Nog vrae aan John W. Fredericks, die draaiboekskrywer van die fliek, Noem my Skollie en nou die boek, Skollie – one man’s struggle to survive by telling stories:
1. Hoe het jy besluit om jou storie met die wêreld te deel? Daar is baie persoonlike goed in daardie film en boek, soos jou verkragting as kind, hoe besluit jy om dit in te sluit?
Ek was net so moeg vir die haat en opgekroptheid. Dit moes uit. Ek het besef ek kan net heelword, as ek vergewe en skryf is my manier van ontvlug en vrede maak.
2. Een van die akteurs, David Manuel, wat die rol van die bendelid, Gums, speel is na die film vrygestel is, deur bendelede in Gugulethu aangeval en vrees vir sy lewe vrees en loop met ’n mes rond. Hoe oortuig jy mense om daardie rolle te vertolk?
Baie van die akteurs het vir minder geld gespeel en wou deel wees van die projek omdat hulle verlief geraak het op die storie. Omdat dit regte mense se stories vertel. Baie van die gangsters het ook slegte stories wat hulle gemaak het wie hulle is. Ons hoor net nooit daardie stories nie, want niemand wil dit vertel nie. Gums was self in die tronk en het drama daar studeer. Nou is hy ’n thriving actor.
3. As mense na jou kom vir raad oor hoe om hul lewe buite die bendes op dreef te kry, watter raad gee jy?
Ek kan nie elkeen se hand neem nie. Jy moet self besluit dat jy wil uitkom; dan moet jy met iemand praat wat daargestel is om te help; of dit nou by die tronk of by maatskaplike dienste of jou kerk is. As ek in tronke werk, vra ek dat die kriminele hul sintuie gebruik; dat hulle teruggaan na daardie eerste gebeurtenis wat hul lewenspad onherroeplik verander het. Dan sien hulle hul eie lewens en is gewalg daaroor. Dit begin alles met een insident.
4. Was jy nog nooit bang bendelede val jou aan oor jou prontuit stories oor die lewe daar tussen die bendes nie?
Ons het die film vir drie dae in Pollsmoor vertoon, voor dit nasionaal vrygestel is. Ons wou die waters toets. Die generaal van die 28’s was onder trane. Dit wys hoe dit is in die tronk. Hulle het nie ’n probleem daarmee gehad nie.
5. Hoe moeilik was dit vir jou om terug te gaan Pollsmoor toe vir die verfilming?
Dit was goed, want ek het letterlik van daardie tronk se stene met my eie hande gelê. My sweet, bloed en trane is binne-in daardie fondamente ingebou. Ons was nog destyds in die tronk met die sinkdak, terwyl die huidige tronk gebou is. Ek weet mens kan verander, as jy die wil het. Doen dit net sonder 100 stories en verskonings. Ek het.
6. Hoe het jou lewe verander sedert die film en boek se uitreiking?
Ek wil net aanhou stories skryf; daar is draaiboeke en kortverhale wat oral ronddryf vir goedkeuring, ander net my manier van onthou. En om eerlik te wees, beteken jy moet eerlik in alle opsigte wees.
7. Waarvoor is jy bang?
Ek is bang vir bangwees; bang dat ek ’n oorlas vir ander kan word; afhanklik van iemand sal word as ek ouer word.
8. Jy is deur Pollsmoor sonder om deel te word van die 26’s of 28’s. Hoekom?
Ja, ek het nie nommers nie, maar ek ken hul stories; dis waarom ek sonder nommers daar kon uit. As jy eens deel word van die nommers, is omdraaikans maar min. As die nommers klop, moet jy kom.
9. Wat is die eienskap in jou vrou, Una, wat jy die meeste waardeer?
Sy praat reguit, sy drink of rook nie. Sy is eenvoudig en wat jy sien is wat jy kry.
10. Jy dra die boek aan Una, op. Watter rol het sy in jou lewe gespeel?
Sy het my gered, lank voor ek besef het ek het redding nodig. Sy het die donker paaie en die ligter oomblikke met my gedeel. Sy ondersteun my en is die ma van ons kinders. Sy het my bygestaan, al was die paaie saam soms hel toe en terug, maar sy het vasgebyt.