Anna Alberts is die sjefskonsultant by Crown Restaurant op die historiese Meerendal Landgoed buite Durbanville
Deur MARYKE ROBERTS
Foto’s Zhann Solomons en stilering Anna Alberts
Haar kookboek, Botter en Liefde – Boerekos van ’n plaaskombuis en in Engels, Butter and Love – Boerekos from a farm kitchen het pas by Quivertree Publications verskyn. Sy beskryf dit as ’n hartsverhaal van ’n plaasnooi met resepte van toentertyd tot nou.
Lesers sal haar ook ken van haar kook-en-selfdoen-program, KOSKASkenades, op SABC 2 om 19:00.
Kosmaak is deel van haar wese, want haar grootouers en ouers was almal lief vir kook en het boonop jare lank hul eie restaurante gehad en hul lekkerste saamkuier is steeds om die kospotte. Sy is eintlik ’n kosstilis, maar as jy haar resepte lees, weet jy sy staan met een been netjies in die sjef- en een in die stiliskamp! Anna het onder meer by Steyn’s Culinary School in Pretoria studeer.
Wat was die mees romantiese maal wat jy nog geniet het?
Dit was romanties in die sin van ’n goeie maal met myself hê! My regte romantiese maaltye moet nog kom! Dit was die heerlikste fees, bo-op ’n berg in Italië by Cinque Terre. Ek het die hele dag van dorp tot dorp gestap, so ek was verskriklik honger, daar was musiek in die agtergrond en die son was besig om oor die see te sak. Hulle het groot borde pasta, vis en slaai uitgedra, die een na die ander, en dit was salig.
Wat is jou terugvaldis as jy vinnig iets moet kook?
Thaise groen kerrie. Altyd.
Wat was jou slegste maal ooit?
Oh jitte, onlangs. Botterskorsiesop wat meer soos geel maizena-pap geproe het. Bleh.
Watter drie bekende mense sal jy nooi vir aandete?
Wel, dit is moeilik. Bekendes staan my nie soseer aan bloot omdat hulle bekend is nie. Ek sal graag met gehaltemense wil kuier, en ek ken hulle nou nie so goed nie. Te moeilik! Maar dalk Heston Blumenthal en Jamie Oliver so dat ek so ´n bietjie van hul passie en kennis kan kry.
Wat sal op die spyskaart wees?
Die varsste van die land se groente, die beste olyfolie, vars brood – alles lekker en mooi. Deelborde. Saam-eet kos.
Watter een bestanddeel kikker vir jou enige maal op?
Suurlemoen.
Wat is jou doodsonde met kos – eet jy skelm grondboontjiebotter uit die bottel?
Kondensmelk uit die blik!
Wat is jou een geheim vir ’n lekker ontbyt?
Oh jitte – vasvra. Croissant. Met baie botter. Dit is nie ’n geheim nie, so dit tel seker nie. Dik jogurt, heuning, vars frambose.
Wat was jou grootste kombuisflater?
Ek het al so ´n paar keer vergeet ek smelt suiker en dan is daar net ’n groot swart plas in die pot oor en die hele huis is vol rook!
LEES OOK: Sjefs: Nic van Wyk en Westley Muller
Hoe sal jy jou kookstyl beskryf?
Ek is mal oor geur en kleur! Avontuurlustig wees. Goeie bestanddele. Kos wat ’n storie vertel.
Wat was ’n sjefhoogtepunt vir jou?
My kookprogram wat binnekort uitkom – Koskaskenades, op SABC 2 om 19:00
Watter kosreuke herinner jou aan jou kinderdae?
Kaneel, groenboontjies met witpeper, mieliepap.
Waarvoor sal jy jou siel verkoop?
My een glas wyn saans.
As jy een maal moet uitsonder wat oor die jare vir jou uitstaan, watter een sal dit wees?
Ek het verlede jaar by die toe 11de beste restaurant in die wêreld, DOM in Brasilië, geëet en dit was ’n uitstaande maal.
Drie bestanddele waarsonder jy nie kan kook nie?
Knoffel, olyfolie, suurlemoen.
Watter kombuisgereedskap het jou lewe verander?
’n Rubber-spatula. ’n Microplane. My Nutribullet.
Is daar een ding waarteen die meeste mense opsien waarvoor jy ’n kortpad gekry het soos neute uitdop of knoffel skil?
Gooi alles in die Nutribullet. Dit maak omtrent enigiets reg. So, in stede van kap, gooi ek dit in die Nutribullet.
As jy ’n drankie kon wees, wat sou jy wees?
Rooiwyn. Diep, sterk en vertroostend.
LEES OOK: Sjefs: Janette Mocke
Het jy ’n gunstelingkookboek?
Ottelenghi: Jerusalem. Jamie Oliver: Alles. Rachel Khoo en dan natuurlik my eie een, want dit het al my lekkerste kindertydstories en herinneringe in.
Wie het jou al jou beste raad gegee?
Niel Jonker – ek het eenkeer die bakpoeier in beskuit vergeet, toe sê hy vir my ek moet dit biscotti noem. Maak dit net werk.
As jy nie as ’n sjef gekwalifiseer het nie, watter ander beroep sou jy kon volg?
Ek wou wiskunde kan studeer en ’n besigheidsvrou wees.
Watter raad het jy aan tuiskokke wat soms oorweldig voel deur onthaal?
Gebruik goeie bestanddele. Kry ’n goeie resepteboek en volg die resep.
Watter is jou gunstelingkrui?
Koljander. Basilie. Tiemie. Alles.
Anna se resep vir koringvrye muesli met min suiker, sjokolade en klapper:
Bestanddele
1 koppie gemengde saadjies
1 koppie klappervlokkies
1 koppie amandels
2 eetlepels kakao
2 eetlepels heuning of Xylitol
3 eetlepels klapper olie
’n groot knypie sout.
Metode
Voorverhit die oond na 160 grade C. Meng die bestanddele goed saam en bak vir 30 minute.
Opsioneel – roer 3 eetlepels kakaosplinters by.