Amy Kleinhans-Curd is ‘n besige vrou, maar haar gesin bly bo
Wat is die een eienskap in jou man, Leighton, wat jy die meeste bewonder?
Sy reusehart. Hy sal maklik sy laaste hemp aan iemand in nood gee. Hy is vrygewig met liefde, vergifnis, tyd, sin vir humor en deel sy sakesukses met almal wat hy ken.
Hoe ontspan jy en hoe herlaai jy jou batterye?
’n Ontspanne naweek met my gesin. Andersins geniet ek oefening: swem, joga en meditasie. Ek leef in die oomblik en die beste manier om daar te kom, is deur te verf of klavier te speel – iets waarmee ek verlede jaar begin het.
Wat beteken “huis” vir jou?
Huis is nie huis sonder my ses honde, vier kinders, foto’s van almal vir wie ek lief is en ons kosbare herinneringe, my ma se kunswerke, ons versamelgoed van ons reise, goeie musiek, ’n stoep vol orgideë, baie kerse en wierook, goeie kos op die tafel en wyn en vonkelwyn van ons plaas.
Reis jy baie?
Ek en Leighton reis weekliks of tweeweekliks tussen Kaapstad en Johannesburg en ek geniet ons plaas in die Wieg van die Mensdom, sowat 40 minute buite Sandton. Ons gesin reis ook gereeld oorsee en het pas teruggekeer van twee weke op ’n seiljag in Kroasië.
Watter raad het jou ma jou gegee wat jy nog elke dag op een of ander manier toepas?
Om altyd aan my persoonlike groei te werk en dat niks vir God onmoontlik is nie. ’n Gebed wat sy my geleer het in die boek The Power of Now deur Eckhardt Tolle lui as volg:
“Infinite Spirit
Open the way for a divine
Design of my life to manifest.
Let the genius within me
Be released so that
I can make the right
Decision or follow
The correct path for
My life”
Watter boek het jy gelees wat die grootste indruk op jou gemaak het?
The Alchemist deur Paulo Coelho, en my tweede gunstelingboek is The Game of Life and How to Play It deur Florence Scovell Shinn. Tans lees ek In Tune with the Infinite deur Ralph Waldo Trine.
Wat is trooskos vir jou?
Osso Buco. Ek is mal oor bredies met geroosterde groente en ’n romerige mascarponekapokaartappel.
Wat is jou skuldige plesiertjie?
Tyd alleen met my man. Ons het min kans om alleen weg te glip vir ’n nag of twee en dis dan altyd lekker om herinner te word hoeveel pret ons as beste vriende kan hê.
Sou jy iets anders met jou lewe wou doen as jy nou weer kon kies?
Ek sou niks anders wou doen as wat ek nou doen nie, maar ek sou meer wou uitbrei op die harde werk van my Dial-A-Teacher-projek, meer tyd by die Kusasa-projek deurbring, meer tyd op ons plaas buite Swellendam, meer betrokke in my tuin meer oefen, meer verf en op lang padreise met my gesin gaan.