Christiaan J de Swardt gesels verder met die duo Wolwe-Dans oor musikale drieë, stout streke en fiksheid
Danré skep flink
Danré (Pieter) van der Spuy het in Amanzimtoti naby Durban in KwaZulu-Natal grootgeword en was sy hele skoolloopbaan aan die Kuswagskool.
Hy was baie lief vir sport en het rugby (skrumskakel), krieket (was kaptein ook), binnemuurse hokkie en pluimbal vir die eerstespanne gespeel. Hy was ‘n lid van die skoolorkes, die skoolkoor en het in verskeie blyspele opgetree en klank en beligting by skoolgeleenthede behartig. In sy matriekjaar het hy vir die 0/19 Bokkieweekrugby gespeel. Hy het ook tyd gemaak vir kitaar-, klavier- en sangles. Hy was onderhoofseun en is met die Voortrekkertrofee vir sy volgehoue bydrae op kultuurvlak bekroon. Dié veelsydigheid het hom in matriek die trofee besorg vir die veelsydigste seunsleerder. Hy het matriek met drie onderskeidings geslaag. In sy studentejare aan PUK het hy vir die koshuis se eerste-rugbyspan en vir die 0/20 PUK-oefengroep gespeel tot ʼn besering sy rugbyloopbaan kortgeknip het. Hy het ook onder meer op die kultuurkomitee gedien. Tussendeur het hy sang-onderrig by Malie Kelly se sangakademie en afrigting in toneelspel by Brumilda van Rensburg se rolprent-akademie gekry.
Danré is ʼn groot rugbyliefhebber en speel nog nog af en toe klubrugby. Hy is ook lief vir die see, visvang, gholf, duik, surf en gym – én hy geniet ‘n braai saam met goeie vriende. Hy geniet goeie musiek en, as dinge rof raak, is ‘n goeie middagslapie uitkoms.
Landru korrel fyn
Landru (DirkLeo-Nardus) Ehlers het op Heidelberg, Gauteng grootgeword en aan die Hoër Volkskool Heidelberg gematrikuleer.
Hy was ‘n prefek, het in skoolkonserte gespeel, in atletiek (gewigstoot), tennis (provinsiale vlak bereik) en rugby (stut) uitgeblink en daarvoor sportkleure verwerf. Hy het ook akademies presteer. Aan PUK het hy eerstejaar-tennis gespeel en vir sy koshuis op die rugbyveld uitgedraf. Hy het die orkes vir die eerstejaarskonsert afgerig en op die joolkomitee gedien. Hy is ook ‘n lid van die Suid Afrikaanse Jagters- en Wildbewaringvereniging en het hom as jagter en in skyfskiet bekwaam.
Hy is ‘n buitelewe- en natuurmens en stel baie in die boerdery op my oom se plaas belang. Hy sê hy is ook ‘n goeie kok en maak graag kos. ‘n Lekker braai en kuier saam met vriende is altyd lekker, maar dan moet hy agterna die gym tref!
Naas musiek en kuier saam met vriende, tel die buitelewe, hengel, motorfietsry, skyfskiet en gholf tussen sy genietinge. “Musiek laat ‘n mens ontspan. Dit neem jou op ‘n emosionele reis en laat jou weer méns voel. Elkeen het die reg om góéd te voel!”