Sewe vrae aan Greta Pietersen, wat die rol van Michelle Gerber in Suidooster vertolk:
Wie is die liefde in jou lewe?
Wilhelm van der Walt. Ons het ontmoet toe ons aan Die Vrou van Tevore gewerk het. Ons was daarin ’n paartjie en dit was my eerste professionele toneelstuk. Dis vir ons baie lekker om saam te speel. Dan is hy nie meer Willa nie, dan is ons professioneel en respekteer mekaar se talent en werksetiek. Ons is nou ses jaar saam. Hy is ’n baie goeie mens wat my toelaat om my eie ding te doen. Hy is die persoon met wie ek nog die eerlikste verhouding gehad het. Ek het baie ruimte nodig en hy gee dit met oorgawe.
Jy het ’n Fiesta gewen vir beste ondersteunende aktrise in ’n toneelstuk, Son Maan Sterre. Vertel ons daarvan?
Dit was die lekkerste aand in my lewe, want ek het dit glad nie verwag nie. Maar die volgende oggend begin die twyfel. Aanvanklik is so ’n toekenning baie skadelik vir jou, maar gelukkig kom jy later tot jou sinne. Jy besef dat dit ’n geweldige eer is, maar niks verander nie. As daardie tipe goed oor jou pad kom, aanvaar jy dit met grasie, buig en gaan aan. Dis ’n groot voorreg, maar it does not define me.”
Hoe privaat is jy?
Ek vind dit moeilik as mense ’n foon voor my indruk en ’n selfie wil neem as ek inkopies doen, of besig is met my eie dinge. Ek gesels graag met mense, maar sommige mense laat my net verder in my dop kruip! Ek is egter 100% daar as ek openbare verskynings maak. Die publiek verdien jou beste en jou alles – dieselfde geld vir oudisies.
Watter rol was nog die naaste aan jou eie persoonlikheid?
Dalk nie die naaste aan my persoonlikheid nie, maar die naaste aan die werklikheid was my rol as Wena, gegrond op die aktrise, Wena Naude, hoewel daar geen verwysing na haar van in die toneelstuk is nie. Dit was ’n ware meta-ondervinding waarin die selftwyfel so sterk na vore kom. Daardie rol het geverg dat ek die vrae wat in my binneste rondswem, in die oë moes kyk.
Wat is die grootste uitdaging in jou lewe?
Op ’n daaglikse basis moet ek myself herinner om gawer met myself te wees.
Waarin sien ons jou ná Oktober?
Behalwe in die sepie, Suidooster en Kleedkamer Blues op die verhoog, kan lesers my stem in die telenovelle, Gebroke harte hoor.
Waarvan droom jy?
Reis. Ek wil graag die gorillas in Uganda gaan beleef, maar my boetie wat in die Kaaiman-eilande woon, het genooi dat ek kom kuier. So dalk gaan ek soontoe en besoek ook New York. Maar as ek eerlik is met myself, sal ek seker maar weer Januarie vir ’n maand Indië toe gaan. Dit bring my hard terug aarde toe. Jy voel daar terselftertyd só klein én asof die wêreld jou oester is.