As privaat sjef het Alix Verrips in werknemers se huise regoor die wêreld gekook – die Bahamas, St Tropez, Spanje, Engeland, die VSA en Afrika
Deur Maryke Roberts
Foto’s verskaf
Alix het 15 jaar op luukse seiljagte vir koninklikes, verskeie film- en musieksterre, olie-magnate en industriële rykes gekook. Sy is die enigste vroulike sjef wat as hoofsjef op vier van die 20 grootste seiljagte in die wêreld gewerk het. Sy het die voorreg gehad om vir en saam met die voorste sjefs in die wêreld te kook, soos Thomas Keller, Charlie Trotter, Jacques Pepin, Martha Stewart, Heston Blumenthal en het ook talle ander persoonlik ontmoet. Haar tuiste is Knysna, waar sy graag onthaal en haar kookvaardighede gebruik om geld in te samel vir welsynsorganisasies. Haar boek, Brunch across 11 countries, het by Human & Rousseau verskyn. Dit bevat die beste laat ontbyt-resepte van 11 lande en vastelande; die VSA, Engeland, die Bahamas, China, Monaco, Griekse Eilande, Capri, Mexiko, die Emirate, Afrika en Spanje. Die resepte is geskik vir enige maaltyd van die dag, van ontbyt- en middag- tot aandete.
Waar het jy jou opleiding ondergaan?
As ’n self-opgeleide sjef,was die wêreld my leerskool.
Hoe sal jy jou kookstyl beskryf?
Alhoewel ek bykans enigiets kan kook, is my algemene kookstyl Mediterreens.
Hoe het ’n meisie van Knysna op superjagte beland?
Ek was reeds werksaam op superjagte toe ek my huis in Knysna met my verdienste gekoop het.
Wat is die grootste verskil om op ’n seiljag teenoor ’n normale kombuis te kook?
In ’n seiljagkombuis verander die wêreld buite en daarmee saam die verkrygbaarheid van bestanddele.
Waar werk jy tans?
Ek werk vir ’n kliënt wat in New York woon, maar wat ook huise in die Hamptons, Mallorca, Beverly Hills en Londen het, waar ek ook werksaam is.
Watter kombuisgereedskap reis saam met jou?
Altyd my messe.
Wat was ’n sjefhoogtepunt vir jou?
Om deur NB-Uitgewers genader te word om ’n kookboek te skryf.
Watter kosreuke herinner jou aan jou kinderdae?
Die reuk van kaneel bring my altyd terug na reënerige dae ná skool wanneer my ma vir ons pannekoek gebak het.
Vyf bestanddele waarsonder jy nie kan kook nie
Olyfolie, maldonsout, truffelsout, goeie asyn en grains of paradise-peper.
LEES OOK: Sjefs: Jan Braai
Wat is jou trooskos?
Roereier – jy kan dit enige tyd van die dag as ’n maaltyd eet en dit is altyd bevredigend of jy siek, hartseer, moeg of net honger is.
Wat is die een dis wat op elke spyskaart van jou voorkom?
Ek is mal oor slaai en sluit dit by elke maaltyd in.
Hoe het die kookboek gebeur?
’n Ou vriendin van my yachtiedae, Mari-Louis Guy, wat aan die meeste van julle bekend is as die groot gees op Koekedoor en Kokkedoortjie, het my aangehits. Sy het my ook aan Daleen van der Merwe, die voormalige kookboekredakteur van NB voorgestel en toe ek my oë uitvee, het sy ’n kontrak met my aangegaan en was ek besig om ’n kookboek te skryf!
Watter fout maak die meeste tuiskokke?
Hulle hou nie hul messe skerp genoeg nie! Messe moet altyd op hul eie gebêre word sodat hulle nie teen ander toerusting skaaf en stomp of beskadig word nie. Vermy ook om hulle in die skottelgoedwasser te sit. Investeer in een of twee goeie messe en pas hulle op en hou hulle skerp deur hulle professioneel te laat skerpmaak of self met behulp van ’n behoorlike skerpmaker.
Waar is jou gunstelingkosbestemming?
Italië is my gunstelingkosbestemming, omdat die Italianers soveel passie vir kos en eet het.
Watter is jou gunstelingdrankie?
Vonkelwyn bly maar altyd sinoniem met my!
Waar is huis nou en wat beteken dit vir jou?
Alhoewel ek in verskeie plekke bly, is Knysna my tuiste. Ek bring sowat 4 maande van die jaar daar deur. Dis waar my siel tot ruste kom en waar die meeste van my vriende is.
Het jy ’n sjefsleuse?
Probeer elke dag iets anders.
Het jy ’n gunstelingkookboek?
My gunstelingkookboek is enige van die Ottolenghi-reeks waar kleur, geur en tekstuur so pragtig bymekaar kom.
Wat is jou terugvaldis as jy vinnig iets moet kook?
’n Pastagereg is altyd ’n goeie dis om op te tower as onverwagte gaste by jou opdaag. Dit is vinnig, smaaklik en die meeste mense hou daarvan. Hou altyd goeie pasta byderhand en maak seker jy het goeie olyfolie en kaas, verkieslik parmesaan.
Beste woorde rondom kos?
Niks bring mense bymekaar soos goeie kos nie!
Wie het jou al jou beste raad gegee?
Die belangrikste bestanddeel is liefde – my ouma.
Na watter sjefs kyk jy op?
Ek kyk op na sjef Thomas Keller van die French Laundry, Per Sé en Bouchon. My eerste 16 gang-maaltyd wat sjef Keller self vir ons voorberei het, baie jare terug by die French Laundry, het my geïnspireer om mense wat aan my tafel sit, ook só te betower.
Waarvan droom jy vir die toekoms?
In hierdie gejaagde wêreld wil ek graag mense inspireer om hul bestanddele tydsaam uit te soek en heerlike maaltye op te tower om saam met hul vriende en familie te geniet.
LEES OOK: Sjefs: Martjie Malan
Alix se resep vir biltong-mielie-en-kaas-kolwyntjies
Bestanddele
150 ml vars of bevrore mieliepitte
100 ml melk
80 ml gesmelte botter
225gr bruismeel
Knypie sout
100 ml poeierbiltong
100 ml gerasperde Cheddarkaas
3 eiers, lig geklits
Metode
Voorverhit die oond tot 200 grade Celsius. Sproei ’n 12-holte-kolwyntjiepan met kossproei of plaas papierhouertjies binne-in elke holte.
Meng 100 ml van die mielies met die melk en botter tot ’n gladde deeg.
Sif die meel en sout in ’n groot mengbak, voeg die biltong, kaas en oorblywende mielies by en meng goed. Klits die eiers en melk by die mieliemengsel en vou in die meelmengsel in. Moenie te veel roer nie.
Vul die kolwyntjiepannetjie driekwart tot bo en bak vir 13-15 minute of tot ’n mes skoon uitkom.