Ashleigh Levin is ’n tuiskok en sê haar enigste “opleiding” is talle lang, lui Sondagmiddagetes en partytjies vir vriende
Deur MARYKE ROBERTS
Foto’s verskaf
Kyk jy egter na haar eerste kookboek wat pas by Penguin RandomHouse verskyn het, Home Cooked & Heartwarming, kan jy skaars glo sy het nie die by die land se beste sjefskole studeer nie.
Sy woon in Melrose, Johannesburg met haar man, Grant, twee kinders, Sophie en Spencer en hul hond, George.
Die aantrekkingskrag van haar kookboek lê veel dieper as net haar gemaklike geselstrant en heerlike resepte: sy laat selfs die sawwe tuiskokke onder ons met nuwe oë na resepte kyk wat jy al met toe oë kon maak.
Haar oulike benamings vir disse laat jou mond water, nog lank voor jy behoorlik na die bestanddele geloer het.
Waar het jy grootgeword en waar kom jou belangstelling in kosmaak vandaan?
Ek het in Johannesburg grootgeword. Ek het gereeld saam met my ma kos gemaak, en ons familie is lief vir kook en om gaste te onthaal.
Hoe het die kookboek gebeur?
Ek moet erken dat dit bietjie van ’n meevaller was. Tydens my kraamverlof met my tweede kind het ek al die los resepte georganiseer om in ’n leêr te bêre en teen die einde het dit nes ’n resepteboek gelyk! My man het voorgestel dat ek dit moet laat publiseer.
Meeste van die resepte is familieresepte en die oorspronklike Crunchie-resep is al honderde male gemaak. Ongelukkig moes ons ´n bietjie afskaal en kon nie almal gebruik nie. Ek is bevoorreg dat beide kante van my familie regtig goeie kokke is, wat my daagliks inspireer.
Het jy ’n gunstelingdis wat jy graag berei as jy tuis onthaal?
My kinders is mal oor die “Sticky Chicken” en die kortrib-bredie is my man se gunsteling.
Het jy enigiets (al is dit nie-kosverwant) studeer?
Ek het Rekeningkunde studeer en alhoewel ek nie my graad voltooi het nie, werk ek al die laaste 14 jaar vir Investec Bank. Glad nie ’n kosverwante rigting nie!
Wat is jou een swakpunt waarvoor jy alle reëls oorboord gooi?
Wanneer ons gaan fliek, is ek mal daaroor om my Smarties en springmielies te meng.
Wat is jou geheim vir stresvrye onthaal?
Berei alles vroegtydig voor en maak gebruik van ’n resep wat ten minste vir ’n uur kan prut. Lam of kortrib, iets wat nie konstant hoef dopgehou te word nie en waar dit ook nie saak maak indien dit ’n bietjie later eers opgedis gaan word nie. Vleise wat stadig kook en bevrore nageregte is my geheim.
Indien jy ’n voorgereg wil bedien, dink aan ’n platbord met koue eetgoed of sop wat vinnig opgewarm kan word wanneer die gaste gereed is daarvoor.
Na watter sjefs kyk jy op?
Ek beskou myself as ’n huiskok/tuiskok en ek kyk op na enige person wat formele opleiding gehad het en hul eie restaurant kon open. Van my Suid-Afrikaanse gunstelingbekendes is Sarah Graham, Jan en David Higgs. In ’n groter konteks is ek natuurlik mal oor Nigella en Ina Garten.
Jy kan enigiemand nooi vir ete. Wie kies jy?
Stephen Fry en Alan Davies van die Britse televisiereeks, QI is vir my histeries snaaks, so heel moontlik sal hulle op die lys wees. Om eerlik te wees, verkies ek klein en intieme etes saam met my familie bo enigiets. Die beste gedeelte van ons aandetes is om na my kindertjies te luister wanneer hulle oor hul dag gesels.
LEES OOK: Sjef Linda Mnculwane
Wat sal jy bedien?
Ons is baie lief daarvoor om wyn te bedien wanneer ons onthaal, maar hou dit altyd eenvoudig en die voorbereiding word vroegtydig gedoen sodat ons soveel tyd as moontlik rondom die tafel saam met die gaste kan spandeer.
Hoe sal jou vriende jou onthaalstyl beskryf?
Hulle sal heel moontlik sê dat ek vol energie is en dat ek altyd beskikbaar is om pret te hê!
Wat is jou kookstyl?
Ontspanne en maklik, nie vol fiemies of grille nie.
Wat is jou mooiste kinderherinneringe aan kos?
Wanneer dit gereën het, het ons altyd pannekoek vir middagete gekry en ek kan nou nog die kaneel proe wanneer ek daaraan dink. Vandag maak ek ook vir my kinders pannekoek wanneer dit reënweer is.
Hoe moet die perfekte tafel vir gaste lyk?
’n Tafel moet definitief tekstuur hê en daarom is ek lief om rottangplekmatjies te gebruik. Blomme moet laag genoeg wees sodat mens die person oorkant jou kan sien. Laastens is my pragtige blou porseleinborde my gunsteling. Ek is mal oor rottang/gevlegte gras/gevlegte bamboes.
Wat is jou gunstelingkookboek?
Dit verander van dag tot dag. Saans lees ek resepteboeke voor ek gaan slaap en ek is tans besig met Donna Hay se Back to Brilliance. My gunsteling van alle tye is egter my Ouma se handgeskrewe een.
Wat is jou mooiste sêding oor kos?
Alles is beter met botter.
Wat is die grootste kos-flop wat jy al gehad het?
Te veel om te tel! Ek het al disse gebrand, te rou bedien of alles laat val. Hou in gedagte dat die enigste rede hoekom mense na jou huis toe kom, is om vir jou te sien, so moenie te veel bekommer nie – mens kan altyd ’n wegneemete of pizza bestel as niks uitwerk nie. Of jy maak net nog ’n bottel wyn oop.
Is daar een dis of metode wat jy lank gesukkel het om te bemeester?
Tot my skaamte moet ek erken dat ek dit haat om rys te kook. Dit is net nooit so goed soos my ma se rys nie.
Is daar iets wat jy nie berei nie?
Ek is nie bang om kanse te vat en te eksperimenteer met bestanddele nie en het selfs onlangs beeswange gekook. Maar kos met fieterjasies is nie my sterk punt nie so my gaste sal nie sommer handgemaakte soesji aan my tafel bedien word nie.
Waarvoor trek jy jou neus op as dit by eet kom?
Ek is glad nie mal oor ingelegde vis nie.
Wat was die maaltyd wat nog die grootste indruk op jou gemaak het?
Elke jaar met my verjaarsdag het my ma met pynlike presisie my verjaarsdagkoek gemaak. Die ingewikkelde en uitgebreide lae van die koek het altyd haar senuwees gedaan gehad, maar elke jaar het sy dit weer gedoen omdat sy my so lief gehad het en dit vir my wou doen. Daardie liefde en moeite kon jy in elke happie proe.
Waarsonder kan jy nie kook nie?
Botter, ek kook daagliks daarmee.
Wat gee aan enige dis daardie spesiale ietsie ekstra?
Wyn. ’n Goeie glas rooiwyn.
Wat is jou gunstelingkruie?
Ek het ‘n pragtige kruietuin by my huis en hou van alle kruie, maar ek dink ek gebruik tiemie in die meerderheid van my disse, en peperment in my water op ‘n daaglikse basis. Dragon word die meeste in Suid-Afrikaanse kombuise afgeskeep. Dis heerlik saam met hoender en vis, maar ons sien die baie selde.
Wat was sover jou beste kosbestemming?
Alhoewel ek al wyd en ver gereis het, kom ek altyd terug na my gunstelingrestaurant en -maaltyd. Ons is baie bevoorreg in die sin dat ons ‘n diverse en opwindende koskultuur hier reg op ons voorstoep het.
New York is beslis bo-aan my lys.
Wat bestel jy as jy uiteet?
Daar is min dinge wat naby Bellini’s se Fillet Suzette kom.
Ashleigh se geroosterde uie-en-knoffeltert
Die tert gebruik fillodeeg en is vinnig en maklik om te berei. Dis ideaal met ’n slaai, yskoue bier of ‘n glas wyn.
Bestanddele
6 rooi uie, gekap
Olyfolie vir braai
5 knoffelhuisies
2 takkies vars tiemie
2 eetlepels balsemiekasyn
1 eetlepel heuning
5 eiers
1 koppie dubbeldik room
Sout en varsgemaalde swartpeper
1 koppie créme fraiche
5 velle fillodeeg
3 teelepels gesmelte botter
100 gram bokmelkkaas, gekrummel
Metode
Voorverhit die oond tot 170 grade Celsius. Braai die uie tot goudbruin in ’n kleefwerende pan en voeg die tiemie en knoffel by. Kook vir ’n paar minute. Roer die balsemiekasyn en heuning by en kook tot die mengsel verdik het. Laat afkoel.
Meng die eiers, room, sout, peper en créme fraiche in ’n mengbak. Smeer elke filodeegvel met gesmelte botter en pak dit in lae in ’n vlak oondvaste bak. Gooi die eiermengsel oor die filodeegvelle en strooi dan die uie en knoffel oor.
Krummel die bokmelkkaas oor die tert en bak vir 45 minute tot dit gestol het. Laat effe afkoel voor bediening.