Jy het al liedjies vir soveel bekende sangers soos Laurika Rauch, Theuns Jordaan, Amanda Strydom, Coenie de Villiers en Elzabé Zietsman geskryf. Hoe voel jy as hulle sukses daarmee behaal?
Ek voel net ongelooflik trots.
Watter van jou liedjies som jou die beste op?
Dit hang af waar ek in my lewe is. Waar ek nou is, sou ek sê: Ewewig en stilte. En dalk ook Sonneblom.
Wat doen jy hierdie Kersfees?
Ek dink nie meer so lank vooruit nie.
Waar is huis?
Melkbosstrand waar ek al vir 14 jaar woon. Ek is nie ’n stadsmens nie en baie lief vir die see. Ek stap baie gereeld en baie graag op die strand.
Na wie gaan jy vir raad?
Ek het ’n wonderlike terapeut na wie ek gaan as ek vashaak. Sy gee nie die antwoorde nie, sy help my net uit die wegspringblokke en motiveer my vir selfondersoek. Ek het ook wonderlike vriende en ’n ongelooflike familie.
Het jy ’n lewensleuse?
Nie regtig nie, ek glo dinge gebeur soos dit gebeur en ek doen elke dag my bes met vandag se uitdagings. Ek raak al hoe beter om teenwoordig te wees in die oomblik.
Wat lê op jou bedkassie?
The Book of Joy, wat ek tans lees.
Wie is jou helde?
My ma, Elza. Sy is regtig Liewe Jesus se eie niggie. En ook my pa, Jan, ’n wonderlike man.
Is daar iemand in jou lewe by wie jy vrede vind?
Innerlike vrede en vreugde gaan jou bly ontwyk as jy dit buite jouself, by ander mense en dinge, soek. Ware vrede en vreugde is te vinde in die kern van jou wese. Wanneer ek dit nie voel nie, weet ek, ek moet binne myself soek. Ek het baie min, maar ongelooflike, mense om my by wie ek veilig kan sit.
Het jy ’n hoogtepunt vir vanjaar wat jy kan uitsonder?
Die opname van Hans du Plessis se Boegoe van die Liefde. Dit was ’n mooi ervaring. Ook elke keer wat ek getuie kon wees van iemand wat ophou wegskram van seer en moeilik sodat hulle ‘n tree in die rigting van heling kan gee.