Tayfun Aras se boek, Anatoli, het pas verskyn. Gaan op ’n Turkse kosreis saam met die eienaar van Anatoli Turkse restaurant in Kaapstad
Deur MARYKE ROBERTS
Foto’s verskaf
Leer meer oor die Turkse kostradisie en leer die hart van Turkse kos ken: komplekse, eerlike kos, wat wissel van eenvoudige mezes and smaaklike hoofgeregte tot ongelooflike nageregte en geregte wat jy by die huis kan maak. ‘n Kulturele en visuele fees soos min.
Tayfun, gebore in die Turkse stad Ankara in 1962 as die oudste van drie seuns, is sedert 2000 die eienaar van dié Turkse restaurant. Die restaurant het sy deure in 1984 geopen en Tayfun is die afgelope 18 jaar die eienaar.
Hy het sy sjefstande in sy ma, Ayhan, se kombuis geslyp. Hy het egter eers ’n graad in argeologie voltooi en toe kelims en matte verkoop. Maar die liefde bring hom na Suid-Afrika, waar hy met Louise, ’n Suid-Afrikaner, trou. Hulle het twee dogters, Lara en Berna, en hier kan hy nou sy liefde vir Turkse kos in die restaurantkombuis uitleef.
Het jy ’n gunstelingdis wat jy graag berei as jy tuis onthaal?
Ek maak altyd warm hummus en haloumi met moskonfyt. Hulle is crowd-pleasers.
Wat is jou een swakpunt waarvoor jy alle reëls oorboord gooi?
Ek het ’n swaar hand met brandrissie.
Wat is jou geheim vir stresvrye onthaal?
Hou die glase vol, en maak seker jy het genoeg kole.
Wat is die geheim van goeie, outentieke Turkse kos?
My ma het altyd gesê kos wat tyd het om te rus, smaak altyd lekkerder.
Watter speserye is noodsaaklik vir goeie Turkse kos?
Brandrissie, komyn, sumac, ment.
Na watter sjefs kyk jy op?
Niel Perry is my gunsteling- internasionale sjef, en Refika Birgul is my gunsteling- Turkse sjef.
As jy enigiemand vir aandete kan nooi, wie sal dit wees en hoekom juis hulle?
My Turkse sokkerspan, Fenerbahce. Ek sal hulle wil vermaak, want hulle vermaak my altyd.
Wat sal jy vir hulle voorsit om te eet en te drink?
Tradisionele Suid-Afrikaanse kos, braai en alles.
As jy ’n dis kon wees, watter een sou dit wees?
Lamskenkels.
Hoe dink jy sal jou vriende jou beskryf?
Vrygewig.
Wat is jou kookstyl?
Vryhandig.
LEES OOK: Sjef: Armand Aucamp
Hoe moet die perfekte tafel vir gaste lyk?
Vol kos en wyn.
Wat is jou gunstelingkookboek?
Greg en Lucy Malouf se Turquoise.
Wat is jou mooiste sêding oor kos?
’n Turkse seding: “A hungry bear won’t dance.” Jy kan nie van ’n honger persoon verwag om iets te doen nie.
Wat is die grootste kos-flop wat jy al gehad het?
Ek het een keer ’n vegetariese dis in ’n boerpampoen probeer kook (in my pizza oond…)
Is daar een dis/metode wat jy lank gesukkel het om te bemeester?
My ma se ryspoeding.
Is daar iets wat jy nie berei en ook nie eet nie?
Kool, ek het dit te veel in die weermag geëet. Ek eet nie eers my ma s’n nie.
Wat was die maaltyd wat nog die grootste indruk op jou gemaak het?
’n Vier en ’n half meter lange kebab in Istanbul. En churros in Barcelona.
As jy vinnig iets aanmekaar moet slaan, wat kook jy?
Turkse kofta met eiers in ’n tamatiesous.
Wat gee aan enige dis daardie spesiale ietsie ekstra?
Turkse droë brandrissievlokkies.
Wat is jou gunstelingkruie?
Platblaar pietersielie.
Waar kom jou inspirasie vir nuwe geregte vandaan?
Navorsing in my verskeie kookboeke en Turkse TV-koskanale.
Watter kosreuk laat jou na jou ouma en oupa verlang?
Die reuk van lam in die oond met botterige rys.
Wie maak vir jou die lekkerste kos as jy die slag bederf wil word?
My ouers en my vrou.
Wat is jou gunstelingrestaurant?
Neo Lokal in Istanbul, en Moltenos in Onrus.
Tayfun se resep vir lamskenkels (Incik)
Bestanddele
6 lamskenkels van ongeveer 400 g elk
300 g meel met sout en swart peper, komyn en paprika gegeur
4 uie, fyngekap
6 knoffelhuisies, fyngekap
4 geskilde, gekapte tamaties
Die skil en sap van 3 lemoene
30 ml tamatiepasta
30 ml heel koljandersaadjies
15 ml brandrissievlokkies
15 ml gedroogde oreganum
15 ml gedroogde paprika
1 l warm water
1 kg baba-aartappels
Metode
Voorverhit die oond tot 180 °C. Rol die skenkels in die gegeurde meel en skud oortollige meel af.
Braai die skenkels in ’n pan tot goudbruin. Braai die uie, knoffel, tamaties in ’n swaarboomkastrol oor medium hitte tot gekook. Voeg die lemoenskil en sap, tamatiepasta, koljandersaadjies, brandrissievlokkies, oreganum en paprika en die 1 liter warm water by.
Sit die skenkels in die mengsel en voeg die baba-aartappels by.
Bedek met aliminiumfoelie en bak vir ongeveer 3 ure of tot die vleis sag is. Verwyder die foelie vir die laaste 20 minute om die skenkels en aartappels ’n mooi goudbruin kleur te gee.
Bedien met gegeurde rys.