Het jy geweet dat Martin Bester glad nie van tamatieskille, lang rye of slegte koffie hou nie? En dat hy graag nog die Karribiese Eilande en die Ooste wil verken? Martin antwoord 10 vrae vir ons
Martin Bester is die aanbieder van die gewilde Martin Bester Drive op Jacaranda FM, wenner van die 2016 Huisgenoot Tempo Toekennings se “Radio-aanbieder van die jaar”, sowel as die wenner van die 2016 Best of Pretoria: “Best drive time presenter”-toekenning. Hy antwoord 10 vrae vir ons
Waar is jy gebore & getoë?
Ek is gebore in Bethal, Mpumalanga en getoë in Port Elizabeth, Oos-Kaap.
Waar woon jy op die oomblik?
Ek woon die afgelope 15 jaar in Johannesburg.
Hoe het jou loopbaan in radio begin?
Ek het BA Sielkunde geswot by UPE (nou NMMU) en het by die kampusradiostasie aangesluit in my eerste jaar.
Wat hou jy die meeste van jou werk?
Radio, TV en musiek is almal so reg in my kraal. Ek hou van optree, ek is mal oor musiek. Wat ‘n voorreg om ‘n loopbaan te maak van jou passie!
Hoe stem jou eie musieksmaak ooreen met dit wat op jou speellys is?
Haha dis altyd ‘n moeilike vraag! Natuurlik stem dit nie altyd ooreen nie (en luisteraars kan soms dankbaar wees daarvoor!), maar dis baie belangrik om te onthou dat die musiek op die program nie daar vir my plesier is nie, maar dié van die luisteraar – “More music YOU love”.
Wat is jou ander passies / stokperdjies?
Ek is gelukkig genoeg om weekliks my passies uit te leef as sangkunstenaar (Afrikaans en Engels) en aanbieder (Radio en TV). Ek sal in die toekoms ook graag meer toneel wil speel. Ek is ook baie lief vir diere en wens soms ek kon op ‘n kleinhoewe bly sodat ek meer diere om my kon hê. Sover het ek hoenders en katte by my huis.
Noem 5 dinge wat jou afsit en 5 dinge wat jy baie van hou – enige iets van modes tot mense se geite
Ek hou baie van musiek, ‘n mooi uitsig, die bos, die see, ‘n lekker kuier met goeie mense. Ek hou nie van afgunstige mense nie, van eng, ongeligte mense wat hardop dink nie, tamatieskille, lang rye of slegte koffie nie.
Wat is die 3 items op jou “bucket list” wat jy graag volgende sal wil doen?
Daar is beslis ‘n paar legendariese groepe wat ek baie graag live wil sien soos Pearl Jam, Guns n Roses, Fleetwood Mac, Led Zeppelin (selfs net Robert Plant), Pink Floyd (selfs dan net David Gilmour of Roger Waters) ens. Ek wil ook graag nog die Karribiese Eilande en die Ooste verken.
Wie is vir jou voorbeelde van vroue van formaat en hoekom?
Ek het onlangs die voorreg gehad om ‘n onderhoud met Alison Botha te voer. As jy dink waardeur sy is en hoe positief sy is, gee dit jou goeie perspektief oor hoe min jy het om oor te kla! Natuurlik ook my eie ma!
Jy’t ‘n goeie perspektief van nuus en aktuele gebeure. Dis ‘n redelike onstuimige tyd in ons land. Hoe hou ons koers na ‘n beter SA?
Deur nie te val vir die sensasie en haat wat sekere mense versprei om mense teen mekaar op te sweep nie. Ons weet beter en ons is sterker as dit. Ek dink daar is genoeg mense wat wil hê ons land moet wérk, ons word net dikwels oordonder deur luidkeelse dwase wat al die aandag trek.
2 gelukkige lesers kan elk Martin se nuwe album wen. Om in te skryf, vul die onderstaande vorm in
[ninja_form id=23]