Die gewilde duo Coffee Snobs – Vernette en Marius Wessels – gesels
Deur CHRISTIAAN J DE SWARDT
Vernette skilder Marius: “Ek sal sagte pastelkleure gebruik om Marius te skilder en ek sal hom dalk skilder as ‘n landskaptoneel met hoë berge in die agtergrond wat majestueus troon oor ‘n stil see in die voorgrond. Want dit is wat hy vir my is: ‘n bron van krag, vrede, stilte en ‘n plek waar ek net kan wees, kan droom en kan stil word.”
Marius skilder Vernette: “Ek sal helder kleure olieverf gebruik om die kreatiwiteit in Vernette uit te beeld. Dan sal dit uitvloei of borrel en die eindproduk is hierdie asemrowende skildery wat jou na jou asem sal laat snak. Jy staar daarna, want dit praat met jou, dit inspireer jou, dit gee jou hoop!”
Vernette se dinge
Vernette, ‘n nooi Rautenbach, was skooltyd by revues, drama en elke sportsoort betrokke, het aan alles deelgeneem en elke oomblik daarvan geniet. Ek is baie lief vir sport, veral sport met so tikkie adrenalien by. Vandat ek begin surf het, is dit die sport wat ek die meeste beoefen. Ek rolskaats ook weer en voel eintlik weer soos toe ek op 13 my eerste paar rolskaatse gekry het. Dit is ‘n heerlike manier om ‘n goeie workout te kry!”
Sy sê sy was in haar studentejare redelik deurmekaar. “Miskien juis omdat ek nie geweet het hoe om my drome na te streef nie. My studies in bemarking en beroepsagtergrond het my ‘n goeie basis gegee en stel my in staat om my musiekloopbaan goed te bestuur.”
- Ek is nogal “old school”, ek hou van ou musiek, ou flieks, ou wyn en geniet die geselskap van oumense, hulle het soveel wysheid en is so gemaklik met wie hulle is. Ek is glad nie groot op tegnologie nie en sal veel eerder ‘n boek as iets op ‘n iPad lees!
- Grimering is nie baie hoog op my prioriteitslys nie.
- Ek is nogal bly my seuntjie het nou met Lego begin speel, want nou kan ek saam met hom speel – ek is mál oor Lego!
- Ek dink die lewe is te kort vir al die plekke wat ek nog wil gaan sien en besoek.
Marius se dinge
In sy kleuterskooldae het Marius Wessels die rol van Josef in die opvoering Josef en Maria vertolk. “Ek het só geniet, maar het daarna ʼn bietjie in myself gekeer totdat Vernette my weer verhoog toe gelok het! Ek is so spyt ek het nie op skool koor gesing of toneelgespeel nie … Helaas, dis was nie vir ‘n rugby-ou nie! Ek was baie sportief, het op Verre-Noord-proewe gestoei en het ná skool rugbyproewe vir Mpumalanga gespeel; maer lyf en al! Ek is dol op buitelugdinge, veral as daar adrenalien betrokke is. Ek het al bykans alles gedoen: valskerm gespring, geskubaduik, Kilimandjaro geklim, rap-jumping gedoen (aan die buitekant van ’n gebou af), sweefskerm gevlieg, my eie mikroligte vliegtuig gevlieg mét ‘n vlieënierslisensie! Vernette het vir my 39ste verjaardag vir my ‘n longboard-skaatsplank gekoop …!”
- Ek is nogal ongeduldig en kan my soms nog vinnig vererg en dan gebruik ek plaasgeluide (‘n paar vloekwoordjies) om my frustrasie uit te druk …
- Ek hou daarvan om soms ‘n chick-fliek te kyk en dan lê my trane soms vlak.
- By die huis kan ek partymaal ‘n hemp of broek dra tot die gate te groot raak. Dit grief Vernette grensloos …
- Omdat ek krullerige hare het, vryf ek net met my vingers daardeur. Die res gebeur vanself.
- Ek sal altyd by ‘n restaurant nog ‘n keer my mes en vurk met die servet afvee, net om seker te maak dis skoon genoeg!