Tien vrae aan Mari Molefe van Heerden, wat die rol van Martie in die nuwe PHIL 101 op kykNET speel:
Wat is jou geheime talent?
Ek kan my elmboog lek.
Wat is trooskos vir jou?
My skoonsus se aartappelgereg en my broer se bobaas-braaivleis, maar om spesifiek te wees, sy skaaptjops.
Hoe oorkom jy struikelblokke in die lewe?
Deur met my vriende en familie daaroor te praat, raad te vra en dan daaroor te bid.
Hoe ontspan jy?
Die tye wat ek niks hoef te doen nie, geniet ek dit om klavier te speel (ek leer myself nog), blokkiesraaisels in te vul, lekker met ’n koel drankie in die son te wees.
As jy nie aktrise geword het nie, watter ander beroep sou jy kon volg?
Ek het ’n beurs gehad om LLB te gaan studeer, maar het toe eerder drama gaan studeer. Ek is mal oor wiskunde en raaisels en om dinge uit te werk, só wat noem ‘n mens daardie werk, want ek sal dit definitief wou doen?
Het jy iemand spesiaals in jou lewe?
Ongelukkig het ek nog nie my man ontmoet nie … maar daar is geen haas nie.
Na watter akteurs kyk jy op?
Hardwerkende akteurs. En akteurs wat altyd nederig bly, maak nie saak hoe suksesvol hulle is nie.
By wie het jy al die beste raad gekry en wat was dit?
Ek dink dit was my pa wat gesê het, “moet nooit sê jy kan nie iets doen nie. Sê ja, en dan gaan leer jy hoe dit gedoen word”.
Wat sal jou beste vriendin sê is die eienskappe wat jou onderskei?
Sy sal sê ek is opreg, ’n mens-mens wat ’n opwinding vir die lewe uitstraal.
Het jy troeteldiere?
Ek hou van diere, en wil graag eendag ’n labrador hê, maar op die oomblik hou ek van my stilte, my slaap, en die afwesigheid van hondehare …