Die meeste van ons het immers nie ’n volmaakte verhouding met ons ma’s nie – hoe graag ons ook al in so ’n onmoontlikheid wil glo as die ma nie meer daar is nie en ons haar so deur ’n waas van kinderlike verlange onthou
Deur MARITA VAN DER VYVER
In Frankryk word Moedersdag ook in Mei gevier, maar nie op dieselfde dag as in Suid-Afrika of Amerika of eintlik enige ander land nie. Moenie vra waarom nie. Ek woon al lank genoeg tussen die Franse om te dink dis net omdat hulle daarvan hou om anders te wees.
Hoe ook al, Meimaand bly vir my die maand van ma’s. En omdat alles wat ek voel altyd weerklank vind in alles wat ek lees, dwaal my gedagtes vandeesmaand weer onwillekeurig na gedigte en stories en boeke oor ma’s. Ek onthou Antjie Krog se bekende ode wat ek as skaam hoërskoolmeisie by ’n kunswedstryd moes voordra: “Ma, ek skryf vir jou ’n gedig sonder fênsie leestekens …” Dit het my so ontroer dat ek skoon vergeet het om skaam te wees. Ek het die woorde met soveel gevoel opgesê – terwyl ek natuurlik aan my eie ma gedink het – dat ek dit sowaar reggekry het om die beoordelaars te beïndruk.
Dekades later ontdek ek Ronelda S Kamfer se Hammie, ’n allerlieflike digbundel wat aan haar oorlede ma opgedra is, met van die mooiste woorde wat ek nog in Afrikaans oor ’n ma gelees het. Teen dié tyd is ek self lankal ’n ma, my eie ma lankal dood, my omstandighede heeltemal anders as toe ek as tiener daardie “kaalvoet-gedig” van Antjie Krog voorgedra het. Maar ’n ma is mos maar altyd ’n ander ma se kind – en as ek na my ma verlang, verlang ek met ’n kinderlike intensiteit wat niks met my ouderdom te doen het nie. Die gedigte in Hammie is egter “geen soete Moedersdag-odes nie”, soos die resensent Vincent Oliphant dit so raak beskryf: “Nee, dis liewer die ontbloting van die diep maar onvolmaakte liefde tussen gewonde mense.” Dis juis waarom dit soveel treffender as ’n soetsappige versie op ’n Moedersdagkaartjie is.
Die meeste van ons het immers nie ’n volmaakte verhouding met ons ma’s nie – hoe graag ons ook al in so ’n onmoontlikheid wil glo as die ma nie meer daar is nie en ons haar so deur ’n waas van kinderlike verlange onthou. Dis waarom die ma’s in die beste boeke ook nie volmaakte ma’s is nie. In my hoërskooljare was Bartho Smit se Moeder Hanna ’n voorgeskrewe drama. Hierdie onverbiddelike Boerema wat drie seuns in die oorlog teen die Engelse verloor het – en verkies om haar oorblywende seun ook te sien sterf eerder as dat hy oorgee – was vir my ’n onverstaanbare karakter. Ek het gedog dis net die nare stiefma’s in die sprokies van my kleintyd wat so onsimpatiek kon optree.
Moeder Hanna was die eerste bloedma – al was sy net ’n fiktiewe ma – wat my laat besef het dat moederskap veel ingewikkelder is as wat ek ooit gedog het. Ons moderne fiksie wemel van onvolmaakte ma’s. Ek het pas die Britse skrywer Zadie Smith se Swing Time gelees, ’n roman opgedra aan haar ma, Yvonne (toevallig ook my ma se naam), waarin die naamlose hoofkarakter ’n besonder ingewikkelde verhouding met ’n sterk, ambisieuse ma het. In teenstelling hiermee het haar jeugvriendin, Tracey, ’n veel hegter verhouding met haar vulgêre, vloekende, dommerige ma as wat die hoofkarakter ooit met haar mooi, slim ma sal hê.
Die aangrypendste verhaal wat ek nog oor moederskap gelees het, is die Nobelpryswenner Toni Morrison se Beloved. Dis ’n verskriklike boek – in die oorspronklike sin van verskriklik as iets wat jou kan verskrik – oor ’n slavin wat haar dogtertjie doodmaak eerder as om haar ook as slaaf te sien grootword. Sy doen dit omdat sy haar kind wil beskerm, omdat sy glo dat die dood beter is as die wreedheid van lewenslange slawerny, maar dis nie ’n daad wat ’n liefdevolle ma kan pleeg sonder om waansinnig te word nie. Haar dooie dogter kom spook by haar, op ’n manier wat selfs lesers soos ek wat hoegenaamd nie in spoke “glo” nie, kan meevoer en oorrompel. Vandag weet ek dat ma’s vol foute kan wees, en dat ons hulle nie ondanks hul foute liefhet nie, maar juis weens hul manjifieke onvolmaaktheid. Dis die soort liefde wat nooit op ’n Moedersdagkaartjie uitgedruk kan word nie. Daarvoor het ons letterkunde nodig.