Ons het ’n paar vrae aan Mari-Louis Guy & Nic van Wyk van Koekedoortjie op kykNET gevra
Kook julle graag vir jul gesinne?
Mari-Louis: Ek het altyd gekook vir stilering en ’n lekker groot middagete vir kliënte in ons studio. My ma het meestal vir my kinders gekook – nou is daardie vreesaanjaende taak myne – hulle het ’n skoolkafeteria by die skool en wraggies, tot my irritasie, verkies hulle meestal die kos daar.
Ek het my sokkies opgetrek en ons probeer nou nuwe disse by die huis – hulle kry die pastas, bredies, en so meer by die skool, so tuis is ons meer waaghalsig. Ons probeer nou een maal per week ’n Balkanse resep – Prigonica (aartappeldeegbolle), Montenegren Pizza (met eier en maaskaas) en Ajvar Lutji (’n tamatiesmeer) is nou algemeen. Ons eet Bundeva-konfyt op ons broodjies (botterskorsie-konfyt).
My man het topsjefs op sy boot, so dit is moeilik om hom te beïndruk. Ons maak saam beskuit en marmelades en ek het sy ma se handgeskrewe kookboek gekry toe sy ouetehuis toe getrek het – ek maak gereeld vir hom iets daaruit. Vir Wiskunde Pi-dag by die skool het Max my melkterte laat bak en hy was baie trots toe ons die Pi-wenners was. Die skool hier is salig onbewus van my Koekedoortjie- wêreld.
Nic: My anderhelfte, Roxy, was al die skottelgoed terwyl ek kook en ek dink ons albei geniet dit so. Hoewel Hilary Roxy se spaghetti bolognese bo myne verkies …
Mari-Louis, wat is jou vroegste herinneringe aan bak in jou eie lewe?
Gebak met my ma en ouma kom van kleins af, maar hier vanaf 14 af het ek my eie koeke begin bak – my ma het ligatennis gespeel, het die mooiste goudbruin bene gehad, het in orkes klavier gespeel en het rekords gebreek op die atletiekveld.
Ek was een van twee wat nie in die skooloperette mag deelgeneem het nie, weens toondoofheid. Ek het vir die vierde span netbal gespeel – in ’n skool met minder as 300 kinders (amper onmoontlik, soos ’n talent in die trurat), my bene het nog altyd geskuur en ek kon nie tennis speel nie en ewe skielik was ek nie net goed met iets nie, ek was baie goed. My eerste gevoel van sukses. Daarna het bakplate vol eclairs gevolg – van my ou skoolvriende praat nou nog oor hul eerste ontmoetings met Franse eclairs.
Was jou broer, Callie, al in Kokkedoor of Koekedoor?
Mari-Louis: Callie was al in Kokkedoor en Koekedoor en het ook die uitdagings by albei Koekedore getoets – om te kyk of ons tyd vir elke uitdaging genoeg was. Ek sal altyd spyt wees dat ons nie ons program gekry het nie – hy is my kos-hero en al is ek weg vir ’n tydperk, doen ons kosstudio beter as ooit. Callie is op die kortlys om ’n paar advertensies in Duitsland te skiet. Nader aan my – ek voel soms of ek ’n ledemaat mis. Die skeiding was vir ons albei ’n nagmerrie. Ek ken die ou mos darem al van sy geboorte af. Die “tweeling” is geskei en dit is by tye angswekkend vir ons albei. Ons is ook betrokke by drie boeke wat vir altesaam vier Gourmand- toekennings benoem is.
Wat is jul een geheime bestanddeel om enige dis of enige fyngebak daardie spesiale aanslag te gee?
Mari-Louis: Rissies – enige dis kan doen met so ’n bietjie hitte. My een kind eet glad nie sout nie – dit het my ’n paar maande geneem, maar my smaak het aangepas en ek voeg nou net aan die tafel Maldon- seesout by. Hier by ons het elke familie hulle eie olyfolie. Hoewel ek altyd daarvan gehou het, is ek nou verbaas hoe my kinders botter amper heeltemal gegroet het en so ‘n poeletjie olyfolie by amper alles eet. Vir fyngebak – ek vervang ’n gedeelte van die meel met ’n bietjie mielieblom of rysmeel vir ’n ligter krummel.
Nic: As dit by bak kom, moet dit sekerlik geduld wees … Bak het ’n fyn hand en baie geduld nodig. By kosmaak is dit vir seker sout. As meer mense die ongelooflike waarde van sout reg gebruik en kan verstaan, sal ons almal beter eet.
Watter kookboeke het jou beïnvloed:
Mari-Louis: White Heat van Marco Pierre White. Sy poster was teen my universiteitsmuur en hy is tot vandag toe een van my groot gunstelinge. Vir die eerste keer is ‘n sjef soos ‘n rockster gesien – persoonlike opinies, leefstyl, sterk foto’s – dit het my droom van ’n boek wakker gemaak. Ná jare se werk in Frankryk is ons Amerika toe en ek het daar my eerste volwaardige sjefspos op ‘n boot gekry. Ek het Bobbly Flay (hy was groot) en Ina Garner se boeke slaafs gevolg. Natuurlik as kind was Wenresepte (nie Kook en Geniet nie) my kompas – en ek kan sonder om my vingers te kruis sê ek het al die meeste van die resepte in daardie boeke gemaak. ’n Groot eer was toe Carmen Niehaus my so ’n paar jaar gelede gevra het om saam met haar ’n “beste van …”-boek te doen.
Nic: Nico van Nico Ladenis was my eerste kookboek wat ek self gekoop het … Dit sal seker een van my gunstelinge bly, maar die boeke wat ek die meeste lees en geniet is Nigel Slater se Kitchen Diaries en sy Tender-boeke. Hy gee my altyd nuwe inspirasie, want ek dink hy lewe vir kos. Ek dink ek het daai boeke al honderde kere gelees en elke keer sien ek iets nuuts wat my aandag trek en my opnuut lus maak om te eet en te kook.
Nic, wat is die duurste les wat jy al in die kombuis moes leer?
Daar is baie, maar ek dink die belangrikste is dat jy nie kan terugstaan van enige aspek van jou restaurant nie. Jy moet met alles betrokke wees en seker maak jy weet wat aangaan. Ek dink in die begin is dit belangrik dat jy net moet kosmaak, maar hoe ouer jy word en meer ’n sakeman word, is dit belangrik dat jy die hele besigheid verstaan.