
2 ml koeksoda
500 g waterblommetjies, gewas, skoongemaak en halfgaar gekook in soutwater
Olie vir braai
Metode
Klits die eier en yskaswater saam. Voeg by die meel en koeksoda en roer met ’n draadklitser tot glad. Doop die waterblommetjies in die beslag, laat oortollige beslag afdrup en braai vinnig in baie warm olie, tot die buitelagie goudbruin en bros is. Dreineer op kombuispapier, geur met sout en sit dadelik met ’n soet chillisous voor om dit in te doop.