Wilhelm Verwoerd -skrywer van die boek, Bloedbande: ’n Donker Tuiskoms, oor sy stryd as mens en as kleinseun van Hendrik Verwoerd, die argitek van Apartheid
Hoe voel jy oor die vordering wat daar die afgelope jare in Suid-Afrika gemaak is? Is Suid-Afrika op ’n beter plek as toe ons in die Waarheids- en Versoeningsbanke gesit het?
Ek het tydens die Waarheids- en Versoeningproses reeds besef dat meeste mense onrealistiese verwagtinge het, van hoe lank dit sal neem om dekades – en selfs eeue – van verwonding en verdeling te genees. In baie opsigte voel dit inderdaad of ons op ’n afdraande pad is. Ek glo en ervaar egter dat meeste Suid-Afrikaners ‘betereinders’ is, wat juis in hierdie ontmoedigende tye nie sal tou opgooi nie. ’n Kernboodskap van Bloedbande is juis dat politieke verandering of oppervlakkige ‘versoening’ nie genoeg is nie. Ons oorgangsproses is ’n bulterige Comrades-ultramarathon.
Vertel ons van jou ervaring van skuld en boetedoening?
My ervaring van skuld en skaamte het voortgespruit uit my blootstelling aan mense se pynlike ervarings aan die ontvangkant van Apartheid. Aanvanklik was daar dikwels woede wanneer mense my ontmoet, veral gegewe pynlike assosiasies met my Verwoerd-van. My ervaring is egter dat my bereidheid om te bly luister na mense se lewenservaringe en opregte medelye te betoon, juis help om vyandigheid te omvorm tot verbasende medemenslikheid en ’n bevrydende uitnodiging om saam te werk. Dit is hoekom ek in die titel van die boek spesifiek verwys na my ervaring van ‘donker tuiskoms’. Ja, dit voel soms ‘donker’ om hierdie pad van selfaanvaarding en gedeelde verantwoordelikheid te stap, maar ten diepste is my ervaring dat hierdie die deurweg is tot dieper menswording.
Hoe hanteer jy kritiek en vyandigheid?
My eerste reaksie bly steeds om myself te probeer verdedig of om weg te wil hardloop. Baie jare van versoeningswerk en fasilitering van moeilike gesprekke, het my gelukkig geleer om nie aan hierdie eerste, amper instinktiewe reaksie toe te gee nie. Die goue reël wat ek min of meer geleer het is om my nuuskierigheid – te midde van die emosionele ongemak – te behou. Dis merkwaardig watter verskil dit maak om eerlik, luisterend te probeer uitvind wat die volle menslike storie agter die kritiek en vyandigheid is.
Wat is die belangrikste ding wat jy jou kinders wou leer?
Die verhouding met my kinders (en, hopelik, kleinkinders) is eintlik ’n volgende boek! Die klem in Bloedbande was op my verhouding met my voorgeslagte, veral my oupa en my pa. Baie van my huidige werk as fasiliteerder is juis met my kinders se generasie. Ek besef al hoe meer hoeveel inter-generasie-versoening nodig is met jong mense, wat kwaad is oor die gevolge van vorige generasies se dade, waarmee hulle nou opgesaal sit. Ek hoop dat my kinders en hul generasiegenote wel sal besef dat mens nie jou ‘voorvaders’ kan verwerp nie, al verskil ons ernstig van mekaar. Dit is moontlik om lief te wees vir jou pa (en oupa en oupagrootjie) en om jou lewe te verbind tot ’n ander politieke visie. Bloedbande is opgedra aan ‘my familie’. Ek bedoel my ‘bloedfamilie’, insluitend my kinders en my voorouers, maar ook my groter familie van ‘broers en susters’ in Christus en bloot as medemense. My hoop is dat my kinders ook sal leer om regtig deel te word van hierdie groter familie, sonder om lidmaatskap van die Verwoerds op te hef.
Maryke is ’n ervare joernalis, wat haar liefde vir reis, mense, boeke, teater en lekker kos en wyn, op hierdie manier kan uitleef. Sy was al op elke uithoek van die aardbol – bo die wolke; in ’n lugballon; onder die water in ’n duikboot en onder die grond in tonnels – en gaan nêrens sonder haar reisgenoot, eggenoot en mede-joernalis, Clifford nie. Sy glo die lewe is te kort vir slegte koffie.